DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Reis

Koffer in Berlyn

Geplaas deur op 14.02.12Geen Kommentaar

In September verlede jaar is Phillip Crafford Berlyn toe om as argitek te gaan kyk hoe die stad nou lyk – 21 jaar nadat die twee dele van Berlyn weer een geword het.

Die vlug van München na Berlyn het aangenaam genoeg begin. Die prentjiemooi heuwellandskap met rypgeel landerye, geheimsinnige woude en diepgroen waterstroompies het vanuit die lug sonnig en vrolik gelyk. Klein landboudorpies het elke drie of vier kilometer opgedoem en die landelike rustigheid het ’n gevoel van pastorale geluksaligheid geskep. Die passasiers het genoeglik aan hul koffie geteug en aan die soetgebak gepeusel. Maar toe die Airbus begin skommel, het ons begin onrustig raak. Is die grys wolkemassa ’n aanduiding van die weersomstandighede tydens die volgende paar dae? Is Berlyn en sy inwoners ook so kil en afsydig soos dié van sommige ander stede in Noord-Europa? Wat kan ons verwag van ’n post-kommunistiese Berlyn?
Politici, intellektueles en Boheme het ’n eeu gelede hulle na Londen, Parys en Berlyn gehaas, want dit was dié plekke om in gesien te word. Londen was die hoofstad van die Empire, Parys die stad van die skone kunste en Berlyn … wel, daar kan gesê word dat Berlyn die hoofstad was van die dawerende twintigs. Wie onthou dan nou nie die musiek van Berthold Brecht, Kurt Weil, Marlene Dietrich en Hildegard Knef nie?
Elkeen van hierdie stede het sy historiese ingrepe gehad: die groot brand in 1666 in Londen het Sir Christopher Wren die geleentheid gegee om sy meesterbouwerke te lewer. Baron Haussmann het sowat twee eeue later op versoek van Keiser Napoleon III met die pragtige boulevards deur Parys se bestaande struktuur geploeg. Die argitek Schinkel het in die 1800’s sekere stedelike ontwerpbeginsels in Berlyn toegepas, maar Berlyn het ’n ander paadjie as Londen en Parys geloop – hy het twee verwoestende oorloë getrotseer en moes uit die as uit opstaan ná die bykans totale vernietiging tydens die Tweede Wêreldoorlog. Daarna het die politieke en sosiale ingrepe van die Sowjet-tydperk gevolg, wat uiteindelik uitgeloop het op die Koue Oorlog en die bou van die Berlynse skeidsmuur tussen oos en wes in die nag van 13 Augustus 1961.
Die muur het tot 9 November 1989 bly staan, tot dit spontaan deur die inwoners van Oos- en Wes-Berlyn afgebreek is terwyl die soldate van die Sowjetunie magteloos en moedeloos staan en toekyk het. Die hereniging van die twee Duitslande en daarom ook die twee dele van Berlyn, is op 31 Augustus 1990 amptelik en sonder dwang deur Oos-Duitsland sowel as Wes-Duitsland in die Kroonprinspaleis onderteken en so die moderne era van heropbou ingelui.
My besoek aan Berlyn, in September verlede jaar was spesifiek om te gaan kyk hoe Berlyn nou lyk – 21 jaar nadat die twee dele van Berlyn weer een geword het. Ek het gewonder hoe lyk Unter den Linden, die pragtige geskiedkundige hoofstraat van Schinkel nou?
Mens kom al uit die lug uit agter dat jy te doen gaan hê met ’n stad in rep en roer. Die huidige lughawe, Berlin Tegel, is nie juis geskik vir interkontinentale reise nie, en besoekers uit ’n ander wêrelddeel moet dus eers by München, Düsseldorf of Frankfurt aandoen. Wag maar net, vertel Berlyners gou, die nuwe Berlin Brandenburg-lughawe wat suidoos van die stad gebou word, gaan al die ander lughawens in die land oorskadu. So ’n allemintige bouwerk neem jare om te beplan en op te rig, maar met Duitse deug, vernuf en tegniek sal dit die seminale lughawe van Europa word.
Berlyn, die sewende grootste metropool van Europa, lê op die Noord-Europese vlakte waar die somers koel en die winters ysig is. In die week wat ons daar was, was die dagtemperatuur in Berlyn sowat 15°C en in Seville 40°C.
Die geskiedkundige hoofstraat, Unter den Linden, wat tydens die verdeling in Oos-Berlyn geval het, het die regeringsgeboue en die paleise bevat. Die keisers van die Hohenzollern-dinastie het van die paleis af in die middel van die stad langs hierdie laning uitgery onder die Brandenburg-hek deur na die paleis van Charlottenburg. Die jagveld tussen die twee paleise bestaan vandag nog ten dele as die Tiergarten, ’n park met grootliks dieselfde aanslag en funksie as Hyde Park in Londen.
Die Spreerivier wat deur die stad loop, is weliswaar sterker as die Apies- of die Hennopsrivier, maar is nie naastenby so groot soos die Seine, Hudson of Teems nie. Maar hier op die Noord-Europese vlakte is ’n bevaarbare rivier ’n groot aanwins. Die kanaalverbinding met die Baltiese See noord van die stad en die platteland suid van die stad, het al in die Middeleeue, toe daar nog nie danige paaie was nie, aan Berlyn ’n plek besorg onder die Hansa-stede van Noord-Europa.
Wes-Berlyn moes as enklave in die destydse Oos-Duitsland, homself weer ophef uit die as met net die werkywer van die Duitse volk om op staat te maak. Die Tiergarten het gebly, meeste van die hoofstrate is weer in plek maar nie noodwendig in karakter uitgelê nie, want bykans al die geboue was voos geskiet met slegs hier en daar ’n herkenbare element wat staande gebly het.
Wes-Berlyn het weer ’n middestad aangelê in die vorm van Friedrichstrasse – met aan sy onderpunt, die kontrolepunt bekend as Checkpoint Charlie – en meer wes, die Kürfürstendamm.
Prominente argitekte is genooi om die stad te kom herontwerp, tydskrifte soos Schöner Wohnen het uit Hamburg artikels gepubliseer om Berlyn te bevorder en aan die einde van die jare vyftig was daar al merkbare vordering met die heropbou van die stad ná die oorlog.
Die Kaufhaus des Westens beter bekend as die KDW, naby die Ku’damm, is ’n tamaaie afdelingswinkel wat roem op sy sowat driemiljoen items wat te koop aangebied word. Die nuutste en beste in huishoudelike ware, klere, tekstiele, noem maar op, is daar te kry.
Albei bogenoemde strate met kantore, afdelingswinkels en burgerlike bouwerk weerspieël vandag grootliks die post-moderne styl van die laat twintigste eeu. Die aansluiting van straat en gebou is tipies modern – groot winkelvensters tot op sypaadjievlak en huurders soos Prada, Zara en Galleries Lafayette.
Langs die Ku’damm is daar straatkafees met rye en rye tafeltjies, roomysstalletjies en eetplekkies. Moet net nie intieme straatjies, binnehofies en verandas by die meer sentrale dele verwag nie, want dit bestaan sedert die Tweede Wêreldoorlog nie meer nie. Berlyn is dus ’n moderne stad met enkele, goed gerestoureerde ouer elemente. In sommige van die voorstede, veral Schöneberg, Kreuzberg en Charlottenburg sal mens nog intieme kafeetjies, bakkerytjies en kroegies kry. Die intimiteit van die middestad soos in Madrid of Parys of ander stede wat ’n historiese komponent bevat, bestaan helaas nie meer hier nie.
Daar is heelwat geboue met fasades wat in ruitpatrone uitgelê is, sigbetonmure en plat, gelykvlakkige aansigte, maar die behoefte aan moderne energiebewuste ontwerp noop argitekte om vernuwend te dink soos om dubbelruite en bykomende isolasie te gebruik.
Die Bauhaus-museum langs die Landwehr-kanaal verleen met sy wit skulpturele betonvorms visuele uitdrukking aan sale wat van die oorspronklike Bauhaus-produkte uitstal: meubels, tekstiele, huishoudelike ware en ook nywerheidsontwerpe. Maar op enkele uitsondering na volg die moderne geboue, veral dié van die afgelope tien of vyftien jaar, die glasargitektuur-idioom waar dubbele en driedubbele glasmure, met ragfyn, deursigtige metaalbespuiting, genoeg isolasie gee om selfs die strengste energiewette te eerbiedig. Die strewe is dus om soveel lig moontlik deur te laat terwyl hitteverlies bekamp moet word.
Die pronkstuk van eietydse Berlyn is die Potsdamer Platz met die Sony Centre. Hierdie stadsdeel wat braak gelê het tydens die Koue Oorlog, en wydsbeen oor die skeidslyn geleë was, is in 1991 herontwerp. Dit bevat ’n versameling glasgeboue wat rondom ’n binneplein gegroepeer is en bedek is met ’n glaskoepel en kunsdoekvinne om die ergste blikkering van die somerson te temper.
Die skouspel van die ontwerp herinner aan ’n dekorstel uit ’n wetenskapfiksierolprent, en kantore, rolprentteaters, restaurante, die Marlene Dietrich-versameling van die rolprentmuseum en winkels is deel van die sentrum. Mens kan dae hier deurbring, en jou aan die elektronika van die plek verlustig. Potsdamer Platz was op sy dag die bedrywigste bouterrein in Europa, en Berlyn as stad beklee waarskynlik steeds die eerste plek.
Buitelandse en veral Britse argitekte was betrokke by die nuwe ontwikkelings in Berlyn –
Renzo Piano en Helmut Jahn by Potsdamer Platz, Norman Foster by die Reichstag en David Chipperfield by die Museum-eiland.
Van al die moderne geboue hou ek die meeste van die Nasionale Biblioteek en die Filharmoniese Saal wat albei deur Hans Scharoun ontwerp is en naby mekaar is. Albei getuig van ’n aanvoeling vir materiaal, menslike skaal, vorm, kleur en tekstuur wat nie maklik by eietydse boukuns te vinde is nie.
Die gerestoureerde Reichstag met sy glaskoepel waarlangs mens met ’n skuinshelling kan afloop en afkyk op die parlementêre sitting daaronder, kan slegs besoek word tydens sitting en indien jou paspoortbesonderhede vroegtydig aan die besprekingskantoor deurgegee word. Die besoeker is immers trefafstand van die parlementslede af.
Die museum-eiland in die Spree, oos van die middestad, bevat vyf museums wat van sowat 1830 tot 1930 dateer. In die dae toe dit mode was vir die koloniale moondhede om te gaan haal wat hulle wou hê, is die dorpie Pergamom in klein Asië beroof van ’n tempel en ander bouwerk uit wit marmer. Daar pryk ook ’n poort van Babilon, Romeinse mosaïeke en vele meer. Die moderne denkwyse, wanneer daar met oudhede omgegaan word, is dat dit in die plek van oorsprong bewaar moet word, sodat die konteks nie verlore raak nie. Maar ironies genoeg was dit dalk juis die rowery wat die artefakte bewaar het teen die aanslae van besoedeling en onverantwoordelike besoekers se graffiti. Lord Elgin, wat in 1801 die friese van die Parthenon laat afhaal het, het hom destyds die gramskap van sy kollegas op die hals gehaal, maar in 1816 het die destydse Engelse regering omgeswaai, die stukke by hom oorgeneem en dit laat uitstal in die Britse Museum, waar dit vandag nog pryk. Ander pragstukke wat vir die publiek uitgestal word in hierdie groep museums is onder meer die borsbeeld van Nefertiti, werke van Vermeer en Rembrandt en ’n pragtige versameling Egiptiese voorwerpe.
Volgens die inligtingsborde by die museums het die Duitse staat tot dusver meer as 1,5 miljoen euro aan hierdie UNESCO-wêrelderfenisterrein spandeer, aangesien dit uniek in die wêreld is en vele besoeke werd is.
Maar hierdie moderne stad kort die emosie en warmte van byvoorbeeld Stockholm en St. Petersburg, om dit meer mensvriendelik te maak. Dis natuurlik te sê as jy verby die skouspel van Duitse vaardigheid wíl beweeg.
Toe Hildegard Knef gesing het van die koffer in Berlyn, het sy kennelik die meer intieme, romantiese plekkies, pleintjies en stegies van die vooroorlogse stad in gedagte gehad. Maar as mens meer sou wou weet van die jongste boumetodes, energiebewuste ontwerp en vorderings op die gebied van materiale en glas, moet Berlyn bo-aan die lys wees. Dis daardie soort plek.
Vir spys en drank
Vanweë sy kosmopolitiese aard kan mens wêreldkos te wagte wees, en kry dit ook. Die hotelontbyt is selfdiens. Mens kan kies van varsgesnyde vrugte tot jogurt, broodrolletjies en roereier. Die tradisionele Konditorei met sy soetgebak, verskeidenheid koffie en bier en rokerige atmosfeer is nog in die voorstede te kry, maar stalletjies met Berlynse spesialiteite soos Currywurst, Eisbein en Pfannkuchen is oral te vinde, selfs in moderne inkopiesentrums. Immigrantewerkers uit die Arabiese wêreld en Turkye, verkoop döner kebab en falafel by stalletjies langs die pleine en vergaderplekke soos metrostasies en straathoeke.
Pak jou tasse
Hoe kom jy daar? Suid-Afrikaners kan direk na Duitsland vlieg, en Lufthansa en SAA vlieg daagliks na Frankfurt en München. Dit kos sowat R7 000 retoer, afhangend van hoe lank vooruit die bespreking gedoen is, maar interne vlugte in Duitsland vanaf hierdie twee lughawens na Berlyn is duur. Die vlug van sowat ’n uur kos maklik R4 000 retoer, so gebruik liewer jou Voyager-myle daarvoor.
Papierwerk
’n Schengen-visum is ’n vereiste en dit kan ’n week of twee duur nadat al die papierwerk ingedien is. Omvattende inligting word benodig, bankstate, brief van die werkgewer in Suid-Afrika om te bewys dat jy ’n werk het om na terug te keer en nie daar gaan leeglê nie en nog vele meer vereistes moet maar betyds aan die ambassade in Pretoria besorg moet word. Gaan kuier eers op die webwerf van die ambassade voordat jy daarheen ry. Dit sal die proses bespoedig.
Bly hier
Die webwerf booking.com het soos gewoonlik uitstekende aanbevelings gehad. Die moderne Hotel Grimms bied uitstekende losies aan met ruim kamers en goeie ontbyt teen sowat €90 vir ’n dubbelkamer. Dit is sowat 15 na 20 minute se stap van die Museum-eiland af, met die naaste moltreinstasie, Spittelmarkt, sowat 10 minute se stap weg. Vanaf Spittelmarkt is dit net ’n hanetreetjie met die metro na Stadtmitte wat jou in die middel van Friedrichstrasse sal besorg.
Die weer
Die Noord-Europese weer is nie bekend vir sy lang ure sonskyn nie, selfs nie in die hartjie van die somer nie. Vir somer, son en saffier moet jy Spanje toe. Mens besoek Berlyn vir wat hy bied, maar nie vir gesinspret in die sonskyn nie. Gaan kyk gerus na die temperatuurkaart: koel in die somer en ysigkoud in die winter. Neem maar ’n baadjie saam al gaan jy in die somer en hou maar die opvousambreeltjie byderhand ongeag die seisoen.
Geldsake
Kostes in Berlyn kan nogal wissel. As jy eet waar die inwoners eet, kan jy wegkom met €15 vir ’n bord pasta of ’n groterige pizza en koffie, maar die 12 restaurante in Berlyn wat Michelin-graderings het, kan jou laat snak na jou asem. ’n Cappuccino kos sowat €3 tot €7, afhangend van waar jy dit drink.
Jou kredietkaarte is oral welkom, maak net seker dat dit tuis by die bank ingeskryf is voor jou vertrek, anders sal die verleentheid van ’n geblokte kaart jou lelik in die skande bring. Ek het baie jare laas anders gereis as met ’n klompie kontant en een of twee kredietkaarte. Dis maar hoe die wêreld deesdae werk.

Be Sociable, Share!

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.