Verwag paradys
By Long Beach-hotel in Mauritius mag jy maar die beste verwag, want jy gaan dit kry, skryf Sean Else. Foto: Nardus Nel.
Dis -2 grade Celsius in my motor. Ek jaag na die rolprentstel met soveel lae klere aan dat ek skaars die stuurwiel kan draai om uit te swaai vir die taxi’s wat al halfses in die oggend die paaie en sypaadjies besoedel. Ek haat winter in Gauteng …
Dan kom die sms deur … ons paspoorte is reg. Ons vlieg môre Mauritius toe. Carla, my verloofde, was al daar en sy sê dit is wonderlik. Ek weet nie wat om te verwag nie. Prentjies van idilliese wit strande, skemerkelkies met sambrele en Sol Kerzner draai in my kop. Mauritius was ’n plek waarvan almal altyd gepraat het toe ek ’n kind was, maar soos die grense in 1994 oopgemaak het, het plekke soos Thailand, Maldive en Zanzibar die agtergrond geraak vir almal se vakansie- en wittebroodfoto’s.
Maar ‘n splinternuwe hotel het so pas op die ooskus van Mauritius oopgemaak – die 5-ster Long Beach-hotel. En ons is op pad soontoe om te kyk of Mauritius die verwagtinge van kinderdrome kan ontmoet. By die hotel word ons met hartlike gasvryheid ontvang met ’n warm handdoekie vir lafenis ná die reis en ons word bederf met ’n heerlike en aromatiese kerrie-mojito, ’n unieke mojito met kerrieblare pleks van mentblare.
Maar wat mens opval, is die vriendelike gesigte. Ek praat nie net van ’n glimlag van oor tot oor nie, maar ’n glimlag in die oë van elke persoon wat ons ontmoet. Dis baie spesiaal.
Terwyl ons ons mojito’s geniet, neem ons die wonderlike argitektuur en dekor in. Carla sê onmiddellik sy is mal daaroor en dis ontwerp vir die vroue-oog. Long Beach-hotel is beslis anders. Die styl is ’n elegante vermenging van moderne en tropiese argitektuur, gesentreer om ’n piazza, omring deur vier uiteenlopende restaurante.
Die gemak van toegang vanaf die piazza na die restaurante onderstreep die moderne lewenstyl waarom Long Beach-hotel draai.
Die hotel het 5 restaurante en hulle bied ’n wonderlike verskeidenheid van fusion-geregte wat wissel van pragtige, gesofistikeerde geregte by die Japannese restaurant Hasu, asook gemaklike en heerlike Chinese verrassings by Chopsticks-restaurant (die tempura-garnale met soetrissie en koljandersous was my gunsteling!).
Die Italiaanse deli-restaurant Sapori bied heerlike pasta- en ander Italiaanse geregte.
As jy die weelde van die see wil ervaar, jou tone in die sand wil steek en van die beste seekosgeregte ooit wil geniet is Tides, die strandrestaurant, die mooiste en lekkerste plek wat jy sal kry – pure bederf. Die varswater-garnale is amper so groot soos krewe en elke roepee werd!
Soos Tides is al die restaurante baie stylvol en tematies ontwerp en skree nie van oordrywing en slegte smaak nie.
David Laval, die hoofsjef van Long Beach-hotel bereik ook ’n wonderlike balans om tradisionele speserye en geregte oral in die spyskaarte in te weef. Wat ook regtig uniek is en jou oë en smaak prikkel, is die interaktiewe buffetstasie van Le Marche-restaurant.
Hier kan ’n mens pragtige en heerlike geregte geniet wat voorgesit word op ’n kreatiewe en elegante manier. Die kos by Long Beach is waarlik ongelooflik!
Balans is altyd ’n goeie ding en die Sea Spa is ‘n uitstekende teenvoeter vir al die geëtery. Die spa staan apart van die hotel en langs ’n pragtige dammetjie wat bydra tot die ontvlugtingsgevoel. Die Sea Spa bied verskeie, unieke bederwe waarvan hul spesialiteit, die Equa Massage, die stres en koue Gauteng-winter vinnig laat verdwyn.
Die kersie op die koek van die hele ondervinding by Long Beach-hotel, is die diens.
Ons talentvolle kameraman, Nardus Nel, het dit baie mooi opgesom: “Niks is vir hierdie mense te veel moeite nie”.
Ek het die voorreg in my lewe gehad om al baie plekke te kon besoek, maar die diens van Long Beach-hotel is die beste diens wat ek al ooit gehad het.
Daarby het jy ’n hotel met die mooiste en langste strand in die hele Mauritius (1 km lank) wat al die watersport aanbied waaraan jy kan dink.
Voeg dan nog ’n sport- en jeugsentrum by wat alles bied van ’n sokkerveld, tennisbane, klimmure, tafeltennis tot snoekertafels en jy beleef ’n ondervinding wat geen familie of paartjie maklik sal kan vergeet nie. Die hotel is spesiaal ontwerp om in alle behoeftes van sy gaste te voldoen.
Ek het in my lewe geleer om nie te veel van dinge te verwag nie want teleurstelling volg vinnig. Maar by Long Beach-hotel mag jy maar die beste verwag, want jy gaan dit kry.
Besoek die volgende webwerwe en wees geïnspireer: www.longbeachmauritius.com /www.sunresortshotels.com / www.tourism-mauritius.mu












Lewer kommentaar!