Bok van Blerk: onwillige ikoon
Dié Bok klink nie na een vir sports nie, dink ek by myself nadat ons telefonies afgespreek het waar om te ontmoet vir ’n onderhoud.
Bot, stuggerig, allesbehalwe soos iemand wat pu-blisiteit soek of dit geniet. Moeg vir die media? Waar-skynlik.
Google jy die naam Bok van Blerk, vind die soek-masjien binne 0,08 sekondes 83 600 verwysings. Want Bok se “De la Rey”-liedjie was die finale vonk in ’n smeulende kruitvat oor patriotisme en Afrikaanswees.
Binne maande nadat die CD vrygestel is, het “De la Rey”-verkope reeds drie keer platinumstatus behaal. Vir die wat nie weet nie: platinumstatus beteken jy het meer as 40 000 albums verkoop, en teen druktyd einde Februarie was die album op 140 000 en al halfpad op pad na ’n vierde platinumtoekenning. Of sewe goue plate, as jy soos Bok se agent Theresa du Preez, fyn wil spog.
Wat dié musikale nuweling se verkope in die ka-tegorie van ervare kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Theuns Jordaan plaas – glad nie sleg vir iemand wat ’n jaar gelede vir die eerste keer by die KKNK opgetree het nie.
Maar wie is die De la Rey-man, alias Bok van Blerk, alias Louis Pepler, nou eintlik?
Op pad na ons onderhoud in Pretoria kry ek ’n SMS. “Gaan 20 minute laat wees. Werk aan ’n ding vir Rapport.”
Hmmm, dink ek, gawe verandering van jou gemid-delde celeb wat dink joernaliste is daar om te laat wag.
En toe is Bok/Louis eintlik allesbehalwe stug en moeilik. Maar moenie dat die lawwe verhoognaam van die heer Louis Pepler jou mislei nie. Hy kán voet neersit. Soos toe hy besluit het ons onderhoud is die laaste met die media vir ’n lang, lang tyd.
Hy is moeg vir die media, moeg vir die politieke debat oor De la Rey, moeg vir die kritiek dat dit ’n oproep tot oorlog is. “Ek sing nie ‘bring jou masjiengeweer’ of ‘kill the Boer nie’!”
Verder is hy sommer net moeg, gaap hy oor ontbyt. Seker normaal as jy minstens vyf aande ’n week iewers optree en tot diep in die nag nog klanktoerusting help oppak.
Hy het nie die groot reaksie op “De la Rey” verwag nie. “Ons het geweet dit was ’n goeie liedjie, maar nie dat dit so ’n groot debat sou ontlok nie.”
Die “ons” is natuurlik hy, Johan Vorster en Sean Else van Mozi Records, wat hom ontdek het.
En hy wil ook net sê dat hy nie net met sy stert in die botter geval het met iemand anders se liedjie nie. “‘De la Rey’ sou nooit gebeur het as ons drie mekaar nie ontmoet het nie. Ek het vir hulle vertel hoe ek dink en ons het daarna besluit watter rigting ons met die album wil inslaan.”
En watter rigting was dit? “Iets wat sê wie en wat ek is: patrioties en trots Afrikaans. Gaan luister maar na ‘Praat nog steeds my taal’, Johan se song waaraan ek heelwat verander het.”
Ja, daar is ’n lawwe liedjie of twee en liedjies oor meisies ook op sy CD, maar dis óók hy. “Ek was nog altyd ’n entertainer, ’n grapgat, en ek hou van rugby en braaivleis en bier. Maar ek het ’n baie ernstige kant ook.”
En dis dié kant – wat graag vir Siener van Rensburg én Nelson Mandela sou wou ontmoet – wat nou te veel in die kollig is na sy sin. Wie sou hy wees as hy iemand anders kon word? “Seker maar ’n surfer iewers op ’n eensame eiland,” lag hy, wyemond. “Solank ek net uit die kollig kan wees.”
Maar ernstig of te nie, ’n deel van hom verstaan glad nie die politieke geskarrel rondom sy liedjie nie. “‘De la Rey’ is patriotisme, nie politiek nie. Radio Kalahari en Klopjag sing wat my betref baie meer politieke goed. Ek dink eerder die politieke reaksie het gekom nadat die mense daarbo gesien het hoe groot my fan base is. Hoeveel mense kom luister en kom sing saam …..”
Hoekom ’n De la Rey-liedjie skryf, wonder ek? “Weet jy nou nog nie?” vra hy half verbaas. “Omdat ek gatvol is dat ons altyd agter in die tou moet staan net omdat ons Afrikaans is. En omdat ek moeg is dat Afrikaans afgejak word deur al wat ’n radiostasie is. Ek is sóóó moeg vir al die ou rockspaaider-grappies oor Afrikaans en Afrikaanse musikante.”
Hoekom dink hy het “De la Rey” by soveel mense ’n noot geslaan? “Dis ’n sensitiewe tyd in ons land. Ons is die huidige benadeeldes, nie die voorheen benadeeldes nie.
“Ons moet trots wees op Afrikaans, op ons Afrikaner-skap, op ons kultuur. Suid-Afrikaners is ’n reënboogna-sie, maar ons moenie vergeet Afrikaans is een van daardie kleure nie.”
Hy is nie polities grootgemaak nie, al het hy op ’n plaas in die Donkerhoek-distrik buite Pretoria groot-geword. “Net omdat Radio Pretoria daarvandaan uitsaai, beteken dit nie almal daar is regs nie. Ons Peplers was altyd maar die linkses, NP, jy weet,” vertel hy, en laat val dat sy naamgenoot-oupa “iets in die parlement gedoen het” saam met Pik Botha.
Veralgemenings en vooropgestelde sienings is bo-aan sy lysie van dinge wat hy haat: die ander is lieg en diskriminasie. “En as mense jou benadeel om hulself te verryk.”
Pa Louis en Ma Salome was nog altyd sy rolmodelle. Nadat sy pa sy stoel in die sakewêreld in 1994 moes ontruim weens regstellende aksie, wou hy “meer doen as net die swembad skoonmaak”.
Toe plant die Peplers ’n paar hektaar onder kitsgras, en sy ma begin ’n roosplaas. “Sy is deesdae weer ’n radiografis, en is ’n ongelooflike liefdevolle mens wat altyd iewers besig is met welsynswerkies. ”
Sy pa doen nog steeds kitsgras, ’n onderneming wat hy eintlik begin het sodat Louis dit ná sy studies kon oorneem. Maar hy het die konstruksie- en projek-bestuurswêreld verkies. En sedert November is hy na-tuurlik heeltyds musikant, ’n droom wat hy nooit gedink het sou waar word nie. Veral nie vir ’n ou wat homself leer kitaarspeel het uit ’n kitaardrukboek van Koos Kombuis nie …
Louis is die middelkind tussen twee susters, Andrea en Charlene. Ly hy aan die middelkindsindroom? ”Wat’s dit?”, vra hy doodernstig, antwoord dan. “Ek kom uit die beste gesin in die wêreld.”
Hy’s nie eintlik ’n leser nie, maar het wel oor die Boere-oorlog begin lees om meer daaroor uit te vind. Op die oomblik lees hy Koos Kombuis se Seks, drugs en rock ’n roll.
Koos was een van sy musikale invloede, erken hy, maar Valiant Swart seker die grootste invloed. Hy het as kind ook baie na Anton Goosen en David Kramer geluister. (Later, op pad huis toe, hoor ek so ’n glimps van David Kramer se soort humor in die liedjie “Hatfield Jol”, waarvan Louis die medeskrywer is.)
“Ek is eintlik ’n rock en roll-ou: Dire Straits, Bruce Springsteen, Rolling Stones.” Soms selfs bietjie ACDC. En natuurlik ons eie Springbok Nude Girls.
Eendag wil hy nog na die musikale hoofstede van die wêreld reis. Nashville en New Orleans trek hom. Oor die musiek.
Hy was darem al ná skool oorsee om, soos menige ander Suid-Afrikaner, daar te gaan werk. “Ek is hier weg met R580 en ’n tas vol sigarette. Sigarette was daar vrek duur, en ons het hier R5 ’n pakkie betaal. R50 ’n boks. Dan verkoop ek daar anderkant ’n pakkie vir £2,50. Die eerste twee pakkies betaal dan die karton – die res is skoon wins.”
Hy en sy pêl het vinnig ander Suid-Afrikaners raak-geloop en heel lekker gebly. “Maar ons het ook soms in ’n park geslaap. Ons was daar met prinses Diana se dood. Van my pêlle het in Kensington Gardens gewerk, en moes elke dag die honderde bosse blomme op-ruim. Man, ons het darem die meisies getreat met al die blomme wat ons aangedra het!” Hy lag lekker.
Daarna is hy Rotterdam toe waar hy so half per ongeluk vir die plaaslike rugbyklub op ’n “soort van mi-ni-kontrak-basis” uitgedraf het. Die “Mark Andrews from South Africa” het hulle hom genoem. “Ek was lekker fiks van al die sementsakke wat ek rondgedra het in die konstruksiebedryf,” onthou hy.
Hy belê sy geld in eiendom, maar kan glad nie besluit waar die mooiste plek in Suid-Afrika is nie. Sy droom-eiendom sal ’n stukkie Bosveld langs die see wees.
Want so lief as wat hy vir die veld is, net so lief is hy vir die see. “Ek hou van diepsee-visvang, en het al ’n marlyn aan die hoek gehad, maar hy het weggekom.”
Roofvis vang laat hom tiek. “Dis ’n groter kuns as gewone visvang. Hulle veg meer.”
Hy snorkel ook graag en hou van visskiet. Skuba is “soos voëlkyk – jy sien mooi goed, maar kom met leë hande huis toe.”
Dan’s dit tyd om te groet. Maar net ’n laaste vraag aan die ernstige kant van Louis Pepler: wat is die oplossing vir ons land se misdaadprobleem?
“Ons moet almal help waar ons kan. Ons kunstenaars kan ons deel doen deur op te tree by konserte teen misdaad soos wat vir 1 Mei beplan word. Ons moet sigbare polisiëring kry, en alle seuns moet ná skool vir ’n jaar se verpligte diensplig aanmeld.”
“Dan kan hulle die polisie ondersteun, maar terself-dertyd gaan ons ’n nuwe kultuur skep waar iemand nie meer misdaad gaan doen nie. Gaan kyk maar, dis die jonges wat iemand skiet vir R20 of ’n vrou voor haar man verkrag.”
Polities naïef, soos Max du Preez beweer? Ek dink nie so nie. Patrioties, ja, en berekend, beslis. Want is ons nie almal moeg om ekskuus te sê dat ons Afrikaans is nie? En is almal in die land – wit, swart, Engels en Afrikaans – nie moeg om slagoffers te wees nie?
Ons is reg vir ’n De la Rey, ’n man wat ons kan help opstaan in ’n land wat brand van misdaad en armoede, wat knak onder korrupsie en vigs. Maak nie saak wat sy van is nie …
Lees gerus meer oor Wie’s De la Rey?













Lewer kommentaar!