DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Kuns & Kultuur

Teaterkampioen

Geplaas deur op 27.01.10Geen Kommentaar

neels3

Neels van Jaarsveld is funky, vriendelik en borrel letterlik oor van lewenslus. Die kelnerin bring sy koffie en hy sê “gracias” en beduie opgewonde voort oor sy wonderlike lewe, hoe hy nou nog nie sy geluk kan glo nie. Hy glimlag baie en lyk ondeund beskeie … hoewel hy beslis verlief is op sy bekendheid en die voordele wat daarmee gepaard gaan. Op 28 is hy al op die hoogste sport van die teater- en televisieleer. En die uitsig is ontsagwekkend …

Televisie toe (en die koeël is deur die kerk)
Dis altyd televisie wat eerste die aandag van die breë publiek trek. Neels se rol as Vriendelike Frikkie in die Klipdrift-advertensie is steeds op almal se lippe, die skreeusnaakse misverstand en die terugsit op die stoep wanneer Frikkie die woorde uiter wat nou so sinoniem is met Suid-Afrika soos sonskyn en braaivleis, “met eisj”. Vir baie mense is hy iemand om mee te identifiseer, iemand wat met groot genoegdoening die draak met homself steek met ’n glinster in die oog.
Neels sê dit is vleiend om Frikkie te wees. “Ek dink ek het sy vriendelike eienskappe. Hy het ’n soort sjarme en opregtheid, maar ek kan nie al die krediet vat vir die sukses van die advertensie nie. ’n Mens kan nie toneel speel as iemand nie die ligte aansit nie. Dis ’n briljante advertensie, dit bring mense van verskillende rasse bymekaar. Al verstaan ons mekaar soms verkeerd, is alles oukei, op die ou einde gaan dit oor nasietrots.”
Behalwe vir rolle in Backstage, Egoli en Hardcopy, kry Neels in 2005 eindelik die televisiedraaiboek met vleis, waarin hy werklik sy tande kan slaan met ’n rol wat hy sy eie maak. Hy is Morné Liebenberg, uithalerwynmaker in die uiters gewilde reeks Known Gods en deel die skerm in dié wynlanddrama met onder andere Sandra Prinsloo, Jan Ellis en Antoinette Kellerman.
Soos die wynstreek se dramas ontvou en die karakters hul ware kleure begin wys, neem Neels se gewildheid toe. Morné Liebenberg word deel van mense se daaglikse lewens. Maar dan kom die reeks tot ’n einde en dis ’n ruk voor Neels hom in ’n ander gedaante voor die kameras bevind.
Die wingerde en wyn is netjies geruil vir die geheimsinnige hospitaalgange van die M-Net-sepie Binnelanders. In die beste wynboer in die distrik se plek is die vernuftige dr. Gideon Basson wat hard konsentreer op nieroperasies en die verpleegpersoneel se harte gevaarlik vinnig laat klop, salig onbewus van sy naïewe sjarme. Maar wat dink Neels van dokter Basson. “Hy is ridiculously clumsy, ’n goofy intellectual. Maar hy doen operasies, nie emosies nie. Bottom line.”
Ek vra of dit moontlik is om die tyd net so ’n bietjie terug te draai. Waar het sy loopbaan begin? In 2002 ís hy Uys Krige in Die goue seun en wen die Slurpie by die KKNK vir beste nuweling.

Marthinus Basson, swaargewig-teaterregisseur,
ontdek die goue seun
Oor sy rol as Uys Krige in Die Goue Seun sê Neels sonder om te aarsel en vol oortuiging dat “dit is waar alles eintlik begin het”.

Grethe ontmoet ’n paar jong manne met moontlikhede, maar val totaal vir ’n talentvolle jong Stellenbosse vent: Neels van Jaarsveld. So iets van ’n Uys, voel sy. – Marthinus Basson, dagboekinskrywing 9 Februarie 2002.

Neels het nie eers nodig gehad om ’n oudisie te doen nie. Bekende aktrise, Grethe Fox, het met hulle eerste ontmoeting reeds besluit dat hy die ideale kandidaat vir die rol van Uys Krige is. En dít nadat Neels eers op sy pa se aandrang regte begin studeer het, maar toe tog sy honneurs in drama verwerf het. Drama is deel van wie hy is.

“Ek het Uys Krige geword, ’n metamorfose ondergaan. Dit het gevoel of ek besete is – ’n gereïnkarneerde Uys” – Neels.

Dan begin dinge onverwags vinnig kliek. Neels maak sy mond oop en dit is Uys, ou Uys, jong Uys  – Marthinus Basson, dagboekinskrywing 16 Februarie 2002.

“Uys se familielede het van regoor die land na die produksie kom kyk. Hulle het gesê dit was uncanny om hom weer te sien” – Neels.

Vanaand was al die oorblywende Uyse by ons sny-en-plakstuk. So ’n hele ry vol. Dogter, seun, suster, kleinkinders. Almal sê hy is Uys – Marthinus Basson, dagboekinskrywing 31 Maart 2002.

Ek vra hom oor sy flink tong in die Engelse produksies Jakes en New Day en hy noem die moontlikheid van ’n verskyning in ’n Agatha Christie-stuk later vanjaar. “Ek kan nie verstaan hoekom ek so goed Engels praat nie. Die Boss Man (Neels se benaming vir God) het van my ’n tweetalige woordsmid gemaak, wat my ’n geweldige voorsprong bo Engelssprekende akteurs gee.”
Die gesprek móét gaan stil staan by Boks. (Nie net omdat die bokser ’n stywe wit frokkie dra en bultende spiere en ’n sespak afwys nie, maar deels.) Neels wen die Kanna vir beste spel en Marthinus Basson die toekenning vir beste regie van die produksie waar die woorde seerder maak, rouer wonde laat as die fisieke afknouery. Waar die omvang van manlikheid en seksualiteit gerekende opponente/bondgenote in die kryt word.
Dit ís ’n groot aand. Dis ’n belangrike geveg, oor bloediger kwessies, pynliker as ’n mond vol bloed, ’n gebreekte neus. Die akteurs staan eerder met hul monde vol glas en spoeg die skerwe met groot bitterheid na mekaar, ’n gefoeter met woorde. Die matador en die stier, die stier en die matador, sonder verdowingsmiddels.
Vir Neels is Boks een van sy beste opvoering nog. Hy kan nie uitgepraat raak oor hierdie stuk wat oral met lof besing word nie. Hierdie intense ervaring op die verhoog is dalk ’n uitlaatklep vir dinge waaroor Neels nie graag praat nie. Hy verwys nie regtig na pyn of seerkry nie, die lewe se bokshandskoene en mondskerm is iewers weggebêre, maar dit laat Neels nie regtig blyk nie. Hy sê dit is ’n uitdagende en uitputtende rol.
“Ek moet my fisieke metamorfose kombineer met ’n kopskuif en ontaard in ’n bokser. Met Boks het ek besef hoe wonderlik ’n goeie regisseur is. Daar was tye wat Marthinus nie eens gekyk het nie, hy het net geluister. Quinton Krog (akteur en mede-Kanna-wenner) is amazing. In die begin het ons nie van mekaar gehou nie en het met vuil wilde oë oor die kamer na mekaar gekyk … toe raak ons comrades.”

Die akteur agter die akteur
Neels van Jaarsveld is geheimsinnig, sku om regtig oor homself te praat, al erken hy self dat roem en geld vir hom ’n groot trekpleister is. Hy gee ook beslis nie om vir die aandag wat hy dikwels van die skoner geslag kry nie. As dokter Gideon Basson eers behoorlik die gange van Binnelanders tref, gaan hy sukkel om net die verpleegsters in toom te hou …
Wanneer hy tyd het, lees Neels Mad magazine (“al van kleins af”) en al die tydskrifte oor branderplank ry wat hy in die hande kan kry. Dit is na alles die see en branders waarna hy byna onophoudelik verlang.
Hy hou van die oorspronklikheid van ’n boek soos Fear and loathing in Las Vegas deur Hunter S. Thompson (Johnny Depp was dié berugte skrywer in die gelyknamige rolprent) en het onlangs die semi-outobiografiese roman, A million little pieces deur James Frey gelees. “Ek hou van fliek, maar kry selde die geleentheid, maar Eternal sunshine of the spotless mind, Beeltejuice, City of God en The Big Lebowski is almal gunstelinge.
Neels sê mense se passie inspireer hom, mense wat lief is vir wat hulle doen en nie kla om die tyd om te kry nie. “Die classic underdog lê my ook nogal na aan die hart. “Maar as daar iets is waarvan ek niks hou nie is dit misverstande wat spruit uit mense se onvermoë om doeltreffend met mekaar te kommunikeer. ’n Mens moet eerder vra as om iemand se woorde of gedagtes verkeerd te interpreteer. Baie mense het natuurlik ook vooropgestelde idees, en neem aan hulle weet hoe jy is en waarvan jy hou. Ek hou nie daarvan as mense mekaar nie respekteer nie. En my grootste vrees is om te faal.”
As dit by drome kom, wil Neels baie graag ’n suksesvolle akteur wees. Miskien is dit die tikkie beskeidenheid wat hom ’n oomblik laat vergeet dat hy wel diep, belangrike spore in die bedryf trap … “Vandat ek kan onthou, wil ek ’n akteur wees. Ek was altyd die klein entertainertjie”. Hy het as kind vir die wêreld konsert gehou en in hoërskool in al wat ’n opvoering is, gespeel.   “Ek wou nooit iets anders doen nie. Ek waardeer die respek van mense en hou daarvan dat ek keuses kan maak wat my stimuleer. Ek hoop kapitaal is wel op ’n dag nie meer ’n probleem nie, want ’n gebrek aan kapitaal krenk jou kreatiwiteit.”
Neels beplan om in 2008 New York te besoek. Die stad hou vir hom ’n bekoring in en hy wil self gaan sien waaroor al die bohaai gaan en dalk probeer om daar ook naam te maak. “En Kuba, hoofsaaklik vir die sigare en machito-skemerkelkies.”
Neels het ’n magdom vriende, maar die mense naaste aan sy hart is eerstens sy ma Lydia wat in Rawsonville bly. Hy vertel sy is sy grootste bewonderaar en dat dit altyd lekker is hom haar te sien, al is sy ver gesels hulle gereeld. Hy beskou Marthinus Basson as sy mentor en sê sy oorlede oupa Cornelis Johannes Frederik Human. (Neels het al die name geërf, met slegs Cornelius as ’n effense wysiging.) “Hy was ’n baie wyse mens, baie nederig. Dan is daar vanselfsprekend die Boss Man waarsonder ek nie kon wees wie ek is nie.”
Neels sonder ook die bekende dramaturg Saartjie Botha uit, met wie hy al jare aan produksies werk en verskriklik bewonder. “Sy is ’n wonderlike mens. Sy som jou op sonder om dit te probeer doen. Saartjie weet meer as enigiemand anders.”
Saartjie het ook die teks vir Altyd Jonker geskryf waarin Neels weer Uys Krige wórd. Sy skryf, “ … dit gaan oor ’n lewe, ’n stryd wat lewe is … die dood preserveer die wat jonk sterf, sagkens”.

En daar was lig
Toneelspel. Akteurwees. Dís Neels van Jaarsveld se “derms”. Sy grootse talent. Daar is soveel verwysings na sy briljante spel. Hoe voel hy oor al die bewondering? “Dis wonderlik! My lewe is amazing … en ongelooflik besig. Dis harde werk, maar ek geniet elke oomblik daarvan. Bekendheid gee jou ’n voorsprong en ek is mal oor die aandag. Dit gee my kanse wat ek nooit voorheen sou gehad het nie. Maar ek is blinded by the light.” t
ertius Kapp is die medeskrywer van Sielsiek, ’n de-buutproduksie op Aardklop, waarin Neels ook speel. Sielsiek word in die tradisie van De Familie Wagenaer en Skroothonde opgevoer, konsepsuele stukke waarin Neels almal gespeel het en waarby beide Tertius Kapp en Willem Anker as skrywers betrokke was.
Dis ander teater dié en die uitsonderlike skryf en konsep-tualisering daarvan is grootliks te danke aan Tertius Kapp en Willem Anker. Daar is nie ’n verhoog nie. Óf helder ligte om die gehoor se uitdrukkings te verskans nie. Óf ’n effense skemerte waarin die teatergangers hul veilig kan voel en hul afgryse en vreugde kan verdoesel nie. Hierdie is teater wat jy kan sien, hoor, ruik, proe en feitlik aan kan vat.
Is die term “realiteitsteater” vergesog? Aangesien spel nou sonder die “verhoog” gebeur, kan die gevoel van ’n groter, oortuigender werklikheid benut word omdat verwagtings oortref en talent tot die uiterste beproef word. As “deel van die proses” voel die besoeker dalk nader aan die menslikheid, die hulpeloosheid, die besetenheid van die karakter wat onder jou vel inkruip, aan wie jy selfs sou kon raak.
Dié fisieke, “tasbare teater” is ’n verbeeldingsvlug soos min, uitdagend vir die akteurs én die gehoor wat hul teatergeriefsone doodeenvoudig moet laat vaar.

De Familie Wagenaer
In De Familie Wagenaer is Neels halflyf in ’n graf saam die res van sy gesinslede wat elkeen hul eie plekkie beklee in ’n koue huis, die familie wat bly spook om hul stories te vertel. Die klank kan (as dit moet) behartig word deur jakkalse, rondloperhonde, goed-wat-rondskarrel-in-die-nag en die beligting word skalks aangehelp deur die maan en sterre.
“In De Familie Wagenaer het ons baie fisieke werk gedoen, waar ons props moes aanmekaar sit en grafte grawe. Almal het ’n bydrae gelewer en daar was nie ’n definitiewe hiërargie nie, wat ongelooflik was. Tertius Kapp plaas ’n mens in ’n posisie om rolle te speel wat jy nooit gedink het moontlik is nie.
“My karakter se onderlyf is deur ’n bom weggeskiet en
daar moes derms voor my lê om dit realisties te laat lyk. Tertius het skaapderms by die slaghuis gaan kry. Maar toe ek dit sien en ruik was dit soos Days of Chunder. Die derms vir die superrealistiese nagmerrie is toe vervang met wors met
bloed oor.”
’n Regte “prop” het homself wel gratis vir die opvoerings beskikbaar gestel, die “resident vlermuis. ’n Meisie en haar ou het ingestap en toe hy opgewonde die inwoner vir haar wys, het sy neus-in-die-lug gesê ‘dis tog net ’n speelgoedvlermuis’. Dit was vir my baie snaaks.”

Skroothonde
Neels is Kwik in ’n “post-apokaliptiese droomwêreld” waarna hy verwys as “guerilla-teater”. “Ek moes die as van ’n kar om my nek dra en ons het allerhande gereedskap gebruik en transformeer om te lyk soos verskillende goed, soos futuristiese septers. Ek was vuil, my hande was vuil, ek kon nie die ghries afkry nie.”

“Ek het die klomp gesê te min gode beteken net een ding, robothonde wat vuur en swart pis laat reën. Vir elkeen sy eie godjie en elkeen ewe klein. Dan is alles heilig en niks is te heilig nie. Dit het goed geklink. Maar een het weer oorgeneem, haar olierige vingers in alles loop insteek en alles laat binnebrand en jaag. Petrol jy het te nodig geword.” – Kwik (die karakter wat Neels speel) se woorde is ook op Neels as persoon van toepassing. Hy is bewus daarvan dat ’n akteur nooit te gemaklik moet raak nie, dat hy wel van tyd tot tyd terug aarde toe gebring moet word, en dat roem maklik ’n afgod kan word.

Sielsiek
Tertius Kapp, medeskrywer van dié stuk wat op Aardklop debuteer, het een of twee ape uit die mou gelaat.
In Sielsiek gaan die teaterganger die voormalige inwoners van ’n geestesinrigting ontmoet. Van die sielsiekes is “ontvoer” deur ’n dokter wat die kluts kwyt raak en sy eie inrigting skep.
Die goeie dokter word vergesel deur sy assistent (die pasiënt), en ’n keuse van verteenwoordigende argetipes wat tipiese verhoudings uitbeeld: tussen pa en seun, ma en seun, baas en dienaar, misbruiker en slagoffer, en die as waarom alles draai: die minnaars.
Oor sy spel in Sielsiek sê Neels: “In die stuk is ek ’n skrywer met ’n mallerige gesplete persoonlikheid: Barnard aan die een kant en Brian aan die ander. Ek is ’n mens wat nie meer ’n anker het nie. Die laaste ding wat jy het, is jou siel en as dit weg is, het jy niks nie. Dis ’n plek waar ek nooit wil wees nie.”

Barnard: “Jy ken miskien die reëls, maar ek kan die game speel. Kan god ’n rots maak wat hy nie kan breek nie? Sure. Maar sodra hy die rots gemaak het, kan hy dit breek.
En sodra hy dit gebreek het, is daar geen bewyse dat hy nie ’n rots kon maak wat hy nie kon breek nie. Die wêreld is een groot loophole, baby. En die duiwel het al die advokate aan sy kant.”

Brian: “Waar is my woorde? Waar is my meesterstuk? Was… was hy hier? Wie was dit?
Was dit jy? (Aan iemand in die gehoor) Hoekom? Wat kan jy moontlik daarmee doen? Dis my derms, gee dit terug!”

Bitterbessie dagbreek
Hierdie is een van die gedigte wat aangehaal word in die produksie Altyd Jonker, waarin Neels op
Aardklop te sien is. Die eerste strofe van die gedig is op Neels se rug geskryf.

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

Papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son

Deur Martie Bester Foto’s Neil Kirby

Be Sociable, Share!

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.