DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Wyn

Wynnuus

Geplaas deur op 27.03.12Geen Kommentaar

Beste generiese wynliggaam Robertson Wynvallei, die generiese liggaam wat hierdie wynstreek se bemarking doen, is aangewys as die Beste Generiese Wynliggaam tydens die Drinks International Wine Tourism Awards 2012. Hierdie wynroetes het 55 lede en hou vier wynfeeste deur die jaar. Vir Elizma Spangenberg, bestuurder van Robertson Wynvallei, is hierdie toekenning beslis ’n pluimpie in die hoed. “Nege jaar gelede is die ontwikkeling van wyntoerisme as een van ons hoofdoelwitte geïdentifiseer. Sedertdien was ons uiters suksesvol om die Robertson Wynvallei as handelsmerk, beide plaaslik én internasionaal, uit te bou.” Volgens die beoordelaars kompeteer Robertson met Paarl, Stellenbosch en Franschhoek wat heelwat nader aan Kaapstad is, maar ten spyte hiervan het die streek met sy beperkte bronne homself suksesvol as oorspronklik en sexy bemark!

Pinotage met lae sulfiet Stellenzicht het pas sy Cellarmaster’s Release-reeks met wyne sonder bygevoegde sulfiet uitgebrei met ’n 2009 Pinotage. Die druiwe vir die nuwe wyn is geoes van ’n klein gebied in die middel van ’n bosstokwingerd waar die stokke weliger as elders gegroei het. Die sap is op die doppe gegis terwyl appelmerksuurgisting spontaan plaasgevind het voor die wyn vir 19 maande in vate van 300 liter verouder is. Hierdie pinotage – ’n volronde wyn – kan vir ’n verdere vier tot ses jaar op sy toppunt bly, mits dit behoorlike geberg word. R125 per bottel.

Top-10 Die Durbanville Hills Rhinofields Chardonnay 2010 is aangewys as een van die beste 10 chardonnays by die 19de jaarlikse Chardonnay du Monde in Boergondië, Frankryk. Die internasionale paneel van beoordelaars het 908 wyne uit 43 lande geproe wat die beste en mees diverse wynproduserende lande in die wêreld verteenwoordig. Durbanville Hills se goue medalje-wyn deel die top-posisie met wyne uit Oostenryk, Argentinië, Chile, Spanje, Italië, die Tsjeggiese Republiek en Switserland. Die wyn het 12 maande in houtvate deurgebring, en volgens die keldermeester, Martin Moore, is die vate elke twee weke gerol en dit het al die verskil gemaak en verseker dat die wyn die aandag kry wat dit verdien. R95 per bottel.

Pienk plesier Boland Kelder se maklik drinkbare wyne wat ook ekovriendelik is, is uitgebrei met ’n prettige en vrugtige rosé, die nuutste toevoeging tot hul Flutterby-wynreeks. Die ligte bottels met skroefdoppe in die reeks was ’n treffer by ekobewuste verbruikers. Die wynstyl van die reeks komplementeer die liggewig-verpakking met die sauvignon blanc se fris, varsheid en tropiese geure. Die merlot is weelderig en sag met subtiele houtondertone wat die vrug uitstekend komplementeer. Die rosé se nostalgiese pienk skoenlapper op die etiket weerspieël die sappige vrug van hierdie wyn. R29.99 per bottel.

Sag op die tong en beursie False Bay, ’n reeks sakpas dog gehalte-gedrewe kultivarwyne van egte, unieke karakter en volop Kaapse terroir-avontuur, het so pas sy jongste 2011 chenin blanc- en shiraz-oesjare uitgereik. Die False Bay Chenin Blanc 2011 is afkomstig vanaf bosstok-wingerde in die Swartland wat wyn met ’n grasieuse karakter, fyn struktuur met mineraalagtige finesse, skep. Die shiraz kom van wingerde wat wyn lewer van merkbare elegansie, fyn tekstuur en finesse en die diep rooi grond waarin hul geanker is, dra by tot die shiraz se soepel, speseryagtige karakter. Die False Bay Chenin Blanc 2011 en False Bay Shiraz 2011 is beskikbaar vanaf R55 per bottel, direk vanaf die Waterkloof-kelder of landwyd by uitgesoekte wynhandelaars en supermarkte.

Be Sociable, Share!

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.