Wynnuus
Rivierpiekniek
Raak rustig onder die eikebome op Holden Manz tussen twee riviere net buite Franschhoek. Pak dié piekniek aan soos mens móét: met piekniekmandjie, tafeldoek, servette, eetgerei en borde en lê weg aan humus, tzatziki en olywe, gevolg deur ’n porsie hoenderlewerpatee op bros, varsgebakte brood, slaaie, charcuterie, lendestukke, hoender, plaaslike kase en konfyte. Om jou al fresco-fees af te sluit, is daar liplekker nageregte en heerlike sjokolade-bruintjies. ’n Piekniek kos R145 per persoon met ’n spesiale spyskaart vir kinders teen R45 per kind. Bespreek by 021-8762729 of e-pos wayne@holdenmanz.com.
Vuurwarm
James Molesworth, senior redakteur van Wine Spectator het 93 punte toegeken aan die Buitenverwachting Maximus 2009, ’n sauvignon blanc/sémillon-versnit. Die wyn word gelys as een van ses van die warmste wyne in die mees onlangse Wine Spectator Insider die enigste Suid-Afrikaanse wyn onder dié ses gunstelinge.
Lus vir Jazz?
Ontspan elke Donderdagaand met kos, wyn en rustige jazz op die grasperkte van Haute Cabriere. Teen R99 per persoon ontvang jy ’n bord met ligte versnaperings en wyn kan teen kelderprys geniet word. Bespreek by 021-876 3688 of e-pos restaurant@cabriere.co.za.
Sensasionele Shiraz
’n Shiraz vir elke palet, dís wat Die Bergkelder in Stellenbosch jou op 1 Maart vanaf 17:30 tot laat bied. Wynmaker Guy Webber bied die interessante proe aan met gunstelinge soos Lomond Conebush Shiraz 2007, Lomond Syrah 2008; Plaisir de Merle Shiraz 2008, Nederburg Manor House Shiraz 2006, Fleur du Cap Shiraz 2009, Durbanville Hills Shiraz 2006, Stellenzicht Golden Triangle Shiraz 2007, Zonnebloem Limited Edition Shiraz 2007, Tukulu Shiraz 2005, Allesverloren Shiraz 2009 en Alto Shiraz 2003. Die proe kos R60 en ’n ligte aandete word voorgesit na afloop van die proe. Bespreek by 021-809 8025 of e-pos info@bergkelder.co.za.
Woorde en wyn
Maak ’n draai by Neethlingshof vir die Slenterfees wat deel is van die jaarlikse Woordfees. Die Slenterfees is ’n buiteligfees en op 4 Maart kan jy ’n braai, kos-en-wyn-bespreking en musiekkonsert teen sonsondergang geniet vir slegs R250 per persoon. Skakel 021 809 8481 vir meer inligting en besprekings.
Blou musiek
Kleinmond se Harbourstraat gaan eerskomende Vrydag en Saterdag kook tydens die Big Blues-fees. Du Toitskloof se wyn sal die gaste in die regte stemming kry terwyl die kunstenaars soos die Boulevard Blues Band, Dan Patlansky and the Blues Broers, asook Natasha Meister, Charlie King, Vusi Mahlasela en Monique de Jager gaste sal vermaak.
MasterChef kom Paarl toe
Nederburg gaan op die meeste mense wat van kos hou se lippe wees wanneer MasterChef op 20 Maart op M-Net afskop. Die kelder het sy Johann Graue-veilingsaal as kombuis uitgerus waar die finaliste hul slag voor die stoof gaan wys.
Vonkelplesier
Welbedacht, Schalk Burger en Seuns se wynhandelsmerk, het ’n nuwe vonkelwyn uitgereik genoem na die enigste roos tussen die dorings op die plaas, René. As enigste suster van die bekende Wellington-broers is hierdie wyn blykbaar net so sprankelend soos René se persoonlikheid en haar uitkyk op die lewe.












Lewer kommentaar!