Wolf, wolf, hoe laat is dit?
Die destydse gewilde radiodrama Wolwedans in die skemer is uiteindelik verfilm. Leon van Nierop, skrywer van die radiodrama en die rolprentdraaiboek, het gaan kyk hoe dit op stel gaan.
Die assistent-regisseur van Wolwedans in die skemer, Coenie van Dyk, gil net te laat. Die boot met die peperduur kamera is besig om te kantel. Reg voor die span op die boot dreun stroomversnellings wat in ʼn diep poel stort. ’n Krokodilstert verdwyn in die poel laer af. Die kinematograaf, Tom Marais, probeer op ’n seepgladde rots balanseer en verloor sy balans.
Die boot kantel en die kamera val hom te pletter op die rotse. Tom gly-gly met die rots af in die poel. Die krokodil verdwyn agter riete. Jozua Malherbe, regisseur, los alles en hardloop om die manne uit die water te red. Die ouens van die kunsdepartement, Francois Coetzee en Waldemar Coetsee, swem bokant die stroomversnellings na ’n rots in die middel van die stroomversnellings waar die karakters moet uitklim. Net hul koppe is bo die water sigbaar. “Set moet gedress word!” roep Francois, “kom wat wil!”
Coenie en Tom strompel uit die water en klouter terug na veiligheid. Die beligters drom om die stukkende kamera saam. “R75 000 in sy moer!” brom iemand. Coenie droog sy hemp uit. “The show must go on people! Posisies vir toneel 43! Akteurs op stel! Da-a-a-a-vid!!”
David Louw, wat die romantiese hoofrol van Ryno speel, gooi sy duim in die lug op sy boot. Hy is gereed om die stroomversnellings aan te durf. Die twee meisies wat hy in die draaiboek op hierdie trippie neem, klou nie onwillig nie! Aan hom. David lag. “Kom ons doen dit, ouens. Tom-Tom, is jy reg?”
Tom, nadat hy oor die skok van die gebreekte kamera gekom het, gaan staan agter die hoofkamera saam met Drikus van der Merwe en Tiaan van Niekerk. Julia Rubenstein wat verantwoordelik is vir die akteurs se grimering, is tot by haar middellyf in die water en peuter aan David se gesig.
“Kom ons maak kuns, mense!” roep Jozua. Coenie gooi ’n blik in die rigting van die poel met die moontlike krokodil: “Ek dag ons maak ’n moewie oor ’n wolf. Wat soek die krokodille hier?” vra iemand. “Ready! Shandy! Boards!” Jaun de Jager, wat onder die meisies as McDreamy bekend staan, lig die klapbord. “Marker! Sound! Speed! Camera! Settle down, people, Sjh! Sjh! Sjh!” roep Coenie, “slate 628 take 1!” roep Mcdreamy, “and action!” skreeu Coenie.
Dit lyk soos ’n toneel uit Apocalypse now. Links staan ’n vragmotor met twee draagbare toilette en daaragter die kameramanne se bakkie met die sleepwaentjie gehak. “Ons het dit nog van die Campbells gekoop,” glimlag Riaan Hanekom, een van die beligters. Eenkant sit die klankman, Chris Allsopp, met ’n sambreel beskerm teen die sproei, oorfone om die ore. Saskia Derksen wat kontinuïteit doen, hurk agter ’n TV-skerm langs Jozua. Sy beduie na Ryno (David Louw) se klere en Jozua knik, oorfone om die ore.
Dan takel David die gevaarlike stroomversnellings vreesloos met twee gillende meisies aan sy sy. Sy oë blink opgewonde. “Dankie tog Dawid is ’n adrenalienjunkie!” grinnik Maryke Piketh, produksiebestuurder van die rolprent wat tegnies seker die ingewikkeldste Afrikaanse rolprent in jare is.
Vir die volgende drie ure word dieselfde toneel uit verskillende hoeke verfilm, en elke keer swem en draf die manne en meisies na die regte plekke. Op Wolwedans se stel loop niemand nie, kla niemand nie en mor niemand nie. Hier is ’n elektriese energie.
Wolwedans in die skemer is die rolprentweergawe van die radiotreffer van die jare tagtig – een van die eerste radioverhale wat die miljoen-luisterkerf oortref het. “Ek onthou nog,” lag Rolanda Marais wat die hoofrol van Sonja vertolk: “My ma het altyd vertel hoe sy van die skool af huis toe gejaag het om na Sonja en Adéle se bakleiery te luister. En toe sy hoor daar is oudisies het sy gesug: ‘ek wonder wie speel Sonja. Bettie Kemp het dit op die radio gedoen.’ En toe bel ek terug: dis ék, Ma!” Haar oë glinster met dieselfde energie wat van Rolanda die ideale Sonja maak. Gedetermineerd, beeldskoon en energiek.
Ek het die oorspronklike konsep as skrywer in 1980 in ’n klein tweevertrek-woonstelletjie in Yeoville uitgedink, toe Springbokradio se Francois van Heyningen my gevra het of ek nie ’n nuwe Springbokradio-storie wil skryf wat “anders” is nie. Op my Olivetti het ek binne ’n middag die storie getik van ’n ontvangsdame wat na Hotel Njala in die Hazyviewvallei toe ry, ’n ongeluk maak en geheueverlies opdoen.
Sy ontdek dan dat sy tevore by die hotel betrokke was, maar sy weet nie hoe nie. Dan ontmoet sy die ekstrovert-toergids, Ryno. Maar die ergste kom nog. Jan Joubert, (André Roodtman), die eggenoot van die eienares, Diana, (Riana Wilkens) volg haar orals. En snags word sy in die lang gange van die spokerige hotel deur ’n bylmoordenaar gejaag. Hoekom?
Hierdie moordverhaal het mense daagliks vasgenael gehou. Ek het destyds verskeie rolprent-aanbiedings daarvoor gehad, maar het besef dat diegene wat my genader het moontlik nie reg aan die ingewikkelde storie of die Laeveld-atmosfeer sou kon laat geskied nie.
Dekades later, in 2010, het iemand my gevra om tog ’n draaiboek te probeer. In Julie het Danie Bester, vervaardiger van onder meer Roepman en Hoofmeisie, daarvan te hore gekom en gevra of hy dit kan lees. Hy het dadelik daarvan gehou en dit beskryf as: “Die soort draaiboek en rolprent waaraan ek drie jaar van my lewe sal wil spandeer.” En die res word toe geskiedenis!
Toe moes ek 5 000 bladsye se radiostorie afsny na 100 bladsye. Wat moes bly en wat moes waai? Hieroor het ek, teksredigeerder Hanneke Schutte en draaiboekredakteur Henk Pretorius, asook Jozua Malherbe, die regisseur, lank gewonder. Tot die draaiboek in sy huidige vorm voltooi is.
Waldemar Coetsee, bepaald die beste kunsregisseur in Suid-Afrika, was begeester deur die draaiboek. “Nes Roepman het dit soveel uitdagings gebied!” Hy draai na my toe: “Jy het ’n juwelekissie geskep met ’n rooikappiepoppie wat draai. Ek en Josh het twee dae lank net hieroor gepraat. Hoe die kissie moet lyk, hoe die poppie aangetrek moet wees en hoe elke detail afgewerk moet word. Verskeie kissies is afgekeur tot die regte een gebou is.”
Francois Coetzee, Waldemar se assistent, ook een van die top-talente in die bedryf, grinnik: “Besef jy ek moes agter ’n klein kassie wegkruip waar die poppie “gerig” is. En nes jou draaiboek vereis dat die poppie moes draai, moes ek ’n klomp truuks uitvoer om haar op die regte tyd te laat draai en weer te stop terwyl ek buite skoot bly!”
Ons is op pad na ’n afgeleë deel van die bos tussen Sabie en Graskop. Waldemar praat oor die uitdagings wat elke toneel aan hom en die span gestel het. “Ons moes ’n boshut bou waar iemand wegkruip. Volgens jou teks is die persoon en die wolf wat in die bosse skuil dieselfde ding. Ek het dus honderde houtlatte bymekaargemaak en ek en my twee assistente het twee dae lank 48 uur lank dennebome as pilare gebruik en die hut tussen hulle gebou, kompleet met ’n deur en mos wat oor die latte groei en dennenaalde wat die dak bedek.”
Ons hou later voor die houthut stil. Nie eens ek as die skepper van die boshut kon hierdie klein kunswerk só effektief uitdink nie. Waldemar, of Wolwemar soos hy op die stel bekend staan, het ’n meesterstuk geskep. Binne-in word die hut opgemaak om elke stukkie subteks te belig wat die bepaalde tonele vereis. Wanneer Rolanda Marais as Sonja en Jacques Bessenger as Armand die hut ontdek, word een van die mure geswaai sodat die kamera vrylik in en uit kan beweeg.
“Toe ons die eerste keer hier geskiet het, was dit mistig en het dit gereën!” sê Waldemar. “Tom het rondom die hut spore gemaak vir die kamera en toe het dit gelyk of iets die hut bekruip!”
Ek gesels later met Lucia Meyer, The Film Factory se lynvervaardiger wat by Casa do Dol, waar groot dele van die rolprent geskiet word, in haar selfgeskepte kantoor ’n weermag akteurs en tegniese spanne met ’n glimlag beheer.
“Hier het letterlik nog niks verkeerd gegaan nie en ons trek al by dag 26. Behalwe miskien die kamera wat op die rotse beland het,” glimlag sy, “maar hy is darem verseker. En dan het iemand sy duim verstuit. Maar as jy kyk na die geweldige omvang van die produksie wat geskiet is teen steil kranse, onderwatertonele, woeste gevegte, ’n wolf wat in die hotel rondsluip en teen die maan huil, asook iemand wat van ’n waterval afspring en nog dialoog ook het as hy uit die poel strompel, alles in een skoot, dan is dit verbasend dat so min verkeerd geloop het!
“Ek is jammer,” brom ek, “maar ek moes getrou aan die aard van die radiostorie bly.” Lucia lag. “Ons is dol oor die storie en oor die uitdagings.”
J.P. du Preez, die hoofbeligter (gaffer), staan ook nader. Vir hom was die beligting ’n geweldige uitdaging. Dit was nie sommer net vir ’n lig aanskakel en Lelia Etsebeth as Maggie of Gerard Rudolf as Conrad Nolte laat mooi lyk nie. Dit is film noir en Jozua Malherbe het elke toneel, elke skoot, elke raampie, sorgvuldig belig om by die aard van die storie in te pas. “Geel kleure met silwer en blou het die skote oorheers,” sê J.P. “En onthou, Sonja het ’n donker kant. Ek moes dit ook in die beligting oordra!”
“En Casa do Sol?” vra ek vir Danie Bester, die vervaardiger, “het julle nie die hotel omvergewerp nie?” Danie glimlag sy gebruiklike skaam glimlag, maar sy oë is wakker en in die beantwoording van die vraag kan ek sien dat hy sommer daar, tjop-tjop, nog drie probleme in sy kop oplos terwyl hy antwoord. “Casa do Sol was wonderlik. Ons het 30 dae lank hier geskiet en hulle het ons volkome vryheid en die wonderlikste kos gegee. Selfs die akteurs het hier gebly. Want,” lag hy vir my, “jy het mos gesê jy gee die draaiboek aan The Film Factory op voorwaarde dat dit by Casa do Sol en in Hazyview verfilm word, nêrens anders nie.”
Die span neem my na die drie wolwe wat onder sproeiers in die skaduwee in hul hokke lê en wag vir hul tonele in die bos. Die grootste een spring dadelik op toe hy my gewaar. Ek vrees my laaste oomblik het aangebreek, maar hy beweeg sy stert effens en bekyk my met sy strak oë asof hy sê: ‘In hierdie hitte! Tonele in die pad in 45 grade! Jy moet befoeterd wees!’
“Die hitte!” Coenie van Dyk beaam dit “flippit! Ons het gesuffer. Maar dit was eintlik lekker, want hitte is mos deel van die storie!”
“Interessant,” mymer Jozua gedurende een van sy min vry oomblikke, “in jou draaiboek het die karakters se wêreld gaan stilstaan gedurende die jare tagtig, al speel die storie in 2012 af. Ek het probeer om daardie tydloosheid in kostuums en regie oor te dra. En dan die deurmekaarspul van die Derde Wêreld daarbuite. Hazyview se geordende chaos waar jy sommige tonele geplaas het om te demonstreer: daar is ’n koel, ysige dissipline en tydloosheid in Hotel Njala met die chaos van Afrika reg langs hulle. Dit was vir my ’n heerlike uitdaging!”
Die akteurs en span praat met die grootste lof van Jozua, die regisseur. James Trent, sy assistent met die opstaanhaartjies (hy word Eraserhead op stel genoem) bevestig dat Jozua nooit skreeu nie. Hy neem akteurs eenkant toe, soos Desirée Gardner wat die rol van die befoeterde Adéle speel, en gesels rustig met haar oor haar volgende moeilike toneel. En hy luister ook na haar voorstelle.
Dieselfde geld Karen Wessels as Berta wat ek aanvanklik in my draaiboek as naïef geskryf het, maar hierdie formidabele jong aktrise bring ’n welkome skerp en intelligente dimensie na haar toe.
Ek sit op die stoep van my huis Wolwedans net buite Hazyview, waar ek aan die roman skryf. Dit verskyn in Oktober 2012 by Tafelberg Uitgewers. Die verfilming is verby. Iemand toeter buite. Met die afstap, staan Waldemar Coetzee daar. Agterop sy bakkie is die reusagtige Hotel Njala-naambord wat altyd by Casa do Sol se ingang gestaan het. “Van die crew aan jou, Leon,” en hy oorhandig dit aan my.
En iewers, in die bosse, roer ’n frangipaniblom geheimsinnig. Dalk die wolf wat sy skepper dophou?












Fantasies.
Ek kan nie wag om hierdie rolprent te gaan kyk nie.
Dankie Leon, jy is n meester as dir kom by skrywer talent. Doet so voort!!!!7
Lewer kommentaar!