TREE AAN! Terug vir tweede speelvlak
Die teleurstelling van vele teatergangers wat nie kaartjies kon kry vir die uitverkoopte musiekspel TREE AAN! nie, het die vervaardigers genoop om ‘n tweede speelvak te skeduleer. Dié speelvak begin op 8 Oktober op die Operaverhoog van die Staatsteater in Pretoria.
TREE AAN! was vir teatergangers ‘n emosionele gebeurtenis waar hulle gekonfronteer is met die bittersoet herinneringe van die tyd in die weermag tydens die grensoorlog. Die hartroerendste oomblik was vir meeste die ererol van name van almal wat op die grens gesneuwel het. Steve Hofmeyr het die ervaring so opgesom: “Ek het my eerste traan al weggeknip in die eerste toneel. Toe ek daai traan wegvee kom ek met elke ander toneel agter hoe vlak die onthou lê en dat ek meestal in geforseerde ontkenning leef van daardie 2 jaar. Dat ek elke karakter op die verhoog in my “gepolishde” kaserne in Pantserskool gehad het. Selfs die oorgewig Joodse laaitie en rebelse Soutie. Dat ek selfs hul name skielik weer onthou.”
Die musiekspel het natuurlik ook vir heelwat omstredenheid gesorg toe dit die debat oor die relevansie van die grensoorlog weer oopgekrap het.
Deon Opperman, hoof-uitvoerende beampte van Packed House Productions en vervaardiger van TREE AAN!, sê daar was soveel versoeke van mense wat nie kaartjies kon kry nie, dat hy besluit het om die produksie weer op die planke te bring. “Mense het gebel om te sê dat hulle dit nog nie gesien het nie, of dat hulle dit wéér wil sien, of dat hulle hulle familie en vriende wil bring – tot sover as van Bloemfontein en Mosselbaai af!”
TREE AAN! is nou weer vanaf 8 Oktober op die planke by die Staatsteater in Pretoria. Bespreek so gou as moontlik om teleurstelling te voorkom! Besprekings by www.treeaan.co.za of Computicket takke landwyd.
Foto: Vaughan Gardiner as Christo Rautenbach iewers op die grens. Fotograaf: E Meyberg.











Lewer kommentaar!