10 minute met Dahla Hulme
Wat inspireer jou om met ou plaasgereedskap beeldhouwerke te skep?
Ek het op ’n beesplaas grootgeword met min saai-werktuie, maar wel masjinerie soos lusters en windpompe. Ek was onmiddellik verlei deur die ongelooflike lyne en vorms en teksture van die werktuie wat ek in die Oos-Vrystaat te siene gekry het. Baie plase is gewoonlik generasies al in dieselfde familie – dis ’n museum van die 19de en 20ste eeu se tegniese- en ingenieursontwikkeling in plaasmasjinerie. Daar is jare se werk gedoen met hierdie werktuie wat die land help opbou het. Daardie ure het nie net rykdom gebring nie, maar geleerdheid, werkskepping, kos op ons tafels en alles wat daarmee saamgaan. Ek wil
hierdie voorwerpe uit die verlede weer deel maak van die hede, want anders as ander oudhede, is dit vinnig besig om te verdwyn. In kombinasie daarmee werk ek ook baie
met been en skedels, hout en soms sandsteen. Dit het vir my dieselfde inherente wysheid as die plaaswerktuie. Die belangrikste elemente in my werk is egter die lyn, komposisie, balans en tekstuur. Die lyne moet skoon wees; die teksture aards en suiwer. Hout, metaal, been en leer. Ek hou van eenvoud; dus werk die werktuie vir my goed.
Hoe ontvang die publiek jou beeldhouwerke?
Mense het nogal verskillende reaksies. Die boere was aanvanklik geamuseer, maar nou kyk hulle al anders daarna, en help my selfs soek. Die mense wat my ondersteun en terselfdertyd ook inspireer om hiermee aan te gaan is die mense wat waardering het vir die
proses – dat dit nie net eenvoudig ’n lukrake bymekaarsit van voorwerpe is nie, maar ’n deurdagte samestelling van spesifieke gevonde voorwerpe. Ek dink die voorwerpe
wat ek gebruik, spreek tot enigiemand wat in hierdie land grootgeword het.
Vertel ‘n bietjie meer van jou liefde vir fotografie.
Ek hou van mooi – ’n mooi waarna ek kan kyk en kyk en ek word nie moeg daarvoor nie. Nie prentjiemooi nie, maar weer eens daardie ding van tekstuur, lyn, balans, die geheelbeeld. Ek dink hoe meer kennis mens van iets het, hoe groter word die belangstelling, waardering en respek vir die proses en eindproduk. Ek hou daarvan om
mense, die seisoensveranderinge, verskillende kulture en die lewe in Rosendal af te neem. Eenvoud.















Lewer kommentaar!