Meesters van agterdog
Die 19de eeu het denkers en skrywers opge-lewer wat sedertdien ’n onmeetlike invloed op die gang van die geskiedenis uitgeoefen het. Die filosoof Paul Ricœur het drie van hulle uitgesonder as die “meesters van agterdog”: Nietzsche, Marx en Freud.
Ricœur het hulle so beskryf omdat elkeen op sy eie manier die alledaagse werklikheid verdag gemaak het: Nietzsche het dit beskou as die produk van magsverhoudinge wat ons nie beheer nie; Marx as die produk van ’n klassestryd groter as die individu; en Freud as die resultaat van ons onbewuste begeertes.
Al drie hierdie denkers was ook wesenlik revolusionêr in die mate waartoe hulle nie net die alledaagse werklikheid as veranderlik gesien het nie, maar ook die verandering aktief bedink het. Nietzsche het gedroom van die era van die Oormens wat sou kom; Marx van die bevryding van die werkersklas; en Freud van die bevryding van ons onderdrukte begeertes. Al drie van hulle het ook ’n bra beperkte opvatting van die gemeenskap gehad, waar die individu vir Nietzsche en Freud sentraal was, terwyl Marx slegs kollektiewe klasse erken het. Laastens het al drie van hulle skerp kritieke op die religie gelewer.
Maar miskien is die mees revolusionêre skrywer en denker van die negentiende eeu die wilde, hartstogtelike Fiodor Dostojefski (1826 – 1881). Net soos bogenoemde tydgenote het Dostojefski ook gedroom van ’n ander wêreld. Maar wat hom van hulle onderskei, is dat hy so ’n wêreld sien kom het juis vanuit die gemeenskap en die religie.
Dostojefski was natuurlik ’n lid van die nasionale geloofs-genootskap, oftewel die Russies-Ortodokse kerk. Waar Marx die burgerlike staat wou omverwerp ten einde ’n werkerstaat te vestig, wou Dostojefski ’n samelewing onder die gesag van die kerk sien. Onder die invloed van die liberale verstaan van die geskiedenis is ons so gewoond aan die gedagte dat kerk en staat geskei moet word, dat ’n gedagte geopper in Dostojefski se grootste roman, Die Gebroeders Karamazov (1880), deur die oënskynlike ateïstiese Ivan Karamazov skokkend is: Ivan voer naamlik aan dat daar nog nooit ’n samelewing onder die gesag van die kerk was nie, aangesien die kerk reeds vanaf die Romeinse keiser, Konstantyn, in die 4de eeu verstaatlik is en eintlik sedertdien hom soos die staat gedra het!
Hierdie selfde gedagtegang word later in die roman voortgesit in die mymeringe van die Ortodokse monnik en Oudste, Zozima. Zozima voer openlik aan dat die herlewing van Rusland sal kom vanuit die ware monnike van die ortodokse kerk!
Hoe op Gods aarde is dit moontlik, wil ’n mens by wyse van spreke vra? Vir kritiese (post-) gereformeerde ore klink hierdie gedagtes na kettery, want wat weet ons van die ortodoksie en sy verband met tradisie? Waar die Protestantisme groot klem op skrifgebaseerde dogma plaas, plaas die ortodoksie die klem op dogma as afset van kollektiewe praktyk deur die gemeenskap van die gelowiges oor eeue heen. Ook kenmerkend van die ortodoksie is die mate waartoe dit telkens met kulturele diversiteit erns maak, soos aangedui deur die feit dat ons praat van die “Grieks-Ortodokse” of die “Russies-Ortodokse” kerk, ens., waar elkeen van hierdie nasionale kerke ook sy eie karaktertrekke het.
Dogma as geleefde praktyk straal uit elkeen van die karakters in Die Gebroeders Karamazov: selfs die grootste skurk of moordenaar word oorgegee aan intense selfbesinning waar die bewussyn van sy eie onafheid, sy onvoltooidheid weens gebrekkige gemeenskap met God, ter sprake kom. Hier word dogma nie begryp as die korrekte verstaan van ’n teks nie, maar as die individuele toe-eiening van wat kollektief oorgelewer is, van dit wat my ’n individu maak, en wat teruglei na die groter gemeenskap van die gelowiges, selfs buite die kerk.
Meer as ’n eeu en ’n kwart het sedert die verskyning van hierdie groot roman verloop. In hierdie tyd het die Marxistiese en seksuele revolusies gekom en gegaan: die werkers van die wêreld is nie vry nie, en seks is so bevry dat ons daaraan verslaaf is. Die religie wat Nietzsche, Marx en Freud agtergelaat het, het slegs in hul eie wêrelddeel ’n tyd lank getaan en Fiodor Dostojefski se uitdaging van ’n religieuse gemeenskap staan steeds.
Dit wil nie sê dat sy uitdaging sonder meer in die Afrikaanse wêreld opgeneem kan word nie. Die Afrikaanse Protestantse kerke bloei nog intens van hul omarming van die staat ná 1948, om van hulle vergeet van 15 eeue se tradisie voor die Hervorming maar te swyg. Die gestandaardiseerde gedrag van Staatsprotestantisme is nog ’n pynlike herinnering by baie van ons, en ons ken die onderskeid tussen volkskerk en gemeenskapskerk slegs in baie beperkte mate. Maar is daar maniere waarop die ortodokse tradisie van gelowige gemeenskap ons kan begelei na ’n nuwe toekoms?













Lewer kommentaar!