Plekke van vrede
Die Duitse woord vir kerkhof is Friedhof, ’n plek van vrede. Dit is ook deur geslagte ’n plek van nadenke, bittersoet verlange, smart, of selfs skuldgevoelens – of ’n snuffelplek vir die aardigheid.
Van die vroegste beskawings af verklap die manier waarop ons ons dooies begrawe boekdele van ’n samelewing – so het Benjamin Franklin gesê. En deur die eeue word die mens geboei deur die akker aarde wat vele kulture afsonder vir hul gestorwenes. Miskien omdat elkeen weet niemand spring die einde vry nie.
Ons is almal ballinge van die dood, skryf Breyten Brey-tenbach in “luistervink”. En elders, “Ons is self die koetsier van vergaan, goejop-regop met hande/ verwelk/ om die doodskar se leisels.”
Willem de Klerk, psigoterapeut, oud-predikant en hoogleraar sê in sy boek Die vreemde God en sy mense die dood is dit wat spankrag aan die lewe gee, en dit skep die onontbeerlike energie vir die lewe. Dit is dalk van dié vreemde verborgenhede waarna baie gaan delf tussen die rye stene en sipresse wat afgeskort bly van die res van ons bestaan.
Begraafplase is egter vir baie by uitstek ’n plek van rou, treur en verlore eensaamheid. Soos die sanger in die negentiende eeuse lied “Thora” dit uitroep: “Your grave is my only landmark, and men have forgotten my name.” Of soos vele grafskrifte dit byna uitstippel, eerder voetrus vir die agtergeblewenes as vir die afgestorwene: “Here rests Sarah, beloved wife of Harry and mother of George”.
By ’n begraafplaas kom die mens ook te staan voor sy eie sterflikheid sonder om dit direk in die oë hoef te kyk. Die byna universele simbole – die engel, duif, koringgerf, blarekrans of die treurwilger – is die buffer.
Baie bring ook besoek aan ou kerkhowe as ryk bronne van historiese inligting. Die styl en kuns van en inskrywings op grafstene sê watter godsdienste, klas en waardes daar geld.
’n Moderne Suid-Afrikaanse voorbeeld is die teatrale grafte wat baie swart mense in munisipale begraafplase oprig. “So eer en onthou ons die bydrae van die gestorwene,” sê prof. Maake Masonga, professor in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, en wat verbonde is aan die Presbiteriaanse Kerk.
Die webblad http://dohistory.org gee selfs stap vir stap aanwysings oor hoe ’n begraafplaas “gelees” moet word: bestudeer die hele landskap, ontleed die geografie en dan die verskeidenheid grafstene, veral die datums, en die lettertipes wat ingespan is.
Die Engelse noem diegene wat graag grafte besoek taphophiles. Maar gaan besoeke aan begraafplase, in elk geval in Suid-Afrika, dié opsoekers ’n bedreigde spesie maak? En is dit maar goed so?
Volgens ’n woordvoerder van Avbob laat baie meer mense as voorheen hulle deesdae veras. Hy sê die redes daarvoor is die persepsie dat dit goedkoper is (hoewel dit dikwels nie is nie), die feit dat tuine van herinnering vir die plaatjies as veiliger beskou word of dit is grootliks ’n kultuurkwessie.
Daarby is daar al hoe meer gerugte van grafskending, gaan vra maar vir die Statebond-oorlogsgraftekommissie of die Bloemfonteinse Oorlogmuseum wat na Anglo-Boereoorlog-grafte omsien.
Dit is lank reeds bekend dat die meeste Engelssprekende Suid-Afrikaners hulle laat veras, tot 95%. Ook Hindoes veras uitsluitlik, maar daarteenoor kan daar maklik ’n jaar verbygaan waarin nie een swart mens hom laat veras nie, volgens die Avbob-woordvoerder.
“Swart mense is, soos Afrikaners, nog nie teologies voorberei op verassing nie,” sê Masonga, wat werk aan ’n nuwe leerplan om ’n volgende geslag voor te berei op die moontlikheid van verassing deur te kyk na elemente soos die teologie van die liggaam en voorvaderskap. Elke swart kultuur het ook ’n ander ingesteldheid rakende begrafnisse, sê hy.
Waar vele Afrikaanssprekendes vir donkiejare geloofsbe-sware teen verassing gehad het, raak dit egter ’n al hoe algemener gebruik, volgens Avbob.
Mense uit ’n Christelike tradisie wou hulle byna altyd eerder begrawe, sê De Klerk. Volgens ds. Alex Wehncke, pastorale hulp in Triomf en vir jare hospitaalpredikant is/was ’n graf tradisioneel troosryk omdat dit ’n konkrete dimensie aan ’n abstrakte begrip soos die dood gee.
Ds. Nico Botha, Gereformeerde emeritus-predikant, is dit met hom eens dat ’n graf uiteindelik by uitstek die belewing van die werklikheid van die dood meebring.
Maar sal die strooi van as of die begrawe daarvan nie die rouboek maar op dieselfde manier help toemaak nie?
De Klerk meen die kwessie van verassing of begrafnis is eerder ’n praktiese of emosionele aangeleentheid as iets anders, en elke individu of gesin kan self daaroor besluit.
Vele meen verassing is skoon, meer higiënies en grond word al hoe skaarser.
Nogtans beskou hy verassing as “teen die natuur” en ’n gewelddadige ingrype teen die organiese wette se siklus: “Van stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”, om uit die Bybel aan te haal.
“Menswees is liggaamlik” en “was die draer van ’n gees wat in ’n liggaamlikheid verweef is”, sê De Klerk. So is die gestalte van die geliefde nog “heel” en by die treurendes. Daar is steeds ’n “identiteit”, of dan ’n soort teenwoordigheid.
Wehnke, wat nie ’n af- of voorkeur vir verassing het nie, meen wel dat so ’n afskeid van ’n dierbare meer problematies is. Iemand verdwyn dan net met die druk van ’n knoppie; dinge is nog onafgehandel.
Ook Botha sê hy weet van vele gevalle waar familielede wat uiteindelik die as van die afgestorwene in die hand het, dit uiters moeilik vind om dit te gaan begrawe of te strooi. “Mense vertrek soms tot vyf keer op só ’n pelgrimstog en kom met vol hande terug.”
Albei bedienaars het dan ook maniere waarop hulle verassing meer “verteerbaar” maak vir gesinne of families wat nie daaraan gewoond is nie. Wehnke vra byvoorbeeld die roubeklaers wat wil om ’n blom op die kis te sit voordat dit verwyder word om so simbolies afskeid te neem, of selfs net aan die kis te raak.
Maar hoekom? Is ’n geredekawel oor om die as te begrawe of te strooi relevant? Wil die moderne mens nog enigsins stilstaan?
“Die dood is net nie meer deel van die lewe nie,” sê ’n vriend wat in Londen woon. “In die sekulêre wêreld is dood schluss. In die ou dae was dit die poort tot ’n volgende ervaring; vandag wil ons niks meer met die dood te doen hê nie.”
Die boek Living beyond loss, death in the family, bevestig dié uitkyk, en dat die samelewing ook vandag veel minder genade of geduld met rouprosesse het.
In die jare her het iemand aan huis gesterf en is self uitgelê. Vandag handel ’n hospitaal of ondernemer af wat af te handel is en die dra van swart klere of roubandjies is geskiedenis.
Mense self, en die kultuur wat ons vandag ken, ontken die dood, sê die boek. En dan waarsku hy daarteen: “There is no moving beyond loss without the experience of some mourning.” Dit is nie die dood self nie, maar die vermyding daarvan deur die ervaring te mistifiseer wat later tot probleme aanleiding gee wat met onderdrukking gepaard gaan.
Die klem op die belang van “rituele” soos die manier waarop Kersfees saam gevier word, ’n verjaardag of hoe begrafnis gehou word, is baie belangrik in die verwerking van oorgange tussen verskillende lewensfases, skryf die terapeute. Daardeur word simboliese betekenisse deel gemaak van die belewing van ’n familie of kultuur se gedeelde geskiedenis en toekoms.
’n “Kuier” by die graf is ’n prikkel wat verligting of ’n katarsis teweeg kan bring, verduidelik De Klerk. “En hoe meer ’n mens treur, hoe meer word jy getroos: dit is soos ’n salf.”
Hoewel ’n besoek aan die dooies uit ’n Katolieke oogpunt in die eerste plek gedoen word om vir die afgestorwene se siel te bid sodat hy die pad saam met die Heilige Gees kan loop in sy heiligwording, lê vader Bonaventure Hinwood, inwonende priester van die Waterkloof-gemeente, ook klem op die belang van treur oor jou dierbares.
Hy meen die neiging van vele herlewings- en selfs sekere meer tradisionele gemeentes om hiperboliese klem op die vreugde oor die oorgang na die hiernamaals te lê mense byna skuldig laat voel oor die feit dat hulle ’n gemis en hartseer voel.
“Ek wil dit krimineel noem,” sê hy. “Ja, ons erf die ewige lewe en gaan weer opstaan, maar my pa of ma of suster is nie nou meer by my nie, en sit nie saam met ons oorkant die tafel aan vir aandete nie.”
Ook in die Joodse geloof word agtergeblewenes aan-gemoedig om hul droefheid te trotseer en uiting te gee daaraan. Tydens die week van rou net ná die begrafnis op die dag dat die persoon afsterwe, word die daaglikse gebede en samekoms in die sinagoge aan huis van die treurendes voortgesit. En daarna lê ’n jaar van rou voor waarin onder meer nie aan feesgeleenthede deelgeneem word nie.
“Ná ses maande word die grafsteen opgerig, wat ook met ’n spesiale seremonie gepaard gaan,” sê David Saks, adjunkdirekteur van die Joodse Raad van Afgevaardigdes.
Living beyond loss beveel ook vir nie-gelowiges seremonies of rituele aan, selfs in families waar dit nie in ’n spesifieke vorm bestaan nie, of vir individue wat nie met die gewone manier van doen identifiseer nie.
Botha benadruk dat die rouproses ’n individuele proses is, en dat daar nie ’n standaardresep vir die verwerking van ’n dierbare se dood is nie.
“Van my lidmate wil nooit weer graf toe gaan nie, ‘want my man is nie dáár nie’,” sê hy. En hy voeg by, Christene wat ’n graf besoek, betwyfel nie daarmee die geliefde se saligheid nie, maar gaan dikwels om te sorg dat die graf netjies bly.
De Klerk stem saam met hoe persoonlik die rouproses vir elkeen is: in ’n steekproef wat hy gedoen het onder kliënte vir wie hy berading gegee het, het hy bevind selfs behoudende Christene kan in hul rouproses ’n godverlatenheid ervaar, of verwyt en opstand, terwyl ander weer oor die nabyheid van God getuig.
Wehnke meen hetsy dit ’n gedenkmuur is waarby ’n mens vertoef, en of jy by ’n graf kniel, so ’n fokuspunt van herinnering kan baie bydra in die verwerking van die wat agterbly. “Dit moet ’n inspirasie wees.”
De Klerk noem dié stimuli die voetspore en skaduwees van die oorledenes. “Jy ‘sorg’ nog vir ’n dierbare as jy liefde en respek gaan betoon by die naamplaatjie of graf.”
Hy sê só is die band nog nie absoluut gesny nie, en dit bring ’n kontinuïteit van die verlede met die hede en die toekoms.
So sê terapeute en ander kenners ook. As ons rou, op watter manier ook al, kan ons aangaan met ons lewe. Hoe ons stilstaan, gee ook nie geboorte aan ’n simplistiese of onbelangrike ontknoping nie, maar stel die wat agterbly in staat om hulle te versoen met wat gebeur en langsamerhand weer die lewe te omhels.
Dié begraafplase is ’n besoek werd:
Petersfriedhof in Salzburg
(of St. Petrus-begraafplaas)
Hierdie Oostenrykse begraafplaas word sedert die laat Romeinse tydperk gebruik en word “van die oudste en mees bekoorlike wêreldwyd” genoem. Baie aristokratiese families lê hier begrawe, en onder meer Mozart se suster en Haydn se broer. Dit is ook die plek waar die Von Trapp-gesin in die rolprent die Sound of Music weggekruip het.
(Bronne: travelocity.com, www2.salzburg.info, de.wikipedia.org)
Highgate in Londen
Londen spog met ’n “magnificent seven” Victoriaanse beg-raafplase, maar Highgate is die bekendste en, sê hulle, beste. Dié tydperk se belangstelling in die ontdekking van Egiptiese skatte en die Gotiese en Klassieke style vind neerslag in die argitektuur van die grafte. Highgate se bekendste “inwoner” is Karl Marx.
(Bron: www.bbc.co.uk)
Père Lachaise in Parys
Mense soos Jim Morrison, Edith Piaf en Maria Callas is hier begrawe. Rossini, Bizet en Frédéric Chopin se laaste note het hier weggesterf en Oscar Wilde en Marcel Proust se lewens-ink het hier drooggeword. Mnr. Seuz-kanaal, se graf is ook te sien.
(Bron: www.pere-lachaise.com en www.paris.org)
St. Louis Cemetery No. 1 in New Orleans, die VSA
New Orleans ’n uiters hoë watertafel. Van oudsher af het die inwoners gesukkel om hul afgestorwenes begrawe te kry omdat daar binne ’n voet of wat se grawe water is. Hier word mense dus in grafte en grafkelders bo die aarde begrawe, vanaf 1789. Omdat die rye bousels na strate begin lyk het, word die begraafplase dikwels “cities of the dead” genoem.
(Bron: www.tourlouisiana.com en www.experiencenew-orleans.com)
Arlington in Virginia, die VSA
John F. Kennedy is hier te ruste gelê. Besoekers kyk ook graag na die aflossing van die wag wat dag en nag dwarsdeur die jaar die graf van die onbekende soldaat bewaak. Hier is inderdaad nog 250 000 militêre grafte en baie oorlogshelde is hier herbegrawe.
(Bron: www.arlingtoncemetery.org)
Rebeccastraat, Pretoria
In Pretoria-Wes lê die Rebeccastraat-begraafplaas met sy lang palmlaning. Genl. Louis Botha, premier tydens die unietydperk, en Jan Hofmeyr, naas genl. Jan Smuts die grootste brein in die destydse Verenigde Party, en genl. Manie Maritz is van die groot geeste hier. Vir Sammy Marks, die ryk Jood wat Consol en baie ander nywerhede begin het, is ’n praalgraf gebou. Die beeldhouer Anton van Wouw het ’n laaste rusplek gevind, en oudpresidentsvrou Marike de Klerk, wat by haar pa begrawe is.
Grafkelders, Paarl en Groenpunt
Die Paarl se Nederduits-Gereformeerde gemeente het toentertyd grafkelders by die Strooidakkerk opgerig waarin familielede bymekaar begrawe kon word. Hugenotevanne soos Marais en De Villiers is uiteraard volop. Ook in Groenpunt in die Kaapstad is so ’n familiegrafkelder wat ’n besoek werd is. Dié strak kelder met sy gewel was in die ou Kaap so ’n groot baken dat dit op skeepskaarte aangedui is as rigtingwyser vir die skepe in Tafelbaai. Die grafkelder is in 1827 deur Pieter Woutersen opgerig aan die bopunt van Wesselsstraat, wat na die stamvader van die Wesselse vernoem is.
Isandlwana
Die grafte in die wuiwende groen graslande van KwaZulu-Natal is die stil erfenis van die slag van Isandlwana, die skermutseling waartydens die Britse magte die grootste nederlaag ooit aan die hand van ’n swart mag gelei het.
(Bron: battlefields.kzn.org.za en schwartz.eng.auburn.edu)
Bloemfontein
Die Vrouemonument in Bloemfontein staan so tussen die twee begraafplase, die President en die Memoriam, wat albei pragtige grafte het. Aan die voet van die monument is egter self belangrike grafte: Dié van genl. Christiaan de Wet, Boere-ikon, pres. M.T. Steyn en sy Libbie vir wie hy sulke mooi briewe geskryf het, en Emily Hobhouse.
(Bron: Elria Wessels, historikus, Oorlogsmuseum in Bloemfontein)
Artikel en foto’s deur Carié Maas
















Lewer kommentaar!