Wynnuus
Alphabetical Wine het vir die eerste keer ooit ’n wynetiket ontwerp wat spesifiek gerig is op mense wat kleurblind is. Die etiket is baie subtiel aangepas: vir mense wat kleur kan sien, lyk die etiket gewoon na ’n pragtige en sierlike ontwerp wat in donker ink gedruk is terwyl dié wat kleurblind is presies dieselfde sien. Hoewel die wyn dieselfde versnit as altyd is, is die etiket aangepas deur die nuutste digitale pigmentasie-tegnologie en navorsing van Londen se Applied Vision Research Centre.
Vir die tweemanskap, David Cope en Simon Wibberley, ’n analfabeet, wat agter die vernuwende ontwerp sit, was die rede vir die slim etiket eenvoudig: “Daar is meer mense wat kleurblind is as wat mens dink. Hierdie etiket is juis vir daardie mense ontwerp. Die etiket van ʼn bottel wyn is ’n integrale deel van die wynervaring, so hoekom kan mense wat kleurblind is nie dieselfde ervaring hê as ander nie?”
Bekende kleurblindes sluit Paul Newman, Bill Clinton, Jack Nicklaus en Meatloaf in.
Verken die wêreld met Two Oceans
Two Oceans-wyne, wat in meer as 80 lande verkoop word, hou ’n Kaapse reisiger geselskap wat vanjaar 75 stede in 25 lande gaan besoek. Liam Kelly het sy reklame- en bemarkingstudies ’n jaar lank opsygeskuif om die wêreld 12 maande lank plat te reis. Hy het 4 000 ander deelnemers geklop in ’n kompetisie om gekies te word as die Wêreldverkenner van 2012. Die kompetisie word deur STA Travel South Africa geborg.
Hy is die eerste Suid-Afrikaanse wenner van hierdie jaarlikse kompetisie wat hom in staat stel om elke vasteland te besoek en talle bekende en minder bekende stede en besienswaardighede te verken. Hy vertel gereeld van sy reise en bied met sy kenmerkend spitsvondige skryfstyl by www.whatsupliam.com, www.whatsupcapetown.com en www.worldexplorer.co.za nuwe insigte oor die natuurverskynsels, interessante gebeure, mense en wonderlike eetplekke wat hy teëkom. ’n Mens kan hom ook by @liamwhatsup op Twitter volg. (Sien foto)
Jackie Olivier, Two Oceans se globale bemarkingsbestuurder, het gesê die handelsmerk se wêreldwye sigbaarheid pas goed by Liam se reise. “Landwyd versinnebeeld Two Oceans die tipies ontspanne Suid-Afrikaanse gulheid en gasvryheid waarvoor die land so bekend is.”
Ekstra lig
Robertson-wynkelder het pas sy eerste ekstra ligte rooiwyn wat van ’n enkeldruifsoort gemaak is, die Robertson Winery Extra Light Merlot 2011, uitgereik. Met slegs 9,13% alkohol/volume verloor die wyn geensins van sy varsheid of vrugtegeure nie en is dit omtrent 30% ligter in alkohol teenoor Robertson se gewone merlot. Vir die wat kilojoules tel, is hierdie wyn net die regte ding. Wynmaker Jacques Roux beskryf die wyn as ’n wyn vir mense wat gesond wil lewe. Die wyn het sterk pruimgeure asook moerbei, kaneel, speserye en soet swart kersies op die neus wat goed oorloop in smaak. Vir Jacques gaan die wyn perfek saam met pluimvee, rooivleis, pasta of slaai.
Hierdie reeks “ligte” wyne uit die Robertson-stal sluit ook ’n sauvignon blanc, chenin blanc en pinotage rosé in. Die Extra Light Merlot kos R45,95 by die kelder.













Lewer kommentaar!