Boeretannies in die Argentynse boendoes
Dit is ’n berese boek hierdie, die een wat ons met so ’n ompad gebring het na mev. Petronella Grimbeek in Como-doro Rivadavia. Dis ’n gedenkboek in Spaans vol swart-en-wit foto’s, van ’n eeu van Boere in hierdie wilde suide van Argentinië. “Boere”, want hier waar die menslike dryfhout van die Boere-oorlog uitgespoel het, het daardie term nooit ’n gelade konnotasie verkry nie.
’n Paar jaar gelede het ’n Suid-Afrikaanse student, Ruth Woudstra, met haar rugsak hierlangs gereis en op ’n bus tussen Comodoro en Sarmiento ’n Afrikaanse konneksie raakgepraat. Dit was tant Nella se susterskind en sy het Ruth na haar tante gestuur. Ruth het drie dae gebly, Afri-kaans gepraat en Boerekos geëet. En toe sy vertrek, het tant Nella haar die gedenkboek present gegee.
In Irene het Ruth se ma in die koerant gelees ons soek inligting oor die Afrikaners van Patagonië. Ruth het uit Ja-pan laat weet waar die boek te vinde is en haar ma het hom aangestuur na ons in Cambridge, Engeland.
Nou sit ons hier by tant Nella. Die boek lê stom op die koffietafel langs die pot kookwater vir die maté – daardie bitter kruietee wat die Patagoniërs pal drink, al om die beurt deur dieselfde metaal-strooitjie. (“Dit laat jou badkamer toe gaan,” verduidelik Graciela Kruger skalks.) Stom, want op 85 is tant Nella self ’n veel welluidender bron van orale ge-skiedenis.
Sy en haar oorle’ man, Enrique Carlos Grimbeek – of Hen-drik Karel vir jou en my – was eienaars van die spogplaas La Begonia naby Comodoro en vooraanstaande lede van die Afrikaner-gemeenskap. In 1991 het die New York Times selfs by hulle aangedoen.
Nou is die dae van La Begonia egter verby. Tant Nella se sig en gehoor het verswak, maar haar gees is ongeboë. Sy verwys na die woonstel as haar “tronk”, want sy moes hierheen skuif ná ’n heupbreuk. Maar wag net, al kan sy nie terug plaas toe nie – “ek was dié jaar nie eens een keer daar om te gaan kersies pluk nie, want dit was te warm en te droog” – is sy klaar op pad terug na haar meenthuis met sy tuintjie.
Met haar verkreukelde, innemende gesig versinnebeeld Petronella Grimbeek die geskiedenis van haar mense. Haar voorsate het tussen 1902 en 1907 hierheen gekom. Of hulle politieke vlugtelinge was van Britse heerskappy, of ekonomiese emigrante van ’n land waar hulle alles verloor het, is ’n onderwerp van akademiese debat.
Maar hoe dit ook al sy, herinneringe aan die Boere-oor-log lê vlakker in die gemoed hier as in “Afrika” (soos hulle almal na Suid-Afrika verwys): daar is aanvoelbare pyn in tant Nella se herinneringe aan wat sy geleer het oor die Britte se koelbloedige verwoesting, die verbrande plase en vee, die lyding van mense in konsentrasiekampe.
Die amperse bitterheid in tant Nella se woorde oor ge-
beure meer as ’n eeu gelede het ’n eietydse eggo. Volg die venynige “debat” – as ’n mens die wedersydse be-ledigings met dié term kan veredel – in die brieweblaaie van die koerante tussen “blyers” en “glyers” en dit word gou duidelik dat hulle dieselfde Suid-Afrikaanse werklikheid radikaal verskillend bejeën.
Die “glyers” wat hulle heil elders opgesoek het, se ge-moedsbeeld van Suid-Afrika is dikwels donkerder as dié van die “blyers”: klem op die negatiewe van Suid-Afrika word ’n skild teen verlange. En teen die onvolmaakthede van hul nuwe tuiste.
Vir die Boere-immigrante was die lewe in Patagonië aan-
vanklik bitter moeilik: deesdae is Comodoro ’n onin-spirerende maar welvarende oliestad – olie is in 1907 ontdek – maar destyds was dit ’n godverlate gehuggie aan die Atlantiese kus, ’n poort tot ’n grenslose, ongenaakbare hinterland.
Ry selfs deur die moderne Patagonië en die uitdagings staar jou in die gesig: kilometer op kilometer strek die teer-
pad soos ’n prekêre naelstring van beskawing deur ’n leë wildernis. G’n boom verbreek die eentonigheid van ste-kelrige, heuphoogte bossies nie; g’n heuwel skend die horison nie.
Dit herinner mens baie sterk aan die Karoo – maar sonder die koppies. Dis so baie soos die Karoo dat een van die trekkers wat in die 1930s terug is na Suid-Afrika, Piet Henning, in sy boek ’n Boer in Patagonië geglo het dat die ontdekking van olie in Comodoro ’n bewys was dat daar ook olie in die Karoo moes wees …
Anderkant sulke lugkastele was Patagonië harde wêreld. Die Boere-trekkers – vlugtelinge van ’n harde plek op ’n droewe tyd – moes al die weerspannigheid en pioniersgees van hul stam saambring om hierdie geweste te tem en ’n lewe hier te maak.
Ons ry van Comodoro na die dorpie Sarmiento, 150 km
wes, binneland se kant toe. Sarmiento se omstreke lê soos ’n oase in die woesteny, meer Vrystaat as Karoo: vet beeste in groen weiding, die blou rantjies van die voetheuwels van die Andes – op die horison, populiere langs die pad wat soos weerhane gebuig is na die meedoënlose wind.
Die dorpie self herinner aan êrens in Noordwes: teer-strate in die middedorp wat uitrafel tot klipperige grond ’n paar honderd meter na elke kant. Ons vra pad by ’n hoekkafee. Die eienaar sprak g’n sprook Afrikaans nie, maar hy beduie dat hy ’n Boere-afstammeling is en druk ’n kasregister-strokie om sy naam te wys: Martin Sebastian Viviers.
Dit is ’n Sondagoggend en ons begeef ons na die Gere-formeerde kerk, straataf van die veel groter Katolieke kerk. Dit is deur Boere-hande gebou as ’n Gereformeerde kerk, maar sy bouers sal in hul grafte draai as hulle vanoggend hier moes wees – die prediker is ’n vrou, met ’n romp net bo die knie en ’n enkelkettinkie …
Ons is laat en glip agter in die klein geboutjie in. Maar dit is moeilik om weg te smelt in ’n skare van twintig mense en sy verwelkom ons met ’n belangstellende vraag in Spaans.
Ons probeer dit ontduik met ’n verontskuldiging in Afrikaans. Dit stuit haar in haar spore, maar an-derkant die gangetjie sien
ek ’n vrou por haar man in die ribbe asof sy wil sê: “Het jy gehoor: Afrikaans?” Hulle lyk “Afrikaans”, as ’n mens Afrikaans kan lyk.
Die prediker stap voor rond soos ’n Amerikaanse evangelis en nooi getuienis uit die geledere van die twintig siele. Oor dankbaarheid en dies meer, lei ons af. Dan gaan sy oordrewe aan die klop aan elke houtbankie langs die middel-gangetjie af: “Klop en vir julle sal oopgemaak word …”
Elektroniese orreltjie en kitaar ten spyt wil die ge-meentesang maar nie vlot nie. Naderhand is dit ’n uur en ’n half en dit lyk of hier geen einde aan kom nie. Sleg soos ons daaroor voel, besluit ek en Theresa om uit te glip en ons vermag dit, so dink ons, ongesiens terwyl almal se aandag op die gesang-transparant is …
Voordat hulle La Begonia toe is, het tant Nella-hulle hier op ’n kleinhoewe gewoon en hier is steeds heelwat Boere-nasate. Ons skakel een van hulle, Nicholas Ayling, en hy ontmoet ons op die stoep voor El Rancho Grande, die enigste restaurant in die dorp.
Nicky Ayling is ’n beer van ’n man. Met sy swart, moulose windjekker en sy vosgrys hare in sy dubbelkajuit-bakkie kon hy net so goed ’n Noord-Kaapse boer gewees het wat ingekom het dorp toe. En daar is ook ’n stewige dosis Afrikaner-bloed in sy are: vandag boer hy op die familieplaas, Media Luna, met 15 000 skaap en al praat hy dit nie, is Afrikaans deel van sy erfenis.
Hy en sy vrou, Annelies – van Nederlandse afkoms – neem ons na sy ma op ’n kleinhoewe buite die dorp. Bee Ayling is ’n waardige dame van 85 en sy deel met haar seun ’n onnutsige humorsin. Sy is ge-bore Maria Francina Venter, ’n kleindogter van C.J.N. Visser van Barkly-Oos, een van die leiers van die trek in 1903. So beduidend was Visser se rol, dat ’n baai noord van Comodoro steeds “Puerto Visser” heet.
Op suiwer Afrikaans – met Spaans
of Engels alleen ter wille van Nicky
– onthou Bee Ayling die lieflike huis op haar oupa se plaas, Voorspoed, en hoe sy in die jare der-
tig kortstondig in Kaapstad gebly en Hoërskool Jan van Riebeeck bygewoon het. Sy was ook by die hoeksteen-legging van die Voortrekkermonument in 1938.
Maar toe haar pa dood is, het haar ma Media Luna geërf en teruggekom na Argentinië met die kinders. In Buenos Aires het Maria Francina met Eric Ayling, oorspronklik ’n Brit, getrou en in die jare vyftig het hulle die plaas oorgeneem. Maria Francina het miskien Bee Ayling ge-word, maar sy was steeds vir ’n dekade of wat voorsitter van die Christelike Vrouevereniging van hierdie geweste.
In sy boek My life in Patagonia beskryf Eric sy Afrikaanse bruid as ’n formidabele vrou – “very handy and capable in all moments of trouble”. Dit was sy wat hom in 1948 op die lang pad van Buenos Aires na Media Luna leer bestuur het en sy wat agter die wiel was toe hul remme op ’n bergpad op die plaas die gees gegee het.
Met harde werk en deursettingsvermoë het hierdie vlugtelinge van ’n vergange konflik vrugbaarheid gewring uit ’n ongenaakbare stuk aarde, soete uit die sterke. En ’n mens hoef geen Afrikaner-nasionalis te wees om teenoor hulle ’n diepe toegeneentheid te voel nie: hulle praat ons taal, hulle is “ons” mense op ’n onbevlek heilsame manier – ons deel iets wat nie gekondisioneer is deur komplekse 20ste-eeuse geskiedenis nie, iets wat reeds daar was toe hulle in 1903 hulle wortels uit Afrika-bodem opge-
trek het.
Toe ons saam met Nicholas vertrek, stap die half blinde Bee saam na die voordeur en dring gemoedelik aan op ’n soengroet; dit voel soos familie. Sy en Nella Grimbeek is albei dierbaar, as ek so vrypostig mag wees: twee agbare dames in wie ’n vergaarplek van herinneringe en ervarings van die Boere-Argentyne gestalte vind. Hulle is ’n welluidende slotwoord tot daardie welberese boek wat tant Nella in 2006 op sy omswerwinge gestuur het.
Artikel en foto’s André Pretorius









My noem naam is Marita. Ek is ‘n afstammeling van die boere in Argentinië en het ook tant Nella geken. Sy is my oupa se susterskind…as ek dit nou reg het. Weet net ons is familie op een of ander manier. My oupa Piet Henning het die boek geskryf ‘n Boer in Argentinië. Nou onlangs het ek ‘n boek aangekoop uit africana versameling, gelukkig goeie toestand. Tant Nella Grimbeeck kon haar plek volstaan as boervrou. En ek is seker alle boer vroue in ARgentinië. Sy het berrie wyn self gemaak, skaap geslag en groente aangeplant. Wonder wat van die res van daardie familie geword het. Enrique, Jappa, Lenie en Eddie. Goed om weer van die Grimbeecks te lees. Sal graag ‘n boek wil gekom van tant Nella Grimbeeck. Hulle het ook geboer op my oupa se plase. Rooi Huis en Morgenzon, nadat my oupa terug gekeer het na Suid Afrika. Ons het hulle besoek in 1974. Dis nou 2010 en ek het nog nooit weer met hulle kontak kon maak nie. Sal baie graag ‘n adres of ‘n e-pos wil bekom. Baie interessant. Dankie vir die lees stof.
Ek is oppad Argintinie toe, waar kan ek van die boere opspoor?
Hi, my great grandfather was mentioned in the book Boer van Argintinie – can somebody please assist me in getting a copy of this book or advise where i would be able to purchase one – i really would be so happy.
Lots of Love
Maryna
Lewer kommentaar!
Tale
Volg DEKAT
Kategorieë
Argiewe
Lukrake bladsy
Nuutste Video