Bekende sjef kook vir Nederburg
Pete Goffe-Wood, bekende en gewilde sjef en kos-alchemis, sal vanjaar bontstaan met die middagete-spyskaart tydens die jaarlikse Nederburg-veiling, dié spoggerigste geleentheid in die wynbedryf.
“Ek’s geërd om deel te wees van so ʼn spoggeleentheid en met so ʼn heerlike sensoriese tema “Ontdek jou sintuie” sien ek behoorlik uit daarna om meesterlike en magiese geregte vir die gaste te skep.”
Wyneer aan Mandela
Weltevrede-wynlandgoed het die taak vir homself opgelê om ’n besonderse wyn vir Nelson Mandela vir sy 94ste verjaardag te maak. Die storie het sewe jaar gelede al begin toe ou wingerde in die tronk se tuin op Robbeneiland ontdek is waar Mandela sy handgeskrewe manuskrip, Long Walk to Freedom, begrawe het.
Die Weltevrede Aansporingstrust, ’n bemagtigingstrust van wynbouers wat reeds vir geslagte die wingerde bewerk en wyn op Weltevrede gemaak het, het aangebied om die wingerde op Robbeneiland te versorg. Dit was nie ’n maklike taak nie en het heelwat vroeë oggendreise na die eiland gekos, harde werk, snaakse weer en rowwe see oor twee oesjare heen. Ná drie jaar se vertroeteling van die wingerd, het vanjaar die eerste oes van 182 kg druiwe opgelewer. Wyn is hiervan gemaak en die heel eerste bottel is as geskenk aan Mandela op sy verjaardag gegee.
Ikoonstatus
Die bekende Suid-Afrikaanse handelsmerk, J.C. Le Roux, is vir die tweede maal aangewys as die land se voorste handelsmerk in die 2012 TGI ICON Handelsmerkvraelys. TGI ICON-handelsmerke is tipiese Suid-Afrikaanse handelsmerke wat geliefd is, ’n lojale gevolg geniet en wat ’n gedeelde ervaring in die harte en gedagtes van verbruikers geniet ongeag hul kulturele agtergrond, inkomstevlak of taalverskille.
Vat dit rustig
Slegs 90 minute se ry van Kaapstad af wag die genot van die lewe se eenvoudige plesiertjies, naamlik die Robertson-wynvallei se fees vir ontspanning. Tydens Robertson Slow kan besoekers egte, outydse, plattelandse gasvryheid sinoniem met die Robertson-wynvallei se wynmaakgemeenskap geniet.
Verlustig jouself in tradisionele kos, gemaak van bestanddele uit die vallei, geniet wynproeë en eiesoortige etes in die huise van die plaaslike wynmaakgesinne, bemeester die kuns oor hoe om wyn te versny, maak jou eie gnocchi of geniet ’n storievertelaand deur pioniers van die Robertson-wynvallei.
Besoek www.robertsonslow.com of kontak 023-626-3167.
Bobaas-brandewyne
Suid-Afrika se vermoë om buitelandse beoordelaars te beïndruk, duur voort. Fine Brandy. By DesignTM en ander brandewyne in Distell se portefeulje van spesialisbrandewyne het by die 2012 International Wine Challenge (ISC) in Londen puik gepresteer en drie goue medaljes en ’n hele rits silwermedaljes ingepalm.
Vanjaar was die 17de keer dat die ISC aangebied is. Bykans 1 000 inskrywings is van 70 lande ontvang. Van die voorste internasionale meesterdistilleerders het as beoordelaars opgetree. Neil Mathieson, voorsitter van die kompetisie se afdeling vir brandewyn, konjak en armagnac, het reeds verskeie kere kommentaar gelewer oor die uitnemendheid van Suid-Afrika se brandewyne wat aan van die strengste standaarde te wêreld onderhewig is.
Die goue medaljes wat Fine Brandy. By DesignTM huis toe gebring het, was vir Van Ryn’s se gevierde 12 Year Old-potketelbrandewyn, wat al talle internasionale medaljes en trofeë gewen het, en Klipdrift Gold, een van die mees geliefde fynproewersbrandewyne in die land. Die derde goue is aan Richelieu Export toegeken.











