Gesoek: ’n diamant van 1 karaat
Normaalweg is jong getroudes nie so welaf soos wat hulle graag sou wou wees nie. Hulle ry nog die tipiese stu-dentedae Golfie of oorgeërfde Ford Escourt wat Oupa vir R3 000 kontant gekoop het in die tyd toe meel nog duskant verniet was.
Dit is met die aanloop na die groot huweliksdag wat jou nagmerrie as bruidegom begin. Weens jare lange bemarking word jy gedwing om ’n diamant te koop om jou liefde te betuig. ’n Gebalanseerde vloek word toegewens aan die persoon wat die frase “diamonds are forever” uitgedink het! Omdat huwelike net sowat die helfte van die tyd hou, is daar sodoende vir die diamantbedryf ’n fantastiese tweede-handse mark geskep. Amper soos selfone …
Ek onthou nog my soektog. Aanstaande vroulief wou mos toe ’n ovaal diamant hê … Nie ’n romantiese vorm soos ’n hartjie of die eerste letter van haar naam nie, o nee, ovaal! Min wetend dat ovaal een van die duurste snitte is. Min wetend dat daar verskillende groottes is. Min wetend dat daar verskillende kleure is. Min wetend dat ek my naam gaan diamantkrater maak. Kimberleygat.
Elkeen van ons ken ’n oom se vriend se verlore swaer wat iewers naby Ottosdal in die jare vyftig ’n kleim kon afsteek op soek na daardie groot een wat sy lewe sou verander. Al is die oom Wouter, soos hy bekend staan, vandag nóg ar-mer as in die jare vyftig, sal hy kan reël vir ’n ou steentjie. Jy bel hoopvol en opgewonde. Dan kom die vrae wat jou so dom laat lyk, jy wens jy kon eerder ’n yskas koop vir jou vrou se troudag. Skuus, julle troudag.
Oom Wouter peper my met groottes: 0,5 karaat, 1 karaat, 1,34 karaat. Oom Wouter peper my met vorm: ovaal, peer, rond, prinses of hart. Net toe ek dink dis die einde, toe is dit die kleur se beurt – kleurloos, amper kleurloos, bietjie-bietjie geel, amper geel of ligte geel. En moenie dink dis die einde van die gepeper nie. Die kleur is nie naastenby so belangrik soos die helderheid nie. Helderheid word nie gemeet aan of die ding glinster soos ’n diskobal of nie, nee, dit word soos volg gemeet: F-IF, VVS1-VVS2, SI1-SI2 en dan die meesterverwarring van I1-I2-I3. Teen dié tyd wil ek vir die oom sê om maar eerder net die een wat nie meer as
R3 245 kos nie, te gee. Dit is die som van wat ek vir die Golfie, my rekenaar en ’n toaster kon kry. Verder herinner oom Wouter my vinnig dat hy nie ’n sertifikaat kan gee nie, maar hy belowe dat hy self die blinketjie uitgesif het. Wat wou, ek het nie eens geweet jy het ’n sertifikaat nodig nie. Twee sertifikate op een dag is een te veel, ’n huweliksertifikaat EN ’n diamantsertifikaat?! Drie weke later verdwyn oom Wouter skitterend en steenloos tronk toe. Nugter alleen weet hoekom.
My volgende stap is toe maar ’n juwelier. Hier kry jy ten minste ’n sertifikaat. Ons gaan kyk saam-saam. Net voor ons instap, herinner sy my dat sy met haar 21ste ’n 0,5 gekry het. Sy ry miskien Oupa se ou Escourt, maar het ek vergeet om te sê dat haar pa 7 plase het, met skape en goed op. Hierdie besoek het ons amper deel van die 50/50 statistiek gemaak. Die deel van dié wat nooit eens die dominee se gesig gesien het nie. Van die mense wie se verlowing op die rotse beland.
My geliefde se steenkeuse was my “steen-des-aan-stoots”. Sy sien die volgende een raak: 1,521ct., K, VS2. Ovaal diamant. Gesertifiseerd. R39 900 (VAT ingesluit). My uitroep het (VAT ingesluit) in ’n verdwaasde WAT! verander. Ons eerste voor konfetti-konflik het gekom toe ek ’n amberkleurige steen voorstel. Wie trou nou met amber? Ons was amper die eerstes in die wye-wye wêreld.
Ná vele trane, ’n oproep plaas toe en ’n eensame naweek, is daar besluit om maar met die 21ste verjaardagring te trou. Oorgesit in nuwe goud en met gegraveerde name in die binnekant.
Alles het vlot verloop; die preek, die dronk seremo-niemeester, die troukoek en die foto’s. Maar niemand, niemand, niemand het vir my gesê dat die huweliksertifikaat my soveel duurder sou uitwerk as ’n diamantsertifikaat nie.
Basta, hierdie huwelik trek al op 215 karaat. Dis nou wat ek luuks noem!
(Nie ’n ware verhaal nie. My vrou het haar ovaal gekry!)
Vir eerstehandse kennis van die blink steentjies gaan na www.diamantsource.co.za
Deur Johrné van Huyssteen












Lewer kommentaar!