So lyk die Afrikaner
Vraag: Definieer vandag se tipiese Afrikaanse gesin.
Antwoord: Hulle het twee kinders, verdien ’n gesament-like salaris van R200 000 ’n jaar, hulle huis kos tussen R800 000 of ’n miljoen en hulle ry óf ’n Volkswagen Polo óf Toyota Corolla. Hulle droom van buitelugvakansies in Afrika, terwyl hulle hul sente tel om hul eie SUV te kan bekostig. Partykeer droom hulle om oorsee te gaan. Hulle is mal oor sepies en Afrikaanse musiek soos Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan en Bok van Blerk.
So maklik soos dit? Dit is die verhaal wat statistieke vertel. DEKAT het tussen die nommers van agentskappe soos Markinor, South African Advertising Research Foundation (SAARF) en Unisa gaan rondval en vorendag gekom met die beeld wat bemarkers vandag aan Suid-Afrikaanse gesinne toeskryf.
“Jy kan maar seker sê ons is die prentjie van ’n tipiese Afrikaanse gesin,” sê Riëtte Malan, ma van ’n Afrikaanse gesin op die Oos-Rand. “Twee kindertjies, ’n Polo in die garage en ja, ons het verlede naweek uiteindelik Bok van Blerk se CD gekoop.”
Maar is die Malans rêrig die tipiese gesin? Dit lyk so as jy die statistiek lees wat jaarliks opgegaar word oor wat Afrikaanses in die land aanvang. Maar statistiek is ook net die helfte van die prentjie. Is dit enigsins moontlik om die psige van vandag se Afrikaanse gesin te bepaal deur net met statistiek te werk? Daarom het DEKAT ook met ’n paar gesinne gepraat oor die dieper wese van ’n Afrikaanse gesin.
Met die laaste sensus was daar amper ses miljoen Afrikaan-se mense of 1,7 miljoen Afrikaanse huishoudings in Suid-Afrika. Afrikaanssprekendes het 13,6% van die Suid Afrikaanse bevolking van 12,6 miljoen huishoudings uitgemaak. Statistiek Suid-Afrika wys verder dat 60% van wit mense en 80% van Kleurlinge in die land Afrikaanssprekend is.
Maar Afrikaanssprekende gesinne word al minder en al kleiner. Vyftien jaar gelede het Afrikaanse getroude paartjies 2,2 kinders per huishouding gehad. Maar deesdae het daardie syfer geval na 1,6 kinders per huishouding.
Die meerderheid van vandag se Afrikaanse gesinne het ten minste matriek, wys ’n Markinor-peiling. Amper 93 000 Afrikaanssprekendes het ’n graad agter hulle naam, 40 000 het ’n honneursgraad en amper 47 000 het ’n meestersgraad of hoër, wat wys dat Afrikaanssprekendes taamlik goed gekwalifiseerd is.
Net minder as 223 000 Afrikaanses het ’n diploma agter hulle naam. Net meer as 1,1miljoen Afrikaanses van die ses miljoen Afrikaanssprekende mense het matriek sonder ’n verdere kwalifikasie.
Gaan grawe jy rond tussen die LSM’s en statistiek Suid-Afrika, kom jy agter dat die tipiese Afrikaanse gesin met twee kinders ’n gesamentlike inkomste van om en by R200 000 per jaar het. Maar tussenin is daar bitter ryk mense en nog meer heelwat armer mense. Maar die Afrikaanse middelklasgesin kom deesdae uit met tussen R200 000 en R350 000 ’n jaar, wys die SAARF-syfers. Navorsing van Ads24 wys dat Afrikaanse gesinne selfs 13 jaar ná 1994 nog steeds die meeste koopkrag het.
Terwyl sommiges die beeld mag dra dat Afrikaans die taal van die platteland is en die boere-gesin ’n maatstaf is van die Afrikaanse gesin, vertel die statistiek ’n ander prentjie. Amper 40% van alle Afrikaanssprekendes bly in die Wes-Kaap en 23% in Gauteng. Maar ’n presidensiële verslag oor die identiteit van Suid-Afrikaners wat in 2004 uitgekom het, wys dat Afrikaanse gesinne ook die meeste verspreid oor die hele land is – met ander woorde jy kan ’n Afrikaanse gesin enige plek in Suid-Afrika uitskop. Gauteng en die Wes-Kaap het ook die meeste geleerde Afrikaanses, wys die Markinor-statistieke.
Kuier jy om 18:30 by die Malans, kry jy ’n toneel wat hom in amper driekwart van Afrikaanses se sitkamers afspeel. Hulle is vasgenael voor ’n sepie. In alle waarskynlikheid is daardie sepie 7de laan, hoewel M-Net se Binnelanders ook al baie harte gewen het. Maar 7de laan is verniet en van Maart vanjaar bestaan daar nie meer so iets soos oopkyktyd nie. SABC se navorsing laas jaar het gewys dat 7de laan tot 75% van die Afrikaanse mark trek. Net Generations het ’n hoër kykersyfer in Suid Afrika.
DStv se statistiek het gewys dat naby ’n miljoen mense of amper 4 miljoen mense ingeskryf was op satelliettelevisie. Van hierdie 4-miljoen was 900 000 Afrikaanssprekendes. Terwyl dit ’n aansienlike deel van Afrikaanse gesinne verteenwoordig, is daar baie gesinne wat teen DStv besluit het.
“Ons kan baie beter dinge met ons tyd doen, dit vreet in op ons gesinstyd,” sê Fanus Malan wat in die Boland woon. “Ons kan dit bekostig, maar ons probeer ons tyd saam as gesin bewaar. Dis kosbaar.”
Engela Pretorius en haar gesin in Bloemfontein geniet weer die gesinstyd saam deur rugby te kyk.
“Dit is ons tydjie saam as ’n gesin. Ons kyk ook baie flieks saam op die kassie,” sê sy.
Rugby is ’n groot gunsteling onder Afrikaanse gesinne. Daar is min gesinne wat nie ’n gunstelingspan het nie. Die grootste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika, Rapport, se redakteur, Tim du Plessis, glo dat as die Bulls of Springbokke wen, Rapport se verkope styg, ’n teken van die obsessie wat Afrikaanses met die ovaal bal het.
Braaivleis, rugby en sonskyn het die ou Chev-advertensie toentertyd gelui en nie veel het verander nie …
Dat Afrikaanse gesinne ’n besliste liefde vir die natuur en vakansies in die wildernis het, kan gesien word in die fenomenale sukses van die tydskrif Weg. Die tydskrif het laasjaar ’n sirkulasiesyfer gehad wat geraak het aan 100 000 en het by verre die tydskrif se wildste verwagtinge oortref. Wanneer jy vir Afrikaanse gesinne vra waarheen hulle vir ’n naweek wil gaan, is baie doodgelukkig om hul tentjie in te pak vir die naweek en iewers onder die sterre te kamp.
“Daar is net iets daaraan om saam met jou gesin die pad te vat die wildernis in,” sê Dawid Marais, ’n prokureur van Durbanville. “Ons is mal oor die Sederberge.”
Europa is ’n vakansiebestemming waaroor die meeste gesinne droom met wie DEKAT gepraat het, maar Disney World is ook ’n paar keer genoem.
En wat gebeur as Afrikaanses die radio aanskakel? Am-per 1,8 miljoen Afrikaanse luisteraars draai die radio se knoppie na Radiosondergrense (RSG). Maar in Gauteng is Jakaranda die koning van musiekradiostasies onder Afrikaanssprekendes, terwyl Afrikaanse gesinne in die Kaap weer Kfm 94.5 verkies. In die Vrystaat is Ofm weer ’n gunsteling, sê Markinor.
Twaalf jaar gelede het ’n man genaamd Leon Schus-ter gesorg dat ’n hele generasie van meestal wit Afri-kaanssprekendes ‘Hie’ kommie Bokke’ nooit sal vergeet nie. Tot vandag toe bly dié CD die Afrikaanse topverkoper, hoewel die CD al lankal by die naaste Cash Converters afgelaai is of iewers in ’n kas vergaan. Maar die tieners van daardie tyd is vandag se ouers en broodwinners en die saadjie wat destyds geplant is, het geblom.
Bok van Blerk boer op die treffersparades en kan wel met ’n bietjie geluk Schuster se rekord oortref, terwyl Robbie Wessels ook baie goed doen. En dan is daar die immer gewilde Steve Hofmeyr.
“Ja, jy sal hulle almal op my CD-rak kry,” sê Johan Pretorius van Nelspruit. “En hoewel ek nie gaande is oor Nicholis Louw nie, is my laaitie van drie jaar mal daaroor om sy lyfie te skud op die man se musiek. Ja, dus het ons dit maar gekoop nadat hy dit by die dagmoeder gehoor het.”
Baie Afrikaanse gesinne erken dat die kinders maar besluit wat hulle op die ou einde koop.
“Mens moet maar aanpas,” grinnik een pa. “Vroeër het ek na heavy metal en harde rock geluister. Maar my dogtertjie van twee het dit alles verander.”
Op die tipiese Afrikaanse gesin se koffietafel sal ’n opge-voude Rapport met geskeurde ore duidelik wys dat die koerant goed deurgelees is, Tydskrif-boekie ingesluit (met of Bok of Steve op die voorblad). Markinor het gevind dat Rapport die Afrikaanse koerant is wat die meeste gelees word, gevolg deur die Son. Beeld in Gauteng en die Burger in die Wes-Kaap is ook baie gewild, terwyl die Sunday Times ook soms ná kerk in ’n Spar-sakkie beland.
Die ou gunsteling van weleer, Huisgenoot, bly nog steeds ’n gunsteling onder Afrikaanssprekendes, terwyl die Edgars, Clicks en Jet se klubtydskrif ook iewers onder ’n bank sal lê. Die TV Plus! vaar ook goed (daardie sepie-opsommings is glo ’n gunsteling onder sy lesers).
Sarie en Rooi Rose is gunstelingtydskrifte onder Afri-kaanse vroue volgens Markinor, met Rooi Rose wat ’n tikkie beter vaar as Sarie. Onder die mans vaar Car en FHM die beste.
Gemeet aan verkope en hoeveel keer ’n Polo of Corolla by jou verbyflits op ’n dag, is dit geen wonder nie dat die kanse goed is dat jy ’n Volkswagen of Toyota in ons tipiese Afrikaanse gesin se motorhuis gaan vind. Navorsing onder die verskillende motorvervaardigers wys ook dat ’n tweede gesinsmotor onder Afrikaanse gesinne baie gewild is.
Johan van Vuuren, wat vir ’n elektroniese firma in Boksburg werk, ry egter net een kar, ’n 1999 Audi, wat hy glo voldoende is vir sy gesin. Maar amper die helfte van die ander gesinne met wie DEKAT gepraat het, het gesê hulle droom is om ’n SUV te bestuur.
Pieter van Aardt, ’n ingenieur van Pretoria, is een van hulle. Sy gesin het op die oomblik ’n Volkswagen Polo en Corsa-bakkie, maar hul droomkar is ’n Toyota Prado, of Volkswagen Touareg.
Van Aardt se ingenieursvriend, Gawie Botha, droom ook van ’n Toyota Land Cruiser. Albei ingenieurs voel dat televisie ’n groot hap uit hul gesinslewe eet, maar beide voel ook baie sterk dat hul Christenskap hul gesin vasgegom hou.
Geloof was nog altyd ’n bastion vir die Afrikaanse gesin van weleer. Markinor-navorsing wys dat amper 1,9 miljoen of 31% van Afrikaanssprekendes hulself as deel van die NG kerk definieer, teenoor die 10% van die charismatiese kerke en die 12% van ander Apostoliese kerke. Net 0,02% van Afrikaanses, meestal in die Wes-Kaap het hulself gelys as Moslems.
Maar ten spyte van die baie lidmate in die NG kerk het statistiek in die verskillende NG gemeentes gewys dat party Afrikaanse kerke gelukkig is as 50% van hul gelyste gesinne Sondag in die kerk is. Tog het die meerderheid gesinne met wie DEKAT gepraat het geloof geprys as die sement waarmee hul gesinslewe aanmekaar gesit is.
“Ons is albei Christene,” het ’n jong getroude paar van Pretoria geantwoord. “Ons is onlangs deur ’n moeilike en beproewende tyd in ons huwelik en dit het ons weer nader aan God gebring. Geloof help jou om aan te gaan en gee jou iets om aan vas te hou as alles om jou in duie stort.”
Maar is vandag se gesin beter af as die gesin van 20 jaar gelede? Sommige van die gesinne glo so, ander is minder positief. Van Aardt van Pretoria glo hul materiële sukses het teen ’n prys gekom.
“Ons is miskien finansieel ’n bietjie beter af as wat my ouers was, maar die lewe was baie rustiger,” sê hy. “My ma was by die huis tot ons almal skool toe is, iets wat ons as gesin nie kan bekostig nie.”
Waar 20 jaar gelede meeste van die leerlinge in graad een in ’n Afrikaanse skool in Pretoria nie-werkende ma’s gehad het, is die prentjie vandag heelwat anders. Meeste van die kinders gaan na ’n na-skoolsentrum toe of na ’n dagmoeder toe, terwyl ander se ma’s net halfdag werk. Maar die oorgrote meerderheid van die mammas werk.
“Ons bly in ’n veiligheidskompleks,” sê een van die ma’s wat haar kind by die na-skoolsentrum oplaai. “Dis duurder as ’n straatadres. Maar ek wil die veiligheid hê en op een salaris sal ons dit nie kan bekostig nie. Daarom werk ek.”
Met materiële sukses sluip klein jakkalsies ook in. “Ne-cessary evil” sê die Engelse. Elke jaar word daar tussen
30 000 en 40 000 huwelike in Suid-Afrika beëindig, ’n syfer wat Afrikaanse gesinne nie onaangeraak laat nie.
“Ek dink ons is te gejaag, ons maak nie meer tyd vir familie en vriende nie, geld het te belangrik geword, ons kyk te veel televisie en gaan te min kerk toe,” beskryf Pierre Britz, ’n 29-jarige ingenieur van Pretoria, wat hy sien as die Afrikaanse gesin se probleem.
“Dit wat werklik belangrik in die lewe is, word nie meer raakgesien en waardeer nie.”
Hy en sy vrou, ’n dieetkundige sê hulle spandeer ongeveer twee ure ’n dag voor die televisie, maar is ook baie lief vir lees. Nog ’n Pretorianer, Lynette Swanepoel, sê dat hoewel hulle nie DStv het nie, neem televisie in elk geval te veel tyd op na haar sin. Hulle gunstelingprogram is ook 7de laan.
Carina Fourie, ’n gesinsterapeut van Centurion, sê die meeste van haar kliënte, wat hoofsaaklik Afrikaanse gesinne is, se probleme kan nagespoor word in tydsbestuur.
“Te min tyd vir mekaar,” sê sy. Albei ouers werk. Die finansiële druk en werksdruk raak al meer. Kinders word al 7:00 die oggend afgelaai. Vyfuur, sesuur kom almal moeg by die huis aan. Die drie ure tot en met die kinders se slaaptyd moet kos voorberei word, geëet word, huiswerk nagegaan word, kinders gebad word en moet nie die sepies vergeet nie. Naweke lyk ook nie veel anders nie.”
Sy sê kinders se emosionele behoeftes word nie bevredig nie en baie min effektiewe kommunikasie kom voor tussen kinders en ouers en tussen man en vrou.
“Ons raak al hoe meer vreemdelinge vir mekaar,” sê sy.
Die hoë egskeidingsyfer vandag lei ook tot baie meer hersaamgestelde gesinne as vroeër, verduidelik Fourie.
“Probleme rondom my kinders, jou kinders en ons kinders is aan die orde van die dag,” sê sy. “Dit klink al soos ’n cliché maar dit is ongelukkig iets waarby ons nie verby kan kom nie.”
Fourie is self die ma van twee kleuters en het haar werk as maatskaplike werker opgegee om haar praktyk te begin. Hulle gesin het teen DStv besluit om meer tyd saam te spandeer, maar sy erken ook dat die hele gesin saans 7de laan saam kyk. Anton le Roux, ’n ambagsman in Rustenburg kry die laaste woord: “Ek is nou getroud met my tweede vrou, en ons saamgestelde gesin bestaan uit sewe mense. Nie almal is altyd op dieselfde tyd in die huis nie. Is ons ’n tipiese Afrikaanse gesin?”
“Ja, ek geniet al daardie musiek van Steve en ek dink Bok doen wonderlike dinge vir die Afrikaner. Ek ry ’n Corolla, maar partykeer wil hy nie vat, en ek is geraak deur egskeiding. Ek weet nie of ek rêrig die perfekte of selfs tipiese Afrikaanse gesin het nie. Nietemin is dit my gesin en wie is enigiemand om my gesin in ’n boks te druk en vir ons te sê wat tipies is van ons soort.”
Ons almal is nie so nie…
Lees mens deur die navorsing oor Afrikaanse gehore, kan dit maklik wees om Afrikaanse gesinne in boksies te plaas. Maar dit sal al die individualistiese, mal gesinne wat jy ook in elke dorp, voorstad of plaas uitskop, sleg te na te kom. Daar is ook die ander prentjie – die alternatiewe Afrikaanses. Die stroom-op swemmers wat nie doodgevang sal word by ’n Bok van Blerk-konsert nie en nie een Steve Hofmeyr-CD besit nie. Hul Afrikaanse musiek bestaan eerder uit Fokofpolisiekar, Somerfaan en Foto Na Dans, en by sommige sal jy selfs die nuwe Kobus! vind. Ander alternatiewe gesinne luister eerder Wêreldmusiek en sal naarstigtelik elke nuwe uitgawe van die Café del Mar-versameling opraap.
Chris Vermaak, ’n vryskut-kameraman en sy gesin, wat onlangs ’n baba ryker geword het, geniet op die oomblik Damien Rice se 9, terwyl sy vrou gek is oor die The Decemberists se The Crane Wife. Stefaans Brummer, ’n joernalis wat onlangs van Jo-hannesburg na die Kaap getrek het, beskryf weer hul gesin se smaak as uiteenlopend, etnies of “World Music”.
“My huidige gunstelinge is twee samestellings: een van Afrika-vrouesangers, en die ander Brasiliaans,” sê hy.
Marie-Louise Louw, ’n geoktrooieerde rekenmeester van Johannesburg wat nou al ’n jaar en ’n half ma is, vertel dat sy in ’n aweregse gesin grootgeword het en dat die wortels van haar hedendaagse gesin daarin gevind kan word. Haar man is ’n sakeman, en hoewel hulle Afrikaans is, beskou hulle hulself meer as wêreldburgers.
“Terwyl die res van my ouers se skool die Beatles-plate verbrand het, het hulle gedink John Lennon en sy vriende is veels te mak en eerder Jethro Tull, Black Sabbath en Uriah Heep geluister. Die Rolling Stones was hul helde. Vandag nog geniet ek die 70’s rock van my ouers, terwyl ek nie genoeg kan kry van nuwe alternatiewe musiek soos Muse en Radiohead nie.”
Die Nagtegaals, die bekende skrywersfamilie in Melkbos, beskou hulleself ook as “baie alternatief,” sê skrywer Jackie Nagtegaal. Sy sê haar familie het nie rêrig ’n hiërargie nie en dat daar nie lyne is soos kinders en kleinkinders wat die familie definieer nie.
“Ons gesin is meer gebind as vriende, as ’n familie,” vertel sy. Die Nagtegaals bly almal naby mekaar in Melkbos en Jackie sê Dirk Nagtegaal het ’n teater gebou in haar “ouerhuis” en dat die hele familie nou heeltemal te veel fliek.
“Ons is mal oor kunsrolprente … en honde,” sê sy.
Marknavorsing gedoen deur DEKAT wys dat die so-genaamde alternatiewe, andersdenkende Afrikaanses hulself sien as individualisties, nie-materialisties, hoewel hulle lief is vir estetiese items wat intrinsieke waarde het. Hulle het gewoonlik tersiêre onderrig, en het ’n werkende inkomste. Soos die Nagtegaals hou alternatiewe Afrikaanse gesinne van rolprente, veral kunsrolprente, en stel belang in antieke meubels, wyn en die internet.
En nie almal van hulle droom om ’n SUV te besit nie. Brummer besit wel ’n 6 jaar oue Jeep Cherokee, maar sê die kar is te duur en te omgewingsonvriendelik.
“Dié SUV is vermoedelik ons laaste – ons aspireer nie na nog een nie,” sê hy.
Die Nagtegaals is weer ’n familie van sportmotors. Elkeen van hulle ry ’n swart nommertjie.
“Dit lyk soos ’n mafia-byeenkoms,” spot Jackie.
Maar die Afrikaanse gesinne soos die Nagtegaals heg ook groot waarde aan tyd saam en om hul verhoudinge te ontwikkel. Brummer stem saam dat vandag ’n baie meer mate-rialistiese tyd is as in die verlede.
“Ja, ons het meer dinge, maar minder tyd,” sê hy.
Vermaak sê ’n probleem met die Afrikaanse gesin is “dat hulle te behep met Afrikaans is en te besig om geld te maak om eintlik om te gee oor enigiets anders as hulself”.
Die navorsing wys ook dat die “alternatiewe gesin” lief vir lees en reis is. Vermaak sê sy gesin lees graag en behoort aan ’n boekklub. Sy vrou, Karen, verslind enigiets deur Robert Crais of Michael Connelly, terwyl sy gunsteling Richard Dawkins se The God Delusion is.
Brummer sê hy en sy vrou kry min kans om te lees tussen die geharwar van kinders grootmaak, maar steel slaap-ure so nou-en-dan om tog ’n paar boeke ’n jaar deur te werk. Vakansies sê hy verkies hy om met ’n rugsak of fiets in die verre vreemde te toer (moeilik nou dat daar kinders is). Sy vrou, Karen, sal miskien eerder ’n kothuisie huur op ’n strand, of dit nou hier is of op ’n Griekse eiland.
Die Nagtegaals is gek oor reis. Jackie en haar vrou Vera reis graag na Derdewêreldse lande soos Thailand en Mexiko, terwyl Dirk en Reinet weer graag Europa toe gaan. Hulle het ook nou net teruggekom van Rusland.
Hoewel Jackie glo dat die meeste Afrikaanse gesinne vandag beter af is omdat daar soveel meer geleenthede is en Suid-Afrika nou deel is van die “global village”, is sy ook teleurgesteld dat party Afrikaanse gesinne nog steeds vasgevang is in dieselfde groef as hul ouers.
“Ma’s en dogters lyk dieselfde en pa’s en seuns voel dieselfde oor politiek.”
Deur Yolandi Groenewald Illustrasie Ronel van Heerden
Stem jy saam met hierdie prentjie van die Afrikaner? Laat weet ons by web@dekat.co.za of per faks (011-728-7967).






Dis ongelooflike akkurate en indiepte statistiek, ek het dit nou nooit kon raai.
Well I’ve learned something this morning
Lewer kommentaar!
Tale
Volg DEKAT
Kategorieë
Argiewe