Die beste vyf
Die SA Terroir Top 5 Landgoedwyne is deur ’n paneel van sewe ervare wynkenners gekeur uit 276 inskrywings (die meeste ooit) vir die sewende jaarlikse Novare SA Terroir Wyntoekennings.
Suid-Afrika se vyf top-landgoedwyne is Groot Constantia Chardonnay 2011, Kaapzicht Steytler Pentagon 2008 (rooi versnit), Kaapzicht Steytler Pinotage 2008, Neethlingshof Short Story Collection Maria 2011 (natuurlike soet) en Wildekrans Chenin Blanc Barrel Selection 2010.
Uit al die inskrywings van landgoedwyne word die top-wynlandgoed aangewys en die wenner van die 2012 Novare-trofee vir SA Terroir Top Wynlandgoed is Wildekrans Landgoed tussen Grabouw en Elgin.
Die fokus van die jaarlikse Novare SA Terroir-wyntoekennings is op die produsente wat met ’n passie wynterrein-perfeksioniste geword het. Dit is die perfekte kombinasie van grond, klimaat, wingerdbestuur en wynbereiding. Slegs wyne gesertifiseer as ’n Wyn van Oorsprong (WO) van ’n enkelwingerd, landgoed, wyk of klein distrik wat nie in wyke verdeel is nie kan ingeskryf word.
Die wynbouterrein wat die meeste top-wyne opgelewer het, is ook vir die derde jaar vereer. Die wenner van die 2012 Novare-trofee vir SA Terroir Top Wyngebied is toegeken aan Stellenboschkloof in die Stellenbosch-distrik.
’n Weelderige stop
Die Views Boutique Hotel en Spa, deel van die Mantis-stal, het pas ’n prys vir uitnemendheid ontvang deur die reuse-reisagentskap, Trip Advisor, vir vyfster-gasvryheid en diens. Hierdie hotel is geleë in die Wildernis bo-op ’n klipperige koppie en intimiteit en weelderigheid is sinoniem met hierdie pêrel van die Tuinroete. Besoek www.mantiscollection.com vir meer inligting.
Wie’s jou Daddy?
Vrouwees was nog nooit lekkerder as nou nie, veral by die Grand Daddy Hotel se vroue-aand op 23 Augustus. ’n Formele aandete, geskenkpakke en musiek van DJ Damon Beard van East Coast Radio in Durban is van die lekkernye om na uit te sien. Slegs 60 plekke beskikbaar teen R1 000 per persoon. Besoek www.granddaddy.co.za vir ’n onvergeetlike stads-extravaganza.
Fairtrade vlieg hoog by Olimpiese Spele
Soos sportgeesdriftiges saamspan tydens die Olimpiese Spele kan Fairtrade-produsente terugsit en glimlag as hul produkte aan miljoene besoekers tydens die Spele voorgesit sal word. Twee van die drie wyne wat tydens die 2012 Spele voorgesit sal word, kom van Stellenrust in Stellenbosch, die Fairtrade Chenin Blanc en Rosé. Die Fairtrade Ontwikkelingspremium van R450 000 wat hieruit ontvang sal word, sal gaan na die plaaswerkers van Stellenrust waar die premium gewoonlik op opvoeding en infrastruktuur bestee word.
Walvisse en wyn
Môre skop die Hermanus se Kos-en-Wynfees af met als wat lekker is met betrekking tot spys en drank. En as jy gelukkig is, kan jy selfs’n walvis ook gewaar. Teen R95 per persoon sal die wyne van die Overberg jou maklik oorrompel. Kontak Cathy du Toit by 028 316 3988 of besoek www.hermanuswineandfood.co.za.











