Die woorde van ‘n vrou
Ek is nie daarvan oortuig dat mense na uittreksels van skrywers se werk wil luister nie. Of dalk is dit net ek. Ek dink byvoorbeeld dat die stukke wat uit Marie Heese se werk op die Woordfees voorgelees is, te lank was. Dit het my ná ’n tyd begin verveel – nie omdat dit slegte skryfwerk is nie, of dat die voorlesing swak was nie. Inteendeel, Bettie Kemp, wat spesiaal genooi is om Heese se werk voor te lees, het haar goed van haar taak gekwyt, skryf Johan Liebenberg. Die probleem is dat jy skielik met ’n teks gekonfronteer word, sonder dat jy die konteks ken (of ek in elk geval). Nietemin, Marie Heese, die dogter van Audrey Blignaut is ewe tuis in Engels én Afrikaans en skryf dikwels oor sterk vroue. Soos byvoorbeeld, The double crown, wat 1500 v.C. afspeel, en handel oor Hatshepsut, wat eers ’n prostituut was en uiteindelik “koning van Egipte” geword het. Dis interessant dat sy aangedring het om as “koning” bekend te staan, en nie “koningin” nie. Afgesien van haar uiters gewilde kinderboeke, is Marie Heese se bekendste werk Die uurwerk kantel wat klassieke status bereik het. Mense is nuuskierig oor skrywers. Selfs skrywers is nuuskierig oor ander skrywers. Blykbaar het haar ma van vroeg af al Marie se mening oor haar artikels gevra. Marie sou dan byvoorbeeld antwoord. “Dit is goed, maar die einde is nie sterk genoeg nie.” En haar ma het ag geslaan op wat sy gesê het. Dit was interessant. Maar ek het gewens ons kon nog meer hoor. Weer eens, myns insiens was die voorlesing te lank. Die huldeblyk is afgewissel met ’n lied wat deur die sangeres, Luna Paige, gekomponeer en uitgevoer is. Interessant dat die lied gebaseer is op André P. Brink se Die ambassadeur. Dit is blykbaar wat sy doen – en dit is, volgens haar, uniek: sy baseer van haar komposisies op romans. Ek moet erken dat die meesleurende klavierspel, die verlange in haar stem, vir my die emosionele klimaat van die boek herskep het. Ter afsluiting: iets oor Die Woordfees self wat nou einde se kant toe staan. Die Woordfees behels veel meer as net ’n klompie mense wat in ’n lesingsaal sit en luister na iemand op ’n verhoog. Daar heers ’n gevoel van gemeensaamheid; jy voel jy kan iemand op die skouer tik en ’n gesprek oor boeke aanknoop. En oral is ’n bruisende energie en geesdrif te bespeur – om die tafeltjies in die tuine, waar wyn gedrink en dinge bespreek word, op straat, en onder die statige ou akkerbome – in wat seer sekerlik as die land se mooiste groot dorp beskou kan word. Dit maak van die fees ’n unieke, onvergeetlike ervaring.












Lewer kommentaar!