DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Agterblad

Van krag tot krag

Geplaas deur op 27.01.10Geen Kommentaar

krag

Terwyl Mei 1968 se opstande van werkers en studente in Frankryk in volle swang was, en later van figure soos Derrida, Foucault en Lyotard supersterre sou maak, het Régis Debray duisende kilometer van Parys af in ’n Boliviaanse gevangenis tronkstraf uitgedien vir sy sameswering met Che Guevara om die Boliviaanse regering in ’n revolusie omver te werp.
Debray was deel van ’n groep studente wat aanhangers was van die groot Franse vertolker van die Marxisme in die 1960’s, Louis Althusser.
Latyns-Amerika, wat ná die Kubaanse revolusie aan die einde van die 1950’s in ’n politieke stroomversnelling beland het, is deur Althusser en sy studente as die groot laboratorium van die Marxistiese revolusie beskou.
Teen dié agtergrond skryf Debray in 1965 ’n uiters invloedryke boekie van revolusionêre teorie, wat in Engels vertaal is as Revolution within a revolution en ook wyd in die ANC en die SAKP gelees is. Kennis van die boekie bereik Fidel Castro, wat dit in Spaans laat vertaal en derduisende daarvan laat druk en versprei deur Latyns-Amerika. Debray verwerf op 25-jarige ouderdom heldestatus in Latyns-Amerika en bring soveel moontlik tyd daar “op die terrein” deur.
Tydens die ekspedisie met Guevara word hulle gevang en Guevara self later doodgeskiet. Vanselfsprekend word die jong Debray hiermee in ’n krisis gedompel, want “objektief” gesien was al die voorwaardes vir ’n revolusie in Latyns-Amerika in plek. Hoekom het die revolusie dan gefaal? vra hy homself af.
In sy soeke na ’n antwoord wend die jong Marxistiese Debray hom na die geskiedenis van die religie. Hy doen dit teen die agtergrond van die besef dat meer nog as enige moderne politieke beweging, die religie die wêreld verander en bowendien groter duursaamheid as enige politieke ideologie verwerf het.
In die volgende tien jaar begin Debray die grond lê vir wat hy vandag die “mediologie” noem, oftewel die studie van oordrag. Wat moet gebeur voordat idees ’n samelewing verander? is die vertrekvraag van die mediologie.
Debray antwoord dié vraag vanuit sy insig dat enige simboliese stelsel – soos ’n religie of ’n politieke stelsel – ook materieel gesteun moet word, of materieel neerslag moet vind. In Media Manifestos (Engels vertaling 1996) verduidelik Debray byvoorbeeld dat die Franse Revolusie nie soseer deur die filosowe soos Voltaire, Diderot of Rousseau veroorsaak is nie, as deur daardie materiële dinge wat die sirkulering van hul idees moontlik gemaak het: ’n goeie padstelsel, ’n goeie posdiens, drukkers, literêre salons waar die idees bespreek is, pamflette wat onder die bevolking versprei is, ens.
Debray se eerste groot werk waarin sy idees sistematies uitgewerk is, is Critique of Political Reason (Engelse vertaling 1983), met die veelseggende subtitel in Frans, “Oor die religieuse onderbewuste”. Sy basisargument is dat die politiek verstaan moet word aan die hand van die religie. Enige suksesvolle politieke beweging benodig ’n hoër ideaal wat rondom ’n groep tot stand kan kom. Instellings (skole, universiteite, state, partye) is nodig om die idees oor te dra, asook charismatiese vertolkers van die idees wat as leiers kan optree. Debray se insig is dat die politiek, soos die religie, inspeel op die mens se gegewe “onvoltooidheid”, en dat hy “voltooi” word deur die kollektiewe samekoms rondom ’n hoër, bindende beginsel of ideaal.
Waar hy die religie eers as invalshoek vir die politiek gebruik het, ondergaan hy nog ’n wending vroeg in die nuwe millennium, wanneer hy in dieselfde maand as Al-Kaïda se terreuraanvalle op die VSA op 11 September 2001 sy eerste groot werk in die studie van die religie as sodanig publiseer, naamlik God: An Itinerary (Engelse vertaling 2003). Hierin vra hy die vraag hoe die triomfering van die monoteïstiese Godsbeskouing van die Joods-Christelike tradisie aan die hand van materiële geskiedenis eerder as religieuse verklarings verstaan kan word. Byvoorbeeld, hoe is dit moontlik, materieel gesien, dat die Jode se monoteïstiese Godsbeeld, oftewel ’n beeld geglo deur ’n klein nomadiese groepie mense swerwend in die woestyn tussen twee groot wêreldryke, Egipte (wat 35 eeue as ryk bestaan het) en Assirië, oorleef het? Antwoord: die Jode se God is veel “mobieler” as dié van Egipte en Assirië – die ark trek saam met die Jode, terwyl Egipte en Assirië se gode enorme, stilstaande klipbeelde is. Dan ook: die Jode dra hul religie met skrif oor, wat ’n dodelik effektiewe manier in die antieke, mondelinge wêreld was.
Debray se laaste groot werk, wat ongelukkig nog nie in Engels vertaal is nie – Le Feu sacré: Fonctions du religieux (“Die sakrale vuur: Funksies van die religieuse”) – is een van die groot apologieë vir die religie in ons tyd. Trefseker wys Debray dat die afgang van die religie wat vanaf Hegel in die vroeë 19de eeu voorspel is, eintlik net tot Wes-Europa beperk is. Wêreldwyd gaan die religie vandag van krag tot krag, sodat die wêreld vandag voor ’n sleutelvraag te staan gekom het: hoe verseker ons dat die religie die verheffende krag van ’n Pous Johannes Paulus II of ’n Dalai Lama bly, en nie ’n doodskrag soos dié van ’n George W. Bush of ’n Osama bin Laden word nie?

Deur Johann Rossouw

Be Sociable, Share!

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.