Eenkantboom
Die dinge waaraan hy veronderstel is om te behoort, het hy nie gekies nie. Soos Suid-Afrikaanse burgerskap en ABSA-bank. Willem Boshoff wil aan niks gebonde wees nie, maar eerder loop waar niemand loop nie, skryf Melanie Tait.
Willem Boshoff se huis staan op ’n reuse-klipheuwel in Kensington, Johannesburg. Amper uitgekerf. ’n Storieboekhuis soos die bekende Spadenahuis in Kalifornië. ’n Huis vol aandenkings, boeke, woorde, vingerhoedens, honde, dobbelstene, skale, wyshede en verhale.
Hy het in 1982 ingetrek en 20 bome geplant. Van die bome het al intussen in kunswerke verander, die res, groei voort vir hul meester, die druïde.
Boshoff is ’n skrywer, filosoof, konseptuele kunstenaar, samesteller van sy eie woordeboeke – waarvan hy die eerste een in 1977 geskep het – versamelaar van woorde, pasifis, navorser, kenner van plante, bome, hout en klip, die Bybel en musiek. Hy ken nimfe by hul Griekse name en staan verwonderd voor die wêreld en hoe lig deur wolke val.
Maar dit vir hom altyd ’n netelige ding om uit te werk wat hy is (of nie is nie). Sy werke is altyd verweef met teks, tekstiel, tekstuur en die natuur. Dit is beeldhoukonstruksies, installasies, konkrete poësie, betekenisvol en neem gewoonlik dae, maande se navorsing. Iets wat vir hom baie belangrik is, veral as dit by bome en plante kom. Soos die Japanse kersiebome wat hy op sy rekenaarskerm wys. Hy het foto’s van dié delikate bome by die nasionale kersieboomfees in Washington afgeneem.
Dit is vir hom belangrik om eerstehandse kennis van sy onderwerpe te hê. “Jy moet moeite doen om die regte ding te sien. Kyk, voel, skryf die name neer en staan verwonderd. Kyk hoe val die lig. Watter effek het dit op jou? Baie mense het bome en blomme om hulle, maar hulle kyk nie.” Jy moet heeltyd soek en kyk, beklemtoon hy op sy sagte reusmanier.
John Cage, die eksperimentele komponis en kunstenaar, het opgemerk dat ’n mens nie na ’n woud moet gaan om iets te gaan soek nie, maar om te gaan kyk wat daar is. Willem soek, ervaar en kyk. So teken hy al plante en bome alfabeties op vanaf 1982. “’n Druid moet die name ken en loop waar niemand loop nie.”
Druïdisme is ’n stelsel van godsdiens, filosofie en onderrig van die druïdes wat die bewaarders was van die voor- of vroeë Keltiese gelowe. Die natuur speel deurgaans ’n sentrale en baie belangrike rol in sowel die antieke as die moderne druïdisme. Die natuur word beskou as ’n wese (entiteit) of krag wat die ontstaan, groei en aard van alle lewe bepaal. Soos ander Neo-Paganiste glo druïdes nie in die hemel of hel nie. Sommige glo dat ’n mens se siel soos ’n vonk is wat uit die bron van die lewe wegspat.
Die term, druïde, afgelei van die Griekse term “Drus”, beteken eik en dit is presies wat Willem is – ’n eikeboom. “My wortels is in die grond en my takke in die hemel.” Hy lees ’n aanhaling van die Bengaalse digter, Tagore: “Die gras soek haar vermenigvuldigheid op die aarde en die boom soek sy eensaamheid in die hemel.”
Dit is ook waarop sy kunswerk Tien teen een (op uitstalling by SMAC in Stellenbosch) konsentreer – eenkant wees. “Niks groei in die skaduwee van ’n boom nie. Jy moet eenkant wees en vir jouself kan dink.”
“Ek behoort nie aan ’n spesifieke politieke party, geloof of kerk nie. Ek behoort nie aan enige klub of instansie nie. As kunstenaar behoort ek aan geen kunsgalery nie. Elke uitstalling en projek word van nuuts af beplan en heroorweeg. Dit laat my ook net soveel vryheid om my rug, na behoorlike nadenke, op enige en alle doen en late te keer soos ek gelei voel. Ek behoort aan geen nasie of volk nie. Dit is ’n vals aanmaning en veroorsaak te maklik oordrewe lojaliteite en onenigheid en self oorlog.”
Buite vleg ons deur potte en potte vol plante en bome. Hy noem elkeen by sy Latynsenaam. Ek onthou die Afrikaanse name: Tambotie, melkbos, maroela, wisteria, skulpblombos, besembos … en in die middel van almal staan ’n tipiese Boshoff-kunswerk – vier individuele braairoosters wat die naam BUSH spel. “Wanneer ons vleisbraai dan is dit die burning bush, en dan onthou ons Irak.”
Belangrike werke
Kring van kennis, voor die Universiteit van Johannesburg. Dit bestaan uit elf klippe waarop daar woorde uit elkeen van die amptelike Suid-Afrikaanse tale geskryf is. Boshoff verduidelik dat hierdie woorde sogenaamde “-ismes” of vakgebiede is wat ’n mens dalk in die universiteitsgeboue sal raakloop.
370 Daeprojek waar hy doelstellings neergeskryf het – “plig, ontspanning, opoffering”. Hy het kodes vir elkeen opgestel en kripties in houtstrukture strepies en sirkeltjies uitgekerf. Hy het sy kodes op 370 verskillende houtspesies uitgekerf.
Woordeboek vir blindes wat uit rye staalbokse bestaan, met die kennisgewing dat ’n mens dit nie mag aanraak nie. Daar is egter braille-skrif op die bokse en blindes wat aan die bokse vat, maak dit oop, lees die braille en voel aan die voorwerpe binne-in. Mense wat wel kan sien moet dan vir die blindes vra om vir hulle te sê wat in die bokse is.
Sy werk Garden of the words is ’n gedenktuin en gaan hy soos ’n Adam te werk met die opteken van al die plantname wat bestaan en die uitlê van indekskaartjies wat soos ’n blomtuin sou oorbly as al die plante op die aarde uitsterf.
KYKAFRIKAANS (1976-1980) in die Sanlamversameling – sy eerste werk wat volwaardig as konkrete poësie beskou kan word. Boshoff het KYKAFRIKAANS op ’n Hermes 2000-tikmasjien geskep en die tikmasjien het letterlik die verfkwas geword.
Foto: Melanie Tait











