DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Artikels

Wie’s De la Rey?

Geplaas deur op 27.01.10Een Kommentaar

delarey

Teen die einde Januarie 2007 is reeds 100 000 CD’s van Bok van Blerk (Louis Pepler) se debuut-album De la Rey verkoop – 75 000 verteenwoordig platinum status.
Die reusagtige trefferstatus van die album is hoof-saaklik, moontlik uitsluitlik, te danke aan die titellied “De la Rey”. Koos Kombuis het, tot sy aanvanklike ontsteltenis by die eerste aanhoor van dié snit, besef “dat dit een van die beste liedjies is wat ek nog ooit in Afrikaans gehoor het”. Hierna het hy tydens sy omswerwinge gevind “hoe huge die song is”:
“Van Malmesbury tot in Mpumalanga hou Afrika-anse gesinne ‘Bok van Blerk-paarties’; aande waar-tydens daar gebraai word, bier gedink word, en die liedjie ‘De la Rey’ op repeat gespeel word, oor en oor, uur na uur na besope (?!) uur.”
“Bok van Blerk is skielik nie meer ’n musikant nie. Hy is ’n fenomeen. Hy staan vir ’n ‘idee’” – (Google Desktop, Internet).
Sean Else van Mozi-rekords, wat “De la Rey” in samewerking met sy vennoot Johan Vorster geskryf het, het die verbysterende suksesverhaal allermins voorsien en het nog minder ’n nuwe Afrikaner-bewuswording in gedagte gehad.
Maar bekendes reageer uiteenlopend op die sukses van “De la Rey De la Rey,/ Kan jy die Boere kom lei?”
Niekie van den Berg van “Sê wie”-faam het (was dit argumentsonthalwe?) die liedjie voorgestel as ’n militante, regse oorlogsverklaring. Johann Rossouw verskil hiervan: die “hoogs relevante liedjie” gaan oor ’n gebrek aan leierskap en is deel van “die wêreldwye demokrasiebeweging” wat die kommuni-kasietegnologie inspan om huidige heer-sersimbole met alternatiewe simbole uit te daag. Die simbole giet ou waarhede in nuwe vorme en gee daardeur mense nuwe energie. “Dit is presies wat ‘De la Rey’ doen deur ’n deugsame leier van die era van die gesproke woord (logosfeer) te laat herleef in die era van die oudiovisuele” (Byvoegsel tot die Die Burger, 27 Januarie)
Deon Maas verplaas “De la Rey” na die teater van die absurde met lagwekkende voorstelle oor wie die leier kan wees, aangesien De la Rey nie in die hiernamaals kan lei nie: byvoorbeeld Koos Kombuis, Steve Hofmeyr, Jake White, Graeme Smith en ’n leeulopende Robbie Wessels – die Leeu van Wes-Transvaal? (Bylae tot Burger, 16 Desember 2006).
Koos Kombuis het positief gereageer nadat hy uitgevind het dat Bok van Blerk vredeliewend en onpretensieus was en dat Generaal De la Rey eintlik ’n alternatiewe Boer was wie se ideale hy kan onderskryf.
Max du Preez skryf soos Max du Preez oor “De la Rey”: “Het ‘De la Rey’ die nuwe ‘En hoor jy die magtige dreuning’ geword? Ek dink nie so nie. Dis eintlik maar net Viagra vir adolessente puisiegesiggies en skaam-kwaad omies – dit laat hulle skielik baie viriel voel” (Byvoegsel tot Beeld, 3 Februarie).
Intussen storm die diskoers voort soos ’n destydse stormloop deur Generaal de la Rey se Boere. Beeld, 7 Februarie, bevat drie berigte oor die liedjie. Pallo Jordan, minister van kuns en kultuur, wens Bok van Blerk voorspoed toe met die liedjie, maar waarsku dat regses dit kan kaap en tot ’n “struggle song” kan maak om Afrikaanssprekendes teen die regering op te sweep. Wilhelm Jordaan, buitengewone professor in sielkunde aan Tuks, meen juis dat die liedjie onder regse kringe “die embrio van ’n nuwe militansie teen die owerheid” bevat en deur die beroep op die generaal as redder (die deugde van militarisme) “word ’n teelaarde geskep vir ’n nuwe militarisering van die manlike gees.”
Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront+, meen dat die politieke verlede van verskillende geslagte Afrikaners breedweg hul reaksies op die liedjie bepaal.
Die geslag van Verwoerd en Vorster, ouer as 55 jaar, die “What went wrong”-geslag, dink die liedjie kan die begin wees van ’n Afrikanerherlewing en die terugwen van dinge soos dit was. Die P.W. en F.W.- geslag, tussen 30 en 55: die “Boetman-geslag”, voel kwaad en misbruik en meen dat “laertrek” die fout was. Hulle is baie versigtig oor die liedjie en luister eerder na die wysie as die woorde.
Die jeug – jonger as dertig jaar – “Mandela en Mbeki se kinders” se mening volg hier onder. My artikel, lig hul reaksie toe wat grotendeels ooreenstem met Mulder se mening, wat ek daarom nie hier gaan herhaal nie.
Dirk Herman van Solidariteit is die enigste wat ’n groot groep jeugdiges – hoofseuns en -meisies, onderhoofseuns en -meisies van Afrikaanse skole – gaan ondervra het. Antwoorde wat Herman gekry het, is: “Ons soek weer ons identiteit. Ons is trots Afrikaans. Ons party in Afrikaans. Ons wag nie vir leiers nie; ons gaan iets doen. Ons beoefen ons politiek deur ons kunstenaars. Ons is klaar met die skuld-van-die verlede-issues. Ons gaan bly, maar ons gaan stry.”
Hierdie groep is volgens Herman: “’n Jong geslag wat anders dink, ’n geslag wat oor die afgelope twee, drie jaar ’n heel nuwe identiteit ontwikkel het en in die woorde van een van die jeugleiers: ’n De la Rey-geslag.”
Een van hulle het gesê: “Toe Bok sing dat ons Boere is, toe besef ons self ons is Boere. Ek moet erken dat dit nogal bevrydend is om iemand te wees.” (Rapport, 28 Januarie)
Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK benadruk: “ … dat die oproep wat in die lied vervat is, die versugting weerspieël na ’n jong en lewenskragtige identiteit …” Volgens Goosen is die “De la Rey-geslag” in pas met “die toe-eiening van oop en demokratiese identiteite” wat ’n wêreldwye verskynsel is.
Twee vrae dring hier na vore: eerstens, vanwaar die verowerende gewildheid van die liedjie “De la Rey”?
En tweedens: wie was dié De la Rey waaroor dit hier gaan?
Luister jy na die liedjie “De la Rey”, sy vloeiende, maklike melodie, sy woorde, Bok van Blerk se voor-drag daarvan en kyk jy na die begeleidende video, dan helder ’n deel van sy trefkrag reeds op.
Die liedjie laat deur ’n hoogsgelade woordekern en ’n aantal flitsende beelde ’n heroïese en waardige fase van die Afrikanergeskiedenis herleef, terwyl baie Afrikaners onder post-apartheid
eintlik onder die persepsie van ’n misdadige Afrikanerverlede gebuk gaan of in ’n gevoel van geskiedenisloosheid ontsnap.
Dink maar:
“En my huis en my plaas tot kole verbrand sodat hulle ons kan vang …
“Want my vrou en my kind lê in ’n kamp en vergaan”.
Maar nog meer as die woorde roep die beelde Boere se epos van leed en stryd ter wille van vry-heid voor die gees. Afrikaners herontdek daarin ’n edele, besielende geskiedenis – só anders as hul apartheidsverlede wat hulle liewers wil vergeet. Dit geld veral vir die Afrikanerjeug wat soveel te ly het onder regstellende aksie en transformasie as boetedoening vir verledeskuld waaraan hulle geen, maar geen, aandeel gehad het nie.
Tweedens: Wie was hierdie gen. de la Rey? Hoe het hy gelei? Kan hy vir Afrikaners met hul versugting na ’n leier wat hulle uit die post-apartheid woestyn kan lei, ’n rolmodel wees?
Kom ons kyk na enkele grepe uit De la Rey se rol in die Anglo-Boereoorlog
Tydens ’n geheime sitting van die Volksraad aan die vooraand van die Anglo-Boereoorlog was De la Rey een van ses lede wat teen die oorlog gestem het. Toe pres. Kruger tydens die voorafgaande debat die lede wat teen oorlog gepraat het, as lafaards bestempel het, het De la Rey verklaar dat hy hom deur die besluit van die meerderheid sou laat lei en gesê: “U sal my in die veld aantref nadat u en die spul wat met hul monde veg, lankal gevlug het.” En De la Rey het inderdaad tot die bitter einde geveg!
In November 1899 bevind die 42-jarige De la Rey hom as veggeneraal en amptelike raadgewer van die bevelhebber, genl. Piet Cronjé, aan die Wesfront waar die burgers met die beleg van Kimberley besig was.
De la Rey het met sy geniale militêre aanleg en aanvoeling vir militêre posisionering ’n nuwe strategie ontwerp teen ’n massiewe aanval deur lord Methuen, wat enige dag verwag is. Piet Cronjé, die senior bevelvoerder op die Wesfront, wou dat die Boere met die oog op goeie uitsig in die Magersfonteinrante stelling inneem. Daarteenoor het De la Rey gemeen dat loopgrawe in die Magersfonteinvlaktes gegrawe moes word aangesien die rante ideale teikens vir die verwoestende vyandelike kanonne sou wees. De la Rey het M.T. Steyn na die front ontbied en dié Vrystaatse president het De la Rey se strategie goedgekeur.
Die loopgrawe is dus in die vlaktes gegrawe en meesterlik gekamoefleer. Die Britte, deels as gevolg van swak spioenasie, het bly glo dat die Boere in die rante stelling ingeneem het en op 10 Desember met die grootse kanonnade tot sover in die geskiedenis daarteen losgetrek. Op 11 Desember het die Berg-skotte onder luit-genl. Wauchope hulle met die eerste oggendskemer onwetend trompop in die Boere-loopgrawe vasgeloop en is hulle eenvoudig deur akkurate Mauservuur afgemaai. Wauchope self het met sy lewe vir die vergissing betaal.
De la Rey, wat die skitterende Boereoorwinning moontlik gemaak het, het self nie aan die Slag van Magersfontein deelgeneem nie. Sy 19-jarige seun Adriaan is in die voorafgaande Slag van Modderrivier dodelik geword, terwyl De la Rey self deur ’n bomskerf in die skouer getref is en afwesig was om sy wond te laat behandel.
Toe die hordes Britte die Republieke oorstroom het, het ’n gesamentlike republikeinse krygsraad in September1900 besluit om stellingsgevegte te staak, in kleiner kommando’s te verdeel, tot ’n guerrilla-oorlog oor te gaan en verkieslik in gebiede te gaan opereer waarmee hulle bekend is. De la Rey is as assistant-kommandant-generaal aangewys om die kommando’s in Wes-Transvaal te lei. In hierdie hoed-anigheid het De la Rey die Wes-Transvaalse kom-mando’s gereorganiseer, die burgers gemotiveer en honderde van hulle wat moedeloos wapens neergelê het, tot die stryd teruggebring en selfs teruggedwing.
Nadat die Britse magte feitlik die hele Wes-Transvaal beset het, het De la Rey sedert die laaste maande van 1901 ’n briljante terugvegpoging aangevoer. De la Rey – die meester strateeg – het toegesien dat sy militêre inligting akkuraat was, sy kans afgewag totdat hy swakplekke in die vyand se posisie en bewegings geïdentifiseer het, die beskikbare kommando’s dan blitssnel saamgeroep en toegeslaan. Sy grondige terreinkennis van Wes-Transvaalse gebiede het byge-dra tot die posisionering van die kommando’s wat die vyand gewoonlik van drie kante aangeval het sodat hulle nie kon ontsnap nie.
De la Rey het sy onverskrokke en gevreesde stormjaagtaktiek tot ’n kuns ontwikkel wat van hom dié ruitergeneraal van die oorlog – en die Britte daar-by ingereken – gemaak het. Die perderuiters is in gelid, ongeveer drie tree uitmekaar, opgestel, die terrein is so gekies dat hulle tot op die laaste vir die vyand onsigbaar was en dan het hulle al skietende uit die saal op die paniekbevange Britte afgejaag. Met hierdie taktiek het De la Rey die Britte op 25 Februarie 1902 in die Slag van Ysterspruit ’n gevoelige slag toegedien.
Lord Methuen, opperbevelhebber van die Britse magte, wou Ysterspruit wreek. Op 6 Maart 1902 het hy met ’n saamgeflanste mag van 1 300 man by Tweebosch kamp opgeslaan, onderweg na Rooi-rantjiesfontein 40 kilometer suidwes van Lichten-burg, waar hy by ’n berede mag van 1 500 man onder Kekewich sou aansluit met die doel om De la Rey in die pan te hak.
Methuen se magte het op 7 Maart omstreeks drie-uur die oggend in twee konvooie in beweging gekom: die voetgangers en ossewaens eerste; gevolg deur die berede hoofmag van perderuiters en muilwaens.
Die kommando’s onder De la Rey het altesaam uit 750 berede burgers bestaan.
Genl. Van Zyl het met sy kommando die konvooie periodiek van agter af aangeval terwyl De la Rey hulle van voor ingewag het. De la Rey, haarfyn op die hoogte met Methuen se bewegings, het sy burgers in gelid opgestel. Hulle het rustig voortgery. Toe hulle oor die bult by Palmietfontein kom, het hulle Methuen se magte gewaar en De la Rey se burgers het nou die bevel van hul offisiere gekry om te storm.
Die Boereskutters het ’n paniekbevange vyand afgemaai. Toe hulle tussen Methuen se berede mag injaag, het laasgenoemde eenvoudig die hasepad gekies. Tweebosch het die kroon gespan op De la Rey se skouspelagtige oorwinnings.
Vier Britse offisiere en 64 manskappe het gesneuwel en 111 man is gewond. Die getal krygsgevangenes, gewondes ingesluit, was 859. Onder die reuse-buit van waens, karre, osse, perde en muile was ses kanonne met ammunisie waarvan een reeds in die Slag van Tweebosch gebruik is om ’n aantal Britte, wat die veekraal doodsveragtend verdedig het, tot oorgawe te dwing.
Aan Boerekant is agt dood en 26 gewond. Trouens, in al die gevegte wat De la Rey gewen het, het die Britse verliese dié van die Boere veelvoudig oortref ondanks die feit dat die Boere in bestormings oop en bloot was.
De la Rey het lord Methuen in sy bobeen gewond by ’n muilwa aangetref. Ds. J. F. Naudé, vader van Beyers Naudé, het as tolk opgetree, terwyl die twee generaals al tergende aan ’n woordgeveg deel-geneem het. Daarna het dr. Rennenkampf van die Boereambulans en Methuen se persoonlike dokter Methuen se wonde verpleeg.
Nonnie de la Rey, genl. Koos se vrou sedert 1876, wat al rondswerwende regdeur die oorlog uit die Kakies se hande gebly het, het die gewonde Methuen besoek wat ’n flou verskoning aangebied het vir die verbranding van haar plaashuis: De la Rey kon daarin geskuil en dit as fort gebruik het. Nieteenstaande die ellende wat sy en die Boerevroue as gevolg van Methuen se optrede verduur het, het Nonnie vir hom ’n gebakte brood en ’n geslagte hoender gestuur.
De la Rey het die gewonde Brit met dieselfde verrassende menslikheid behandel. Die burgers wou gehad het dat Methuen gevange gehou en verhoor moes word, maar De la Rey het hulle oorgehaal dat die generaal in sy eie rytuig en vergesel van sy eie dokter na Klerksdorp gestuur sou word waar hy die beste behandeling kon ontvang.
Tweebosch het gelei tot ’n lewenslange vriendskap tussen Methuen en De la Rey.
De la Rey het self nooit ’n geweer gedra nie, maar sy sambok waarmee by burgers bygekom het wat in stormlope doelbewus agter geraak het, het respek afgedwing.
De la Rey was ’n rysige, forse man – 6 voet 1 duim lank, met ’n indrukwekkende patriargale voorkoms. Vriend en vyand – selfs die groot Boerevyand lord Milner – het hulde gebring aan sy dapperheid, sy militêre briljantheid, sy menslikheid en edelheid. Onder die burgers, wat hom byna verafgod en hul lewens vir hom op die spel geplaas het, het De la Rey bekend geword as die Leeu van Wes-Transvaal. Sy groot beskeidenheid en nederigheid was egter opvallend en sy diepe godsdienstigheid het bygedra tot die besondere plek wat godsdiens in die kommando’s onder sy bevel ingeneem het.
Toe Koos de la Rey besef het dat die bitter einde aangebreek het, het hy as vredemaker na vore getree, gehelp om sy groot vriend, gen. De Wet, oor te haal om nie sonder die Transvalers voort te veg nie en sy deel, ook as politikus, bygedra om die burgers en die joiners en Boer en Brit ná die oorlog met mekaar te versoen.
De la Rey, De la Rey
Sal jy die Boere kom lei?
Ja, ’n man met sulke eienskappe sal die Boere of wie ook al kán lei!

Be Sociable, Share!

Een Kommentaar »

  • isabel marant shoes 2013 gesê:

    Hiya, I am really glad I’ve found this info. Nowadays bloggers publish just about gossips and web and this is actually frustrating. A good site with interesting content, this is what I need. Thanks for keeping this web site, I will be visiting it. Do you do newsletters? Cant find it.

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.