‘n Hart vir vier pote
Ek ontmoet dr. Amir Khalil, ’n veearts, in sy kantoor by die Lion’s Rock-reservaat net buite Bethlehem in die Vrystaat. Hy is ’n groot man, gebore in Egipte, en praat met ’n glimlag. Die afgelope 15 jaar is hy betrokke by Vier Pfoten (vier pote) en is ook die direkteur van Lion’s Rock, ’n toevlugsoord vir mishandelde groot katte. Hy trek sy skootrekenaar nader en begin my vertel van Vier Pfoten, dansende bere en onskuldige straatbrakkies.
Vier pote op agt lande
Vier Pfoten, ’n nie-winsgewende organisasie, gestig deur Helmut Dungler, het ’n groter hart as die oppervlakte van die agt lande waarby hulle betrokke is. In 2008 het Vier Pfoten sy 20ste verjaardag gevier en die lang lys van gerehabiliteerde diere agter sy naam laat mens besef hoe ongelooflik groot sy taak is – van rondloperhonde tot werksperde, leeus, bere en ’n mobiele veearts in Kenia. Vier Pfoten het ook verskeie veldtogte, wat die regte vir batteryhoenders, die vervoer van diere en die gebruik van pels (die van honde en katte inkluis) insluit. Dis eers as jy met jou eie oë sien watter werk die organisasie doen, dat mens besef hoeveel energie dit neem om die gemors van mishandelaars skoon te maak.
Ons storie begin in Oos-Europa, waar die voorland van rondloperhonde, leeus en bere koud en wreed is. “Nadat die Oosblok-lande deel geword het van die Europese Unie kon die meeste van die dieretuine nie die standaarde handhaaf wat die EU gestel het nie en moes toemaak,” vertel die vryskutregisseur Philip Lennon. Philip het saam met dr. Khalil en Vier Pfoten in 2007 Roemenië toe gegaan om die redding van drie leeus vir die natuurprogram 50/50 te verfilm.
Die Tecuci-dieretuin, in die suidooste van Roemenië, was een van die dieretuine wat deur die Vier Pfoten-span besoek is. Daar was toe nog net drie leeus in die dieretuin oor – Octavian, Cezar en Aurica. Cezar was die oudste van die klomp en op 15-jarige ouderdom was hy net vel, been en verminkte pels. Hierdie drie leeus (saam met vier leeus van Oostenryk met dieselfde bleek toekoms) het langer as 50 uur in kratte deurgebring op hul reis na hul nuwe tuiste by Lion’s Rock. Hier kon hulle darem die laaste deel van hul lewens soos volwaardige leeus met gras onder hul pote deurbring.
Ná hul besoek aan Tecuci het Philip, dr. Khalil en die Vier Pfoten-span na nog ’n dieretuin in Buhuşi vertrek, ’n dorpie wat eens die grootste tekstielfabriek in Suidoos-Europa bestuur het. Maar daardie gloriedae is al lankal verby.
Philip vertel verder. “Die dieretuin in Buhuşi se hokke was soos hoenderhokke – klein en ysig koud met sementvloere. Daar was twee volwasse leeus, wat as welpies voorgehou is om foto’s saam met toeriste te neem vir ’n fooitjie. Om hulle klein te hou, word hulle van die nodige proteïene, voedingswaarde en genoeg kos ontneem. Toe ons daar was, was hulle al ses jaar in hul hokke.”
Hy verduidelik hoe die mannetjieleeu heel normaal gelyk het, maar toe hy opstaan, kon mens sien hoe sy agterlyf hang. Sy bene was heeltemal misvorm en die koning van die oerwoud moes van een punt na die ander punt van sy hokkie skuifel. Die wyfie was nog slegter af. Haar hele lyf is onderontwikkeld, haar pels vol sere en haar beentjies kort. Maar hierdie leeus kon nêrens heen gaan nie – hulle behoort aan die departement van onderwys vir skooluitstappies.
Hy vertel ook van sy ondervinding van die marteldood van rondloperhonde en katte in Boekarest, waar soutsuur gebruik is om van hierdie onskuldige diertjies mee in
te spuit. Vir ’n oomblik het ek al my hoop in die mensdom verloor, en terwyl ek aan my liefste hond dink wat tuis opgekrul vir my lê en wag, wens ek dat ek nooit met hierdie storie begin het nie.
“Maar Vier Pfoten het ingegryp om hierdie onmenslike dade te stop,” red Philip die oomblik. “En het jy geweet dr. Khalil het ook gehelp om al die dansende bere van Bulgarye die vryheid te koop?”
Dr. Khalil het in 2002 Suid-Afrika toe gekom om oplos-sings vir die probleem van geblikte jag te probeer vind. Hy het toe besluit om in Suid-Afrika te bly en Vier Pfoten se voetspoor in Suider-Afrika af te druk. “Dit is ’n uitdaging, maar só doen jy nie net iets goed vir jouself nie, maar ook vir jou familie en die omgewing. Die projekte help ook met werkskepping en jy word deel van die oplossing. Twee dae nadat ek twee jaar gelede die laaste drie bere uit Bulgarye gered het, het ek skielik besef: dit is verby. Daar is nie meer dansende bere in Bulgarye nie. Dit was ’n ongelooflike gevoel.” Dr. Khalil vertel hoe hy elke aand onder ’n dekmantel in Roemenië se disko’s fotoleeutjies (wat die eienaars soos ’n statussimbool rondgedra het) probeer konfiskeer het. Hierdie Oos-Europese leeutjies het nou, danksy hom, ’n voortuisig op ’n beter lewe.
’n Aftree-oord vir leeus
Lion’s Rock het amptelik die hekke van sy toevlugsoord van 1242 hektaar in Februarie 2008 oopgemaak – presies drie maande nadat hulle die eerste Europese leeutjies aangeneem het. Die ironie van die saak is dat die plaas wat Lion’s Rock oorgeneem het eers ’n jagplaas was en dat die vorige eienaars ook leeus geteel het vir geblikte jag.
“Jy moes sien hoe het ons hokke gebou en drade gespan om die park betyds reg te kry vir die nuwe inwoners; dit was ongelooflik,” vertel Annelie de Klerk, parkbestuurder van Lion’s Rock, wat my geneem het om die leeus van nader te bekyk. Ons ry van die een leeukamp na die ander, terwyl sy my vertel van Lion’s Rock en hul leeus. Daar is verskillende fases waar die leeus eers stadig maar seker gewoond moet raak aan mekaar – die aanpassingshokke is langs mekaar sodat die leeus hul bure eers oor die muur kan groet, voor hulle saam na ’n groter hok oorgeplaas word. Leeus wat ook nie deur ’n groep aanvaar word nie word in ’n ander kamp gesit waar hulle meer tuis sal voel.
“Toe dr. Khalil-hulle die leeus by Tecuci-dieretuin moes gaan haal, was daar groot onsekerheid oor Cezar. ’n Leeu se lewensduur is so 15 jaar, en Cezar was toe al 16 jaar en in ’n baie slegte kondisie ná ’n leeftyd op die koue sementvloer in ’n hok van 6 meter by 2 meter.”
Dr. Khalil het besluit dat Cezar nie sal agterbly nie en hy kom toe saam met sy Europese genote Suid-Afrika toe. Ons stop by een van die kampe en daar staan hy, sterk en ’n regte ou leeumannetjie – ene maanhare en brul.
“Dit was sy eerste aanpassing op ruimte en gras,” vertel Annelie. “In die begin kon hy nie loop nie en hy was vreeslik uitasem. Maar met klein porsies vleis en konstante toesig het hy ongelooflik sterk geword.” Die ander leeus wat ook uit Roemenië en Oostenryk gered is, het baie goed aangepas, en geniet nou vir die eerste keer die lewe van ’n leeu.
Die koste verbonde aan die vervoer van hierdie leeus na Suid-Afrika is nie kleingeld nie. Net die vliegkoste van 12 leeus uit Europa was meer as R1 miljoen, met ’n ekstra
R50 000 vir die vervoer van die leeus van O.R. Tambo-lughawe af na Bethlehem. Die kampe van die eerste fase waar die leeus alleen gehuisves word, is 1,5 hektaar per kamp – vir elke leeu wat bykom, word 0,5 hektaar by-gevoeg, en die koste van ’n kamp van 2 hektaar beloop byna R2 miljoen weens die ongelooflike hoë standaard en veiligheidsmaatreëls.
“ Wat grootte en veiligheid betref, is die standaard van die kampe baie hoog,” verseker Annelie my, terwyl ons om die sjarmante Bengaalse tier se kamp koer. Die arme dier is as welpie sonder sy ma aan die vorige plaas verkoop, en het dus ook saam met die plaas gekom toe die Lion’s Rock-span die stuk grond oorgeneem het. Annelie laat my goed verstaan dat ’n wilde dier ’n wilde dier bly, veral as hy met die hand grootgemaak is.
“Jy moet respek hê vir hulle. Mense dink dis oulik om aan welpies te vat, maar dit veroorsaak wel stres en hul natuur bly wild.” Daarom probeer die span van Lion’s Rock ook om soveel as moontlik fisieke kontak met die leeus te vermy.
Hulle het met 23 leeus begin en vandag, twee jaar later, is daar 54 groot katte op die plaas. Boere van die omgewing stel Lion’s Rock in kennis as daar ’n bees of twee op hul plaas gevrek het. Dit het nog net een keer gebeur dat Annelie en haar span moes gaan vleis koop vir die leeus – 48 karkasse word elke maand deur die groot katte verslind. “Ons doen ook baie verrykingsoefeninge met die leeus – ons gee vir hulle op verskeie maniere kos; ons skuif die leeus rond in verskillende hokke sodat hulle die reuke van ander leeus kan ontdek en maak soms ’n spoor van die mis van ’n vreemde leeu of met bloed of vleis.” Hierdie oefeninge laat die leeus toe om uitdrukking te gee aan hul natuurlike optrede. En hoewel hulle nou nie oor die heuwels en dale kan hardloop en jag nie, is hierdie voormalige gevange leeus op die beste en veiligste plek waar hulle kan wees.
Daar is ’n groot aanvraag vir Lion’s Rock om luiperds en ander groot katte in te neem, maar ongelukkig is daar net so ’n groot tekort aan geld vir hokke. “Kyk, as jy jouself uitgee om na ’n wilde dier te kyk, moet jy die standaard kan handhaaf.” Annelie het in November 2006 by Vier Pfoten aangesluit en sy het nooit besef dat die mishandeling van wilde diere so ’n groot probleem is nie. “Suid-Afrika is ver voor Europese standaarde as dit kom by wilde diere en diereregte, maar na my mening moet Suid-Afrikaners meer bewus gemaak word van dieremishandeling.”
Lion’s Rock het ook ’n lodge waar gaste kan oorbly en die geld wat so gegenereer word, word teruggeploeg in die versorging van die groot katte. Hoewel daar wildritte vir besoekers beskikbaar is, word die diere op die plaas nie ten toon gestel nie. Daar is meer as genoeg bome en beskutting as Cezar of van sy makkers nie lus is om gesig te wys nie – ’n voorreg wat hulle nooit agter die tralies gehad het nie.
’n Nuwe toevoeging tot die familie
In April vanjaar het ’n nuwe wyfie, Savannah, haar by die res van Lion’s Rock se leeus aangesluit. Sy en haar boetie Shumba het so 50 km buite Ladysmith op die wildreservaat Nambiti gebly nadat hulle deur Crow (Centre for Rehabilitation and Wildlife) gekonfiskeer is.
“Ons is deur KwaZulu-Natal Wildlife gekontak met die nuus dat twee leeuwelpies onwettig aangehou word vir geblikte jag,” vertel bioloog dr. Helena Fitchat van Crow. Hulle het toe vir Savannah en Shumba op ’n jong ouderdom gekonfiskeer, maar as gevolg van die baie menslike kontak wat hierdie welpies gehad het, kon hulle nie weer in die wildernis vrygelaat word nie. Die welpies was ook baie gespanne en het nie meer baie pels oorgehad nie. Crow het toe ná 18 maande vir Savannah en Shumba na Nambiti geneem vir rehabiliteringsdoeleindes, maar kort voor lank het die ongeluk hulle weer getref. Die ander leeus op die plaas het glad nie vir Savannah en Shumba aanvaar nie en het hulle konstant geïntimideer. Hulle is toe in ’n kamp van 200m x 200m geplaas, maar die ander leeus van die plaas wou hulle steeds nie uitlos nie en het gereeld die kamp besoek om hul merk te maak en skoor te soek. Vroeg in April het die leeus vir Shumba, nadat hy teen die heining van die kamp opgespring het om sy man te staan, deur die heining getrek en hom doodgemaak. Savannah was volgende en daarom is daar besluit om haar Lion’s Rock toe te neem.
Ongelukkig is die groot taak nog lank nie verby nie – daar word nog sowat 4 500 leeus in hartverskeurende toestande gevange gehou. Maar met dr. Khalil en Vier Pfoten se doel om diere uit haglike omstandighede te bevry en te rehabiliteer is daar beslis nog hoop.
Die dansende bere
In die middel van die 19de eeu het sigeuner-beereienaars uit Roemenië na verskeie Bulgaarse dorpies verhuis. Die tradisie en beroep van dansende bere is deur generasies van pa na seun oorgedra en was die bron van baie families se inkomste. Dit begin deur wyfiebere met kleintjies te vermoor en dan die kleintjies te vat en “op te lei”. Die beertjies begin hul “opleiding” op warm kole of metaal. Wat as dans gesien word, is eintlik die byproduk van ongelooflike pyn. ’n Ring word in hul neuse – die sensitiefste plek op hul liggaam – gesit en aan ’n ketting vasgemaak. Met ’n daaglikse dieet van slegs 11 kg suiker en brood word hulle deur die dorpies op trems en straathoeke aan die neus gelei met nie ’n tand in hul mond nie. Die bere se naels word ook soms uitgetrek, wat vir ’n mens sal voel asof hul vingers afgeruk word. En daardie bere het name – Bobby is deur sy eienaars ingespan vir gevegte teen mense; Mariana is deur pyn en honger gedwing om te dans en het ernstige geestelike afwykings as gevolg daarvan opgedoen; Stefan se neusmembraan het begin ontsteek en Violetta het bitter min pels oorgehad weens jare lange mishandeling en ondervoeding. Dit is net vier van die 25 bere wat in sewe jaar deur Vier Pfoten se onderhandeling gered is. “Ons red nie net die bere nie, ons kry ook ’n ander bron van inkomste vir hul handelaars,” vertel dr. Amir Khalil.
Die projek is in 1999 begin en ’n rehabilitasiepark, die Dancing Bears Park in Belis-ta, is saam met Foundation Bridget Bardot opgerig om vir die dansende soogdiere ’n veilige hawe te skep.
Dr. Khalil, ’n gekwalifiseerde veearts, wat in meer as een taal ’n dier kan red, het in sy beste Bulgaars onderhandel en gehelp om die bere by hul eienaars te koop. “’n Mens kan nie net die diere van hul eienaars wegvat nie; jy moet die hele gemeenskap rehabiliteer, mens en dier,” sê hy.
‘n Paar Vier Pfoten-projekte
- Vier Pfoten het sedert 1988 verskeie steriliseringsprojekte vir rondloperhonde begin. Van Roemenië tot Griekeland, Kroasië, Masedonië, Bulgarye, Slowakye en Egipte is duisende honde reggemaak en ingeënt teen siektes. Sommige van die honde word ook opgelei en ingespan as terapiehonde vir die Four Paws Dogs for People-projek.
- Die werkperde in Konya, Turkye, wat ondervoed, oorwerk en aan die dood oorgelaat word, word ook deur Vier Pfoten gerehabiliteer. Die gemeenskappe word ook touwys gemaak oor die korrekte hantering van hul diere.
- Daar is ook ’n Vier Pfoten-eenheid in die noorde van Indië wat kos en inentings vir vee en honde verskaf.
Besoek gerus www.vierpfoten.org vir meer besonderhede.
Deur Carina van Heerden Foto’s Mihai Vasile




















Lewer kommentaar!