DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Artikels

Die keiser is kaal

Geplaas deur op 27.01.10Geen Kommentaar

keiser

Daar is ’n verhaal van ’n keiser wat so eiewys was dat hy almal se mening gevra het en na niemand geluister het nie. Die mense was so bang vir die keiser se reaksie as hulle nie met hom saamstem nie, dat hulle maar altyd sy lof besing het. Twee swendelaars het besluit om die keiser ’n poets te bak. Hulle het vir hom gesê dat hulle vir hom ’n pragkleed gemaak het, maar dat net baie slim mense dit kon sien. Daar was egter geen kleed nie. Die keiser wou nie sê dat hy nie ’n kleed kon sien nie, want dit sou beteken hy is nie slim nie. Hy het besluit om, soos sy gewoonte was, vir sy onderdane hul mening oor die kleed te gaan vra. Die keiser was kaal, maar hy het vas geglo hy het die mooiste kleed aan.
Die naakte keiser loop tussen die skare deur, trots op die pragkleed waarvan sy kleremakers hom oortuig het. Die skare juig hom toe: “Hoera vir die keiser se nuwe kleed,” roep hulle uit. ’n Klein seuntjie staan ook in die skare en roep verbaas uit: “Maar die keiser is dan kaal.” ’n Oomblik se stilte volg, daarna gons dit soos die mense agter hulle hande skinder. “Ek dog ek is die enigste een wat dink die keiser is kaal,” sê hulle vir mekaar. Die keiser word rooi van skaamte en storm terug in sy paleis. Dieselfde aand word die kastige kleremakers se koppe afgekap en ’n ware kleed word ontwerp.
’n Alternatiewe einde vir die storie is soos volg: Toe die seuntjie uitroep: “Die keiser is kaal,” het die swendelaars, wat hom vertel het hy het eintlik ’n pragkleed, vorentoe gehardloop en gesê: “U majesteit lyk pragtig, die seuntjie bedoel maar net u mou het effens opgetrek. Kom ons help u om dit reg te trek.” Die naakte keiser het trots verder gestap en daardie aand is die seuntjie se kop afgekap.
Die regstellende keiser stap ewe trots in Suid-Afrika se strate op en af. Almal roep uit: “O die keiser se kleed is so pragtig!” Groot besighede roep dit uit omdat hulle graag staatskontrakte wil behou. “Kyk net die pragtige moue,” roep die wit elite uit, want hulle is bang hulle word ook reggestel. “Wees verseker keiser, as ons ondergeskiktes enigsins u kleed bevraagteken, sal ons hul koppe afkap.” Om hul lojaliteit teenoor die regstellende keiser te bewys, kap hulle sommer die koppe af van duisende gewone wit werknemers deur hulle fluks reg te stel. Jong wittes kry nie toegang tot die arbeidsmark nie, en is eerder eersteklas burgers in iemand anders se land as tweedeklas burgers in hul eie land. “O keiser, die verskillende edelstene in u kroon blink so mooi in die son,” roep die swart elite uit. Hulle staan op die gewone swart werkers om die keiser beter te kan sien. “O keiser, u kleed is vervleg met demokrasie, die garing blink soos vryheid, u onderbaadjie spreek van gelykheid.” Almal kan sien dit is nie waar nie, maar niemand durf uitroep dat die keiser kaal is nie. Hulle is bang vir die tweede alternatief van die storie hierbo. Hierdie artikel het ten doel om uit te roep: Die keiser is kaal.

Regstellende aksie en mededingendheid
Hoe kry Suid-Afrika dit reg om duisende van sy gesond-heidspersoneel weens die breindrein te verloor en dan weer ander gesondheidswerkers uit Indië en Kuba in te voer? Dit ten spyte daarvan dat Suid-Afrika ’n trotste laaste plek op die Wêreld-mededingendheidshandboek se ranglys van lewensverwagting beklee.
Hoe kry Suid-Afrika dit reg om met verkragtings, moord en geweldsmisdaad onderskeidelik nommer een, twee en drie in die wêreld te wees, maar ons laat toe dat honderde van ons bruin en wit polisielede deur die Australiese polisiemag gewerf word omdat daar volgens hulle bevorderings-geleenthede in Australië is? Hoe regverdig ons dit dat ’n koue winter weens kragonderbrekings ondervind word, maar Eskom stel só reg dat 75% van sy wit kundigheid dit oorweeg om die maatskappy te verlaat?
Hoe verduidelik Suid-Afrika dit dat hy volgens die Wêreld-mededingendheidshandboek die mees diskriminerende land in die wêreld is, heel bo aan die lys uit 55 deelnemende lande? Hoe verduidelik ons aan die een kant dat ons, wat geskoolde vaardighede betref, ook laaste op die Wêreld-mededingendheidshandboek se lys is, maar aan die ander kant laat ons toe dat ons ook eerste is ten opsigte van verlies aan kundigheid weens emigrasie of die sogenaamde breindrein?

Ras, ras, alles ras
Ras, ras, alles ras, ras net waar jy sien en hoor. In ons werk-plek, op ons sportveld, ras is letterlik oraloor. Die antwoord vir bogenoemde vrae lê in ‘n allesoorheersende rasse-ideologie wat Suid-Afrika omvou het. Om regstellende aksie programme meer verteerbaar te maak, word dit toegewikkel in ‘n liberale idioom van gelykheid.
Die oorgang van die Mandela-era na die Mbeki-era is gekenmerk deur die vervanging van die woord “reën-boognasie” met die woord “transformasie”, wat aan die hand van demografiese verteenwoordiging gedefinieer word. Alle instellings in die samelewing moet die demogra-fie van Suid-Afrika weerspieël. Suksesvolle transformasie word aan die hand van verteenwoordiging gemeet, dit wil sê ’n rassekriterium. Gelykheid is nie die uitkoms van ’n getransformeerde samelewing nie: verteenwoordiging is. Die gevolg hiervan is dat ongelyke metodes gebruik kan word om verteenwoordiging te bereik, en growwe rasse-diskriminasie word onder die dekmantel van regstellende aksie gepleeg.
Suid-Afrika se obsessiewe najaging van verteenwoor-diging het tot gevolg dat die massa se verwagtings nie vervul word nie, en die minderheid vervreem word. Regstellende aksie het die speelplek van die elite geword.
’n Samelewing waarin massas mense onvervulde ver-wagtings het, plus ‘n vervreemde minderheid, is ‘n resep vir konflik. Dit is hierdie resep wat in die Verenigde State van Amerika tot soveel litigasie aanleiding gegee het. In Indië het lede van die nie-aangewese groep geweld op kampusse aangeblaas en studente het hulself aan die brand gesteek. In Sri Lanka was regstellende aksie een van die oorsake van die bloedige burgeroorlog waarin reeds 64 000 mense dood is. In Maleisië is honderde Chinese in opstande doodgemaak omdat die massas onvervulde verwagtinge gehad het.

Wêreldwye weerstand teen regstellende aksie
Nadat die Burgerregtewet van 1964 in die Verenigde State van Amerika aanvaar is, het ‘n golf regstellende aksie die wêreld getref. Maleisië se program van regstellende aksie is in die laat jare sestig versnel, Sri Lanka se program is ná 10 jaar van onafhanklikheid verskerp en Indië het sy regstellende aksie-program uitgebrei na ander groepe as die aanvanklike “onaanraakbares”. Regstellende aksie het egter te ver gegaan.
Oor die afgelope 10 jaar was daar ingrypende verskuiwings in die regstellende aksie-debat. Twee probleme is geïden-tifiseer. Die eerste is dat sekere groepe in ’n permanente staat van benadeling geplaas word en die tweede is dat net ’n klein groepie bevoordeel word. Dié twee probleme het tot gevolg dat daar groot weerstand teen regstellende aksie ontstaan het. Ironies genoeg kom hierdie weerstand veral uit die sogenaamde aangewese groepe. In die VSA is die skrywers en aktiviste wat regstellende aksie teenstaan, swart Amerikaners soos Thomas Sowell, Walter Williams en Ward Connerley. Connerley het verlede jaar daarin geslaag om in die Amerikaanse middeltermyn-verkiesing ’n referendum oor regstellende aksie in die liberale staat Michigan af te dwing. Hy het teen alle verwagtinge in die referendum gewen en regstellende aksie is in Michigan verban.
Vanaf 2000 is daar in Maleisië sterk weerstand teen regstellende aksie uit die geledere van die bevoordeelde Bumiputra.
In Suid-Afrika spreek die eerste swart provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie in Gauteng, Johan Moodey, hom teen regstellende aksie uit. Wes-Kaapse ANC-mi-nister Marius Fransman het die regstellende kat in die hoenderhok gegooi met sy voorstel van ‘n moratorium op regstellende aksie en IVP-leier Mangosuthu Buthelezi sê regstellende aksie is die oorsaak van die kennisverlies in Suid-Afrika. Moodey, Fransman en Buthelezi snap die nuwe wêreldpendule van regstellende aksie.
Die Verenigde Nasies se menslike ontwikkelingsverslag het aanbeveel dat regstellende aksie in die VSA van ras na die sosio-ekonomiese posisie van die benadeeldes moet verskuif. In Indië is die regstellende aksieprogram aangepas om die sosio-ekonomiese posisie van werkers in ag neem. Oral neig regstellende aksie weg van die permanente be-voordeling van ’n klein elitegroepie.
Die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) het probeer om die regstellende aksie-dilemma aan te pak deur ‘n de-finisie van regstellende aksie te ontwikkel. Dié definisie word ook algemeen deur die Verenigde Nasies gebruik. Kragtens die definisie moet regstellende aksie tydelik en remediërend wees. As regstellende aksie permanent is, of bloot rassegetalle najaag, kan dit derhalwe nie as regstellend beskou word nie – dit is trouens ‘n oortreding van Resolusie 111 van die IAO, wat diskriminasie verbied, maar wel voorsiening maak vir regstellende aksie binne ‘n streng definisie van wat dit behels.
Daar is baie logika in die regsteldefinisie van die IAO. Die tydelikheid het ten doel om permanente ontwrigting van die samelewing te verhoed en om permanente be-nadeling van ’n groep te beperk. Die remediërende aard van regstellende aksie moet toesien dat die proses hom by sy doelwit (regstelling) hou en nie bloot in ’n instrument vir die bevoordeling van ‘n groep ontaard nie. Remediëring voorkom ook dat mense herhaaldelik “reggestel” word en is ’n teenwig vir elitistiese verryking.
Met hierdie twee voorwaardes kan regstellende aksie tot gelykheid lei. Gelykheid volgens die internasionale definisie bied dus ingeboude beskerming vir die benadeelde massa wat regstelling nodig het én vir die groep wat in die proses benadeel word.

Suid-Afrika téén internasionale regstel-konsensus
Die minister van arbeid, Membathisi Mdladlana, het onlangs die dapper skoene aangetrek om teen die internasionale pendulum van regstellende aksie standpunt in te neem. Hy het verklaar dat regstellende aksie nooit sal ophou nie. Daarbenewens is die Suid-Afrikaanse program van regstellende aksie op verteenwoordiging gebaseer, wat die najaag van rassegetalle eerder as remediëring behels. Daar is en was nog nooit in die wêreld ’n gemeenskap waar die gemeenskapsdemografie op alle vlakke in die werkplek en in alle instellings weerspieël is nie. As daar na iets gestreef word wat nog nooit in die wêreld bereik is nie, is daardie strewe permanent.
Suid-Afrika staan nog in die ou skool van regstellende aksie en skop vas teen die nuwe wêreldneiging weg van permanent na tydelik, weg van ras na die sosio-eko-nomiese posisie van persone, weg van die najaag van rasseverteenwoordiging na opleiding en ontwikkeling, weg van die elite na die massa.
Suid-Afrika kan vandag die demokratiese witbroodjie van die wêreld wees en môre kan die ondeurdagte toepassing van regstellende aksie van hom ’n demokratiese swart skaap maak. Die gees van die tyd wissel gereeld en wat vandag mode is, is môre sonde.
Die regstellende aksie-keiser in Suid-Afrika is kaal. As ons versuim om hom te klee, sal ons 55ste uit 55 lande bly as dit kom by mededingende vaardighede, en eerste in diskriminasie in die ekonomie en die breindrein. Ons massas gaan onvervulde verwagtinge hê en die minderheid gaan vervreemd bly. Geen demokrasie kan so ’n keiser duld nie!

Deur dr. Dirk Hermann

DEKAT het ondersoek gaan instel na die publiek se opinie oor regstellende aksie. ’n Paar rondtes links en regs in een van Johannesburg se blink voorstedelike winkelsentrums, het bittermin vrugte afgewerp. Mense wou  nie tyd maak vir ’n antwoord nie. Of party het verkies om anoniem te bly. Aan die anderkant van die M1 was die taxibesaaide wilde weste van Louis Bothalaan meer as gewillig om te praat, maar die konsep van BEE moes in die helfte van die aangeknoopte geselsies eers verduidelik word! Hier is ’n paar reaksies.

“BEE is die beste ding, swart mense kry nou ’n sekere vryheid, ’n finansiële vryheid. Dit is ’n goeie plan solank hulle dit net behoorlik uitvoer en nie die beeld daarvan skend nie. Meeste regsfirmas word besit deur wit mense, en hulle sal eerder ’n wit persoon inneem as ’n swart persoon.”
– Basil Mnkoni (20+ swart man, regstudent)

“Ek het geen probleem met BEE nie, dit is ’n goeie idee. Ek sal ’n beter werk en kwalifikasie kry – dit sal my help.”
– Kelvin Zomti (25+ swart man, petroljoggie)

“Ek dink BEE is ’n baie goeie idee, solank die mense gekwalifiseerd is. Ek dink nie mense besef hoeveel stres die swart bevolking tans ervaar in hierdie opsig nie. Ek werk vir ’n baie ryk Suid-Afrikaanse familie, en in hierdie private omgewing het ons ook ’n baie goeie beleid.”
– Phillipa Meyer (40+ wit vrou, direkteur se assistent)

“BEE is seker nie so sleg nie, dit hang net af hoe dit toegepas word. Dit is ’n goeie plan as dit reg gedoen word en die mense die korrekte kwalifikasies het. Maar soms gaan dit net om in die regte plek op die regte tyd te wees, dan is hul prestasie nie goed genoeg nie. Ek werk in die finansiële sektor, wat meer prestasiegedrewe is, dus het BEE my nooit regtig geaffekteer nie.”
– Graham Walker (30+ wit man, finansiele beplanner)

“Vyftig-vyftig is goed. Aangesien ons ’n demokrasie het, moet dinge vyftig-vyftig wees. Ons moet mekaar aanvaar as broers en susters.”
– Lindiwe Ndhlovu (20+ swart vrou, sekretaresse)

“Ek veronderstel dat dit tog ’n nodige storie is, iets wat gedoen moet word. In die korporatiewe omgewing waarin ek werk, het ons darem nie te veel negatiewe ervarings gehad nie.”
– Hioten Botha (50+ wit man, verkoopsbestuurder)

“BEE is ’n geldige gedagte, maar ook nie so geldig nie – dit het sy positiewe en negatiewe kante. Ek is nie persoonlik deur BEE  beïnvloed nie.”
– Anoniem (40+ wit man, finansiele direkteur)

“BEE is meer vir die uitverkorenes. Dis ’n goeie ding, maar dit moet met meer deursigtigheid gedoen word.”
– Temba Sibanda (25+ swart man, verkoopskonsultant)

“Ek dink dat BEE die ekonomie verhinder om te groei, en dat daar ander maniere is om met regstellende aksie om te gaan. Ek dink ook dat ek ’n beter pos by ’n ouditeursfirma kon kry as dit nie vir my velkleur was nie.”
– Mark Taylor (25+ wit man, aspirant-rekenmeester)

“Ek hou niks daarvan nie – dit het my direk beïnvloed. Ek het my eie onderneming gehad, maar daar was sekere vereistes daarop geplaas en dit was onmoontlik om daardie vereistes toe te pas. Ek kon nie meer verder gaan nie.”
– Anoniem (50+ wit man, voormalige eienaar van ’n drukkery)

Neem asseblief kennis dat hierdie artikel die opinie van die skrywer is en nie noodwendig dié van die DEKAT-redaksie nie. Indien jy ‘n ander ervaring met regstellende aksie gehad het, of graag jou mening met ons wil deel, stuur gerus ‘n faks (011-728-7967) of e-pos (web@dekat.co.za). Ons verwelkom jou terugvoer.
Die keiser is kaal – waarom regstellende aksie misluk het, deur dr. Dirk Hermann, is by groot boekhandelaars en Protea Boekehuis in Hatfield beskikbaar.

Be Sociable, Share!

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.