DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Kuns & Kultuur

Wanneer die liggie aangaan

Geplaas deur op 16.11.093 Kommentaar

Watter rol speel lig in kuns? Ses uiteenlopende kunstenaars, wat elk in ‘n ander medium werk, interpreteer die tema “lig” in ‘n spesiale artikel vir DEKAT.

bronwenIn die donker lae draai die duiwel rond
– Bronwen Vaughan-Evans

Bronwen Vaughan-Evans se skilderye word geskep deur ’n proses waarin ligter gesso op ’n donkerder gesso gelaag word, om ’n beheerbare en “skilbare” oppervlak te skep, waar die donker gesso op die “oppervlakvel” lê. Hiermee impliseer sy dat daar dikwels ’n metaforiese gewig onder die oppervlak van dinge lê. Sy gebruik beelde en verwysings uit haar onmiddellike omgewing en die werke word nie net geverf nie, maar ook afgeskuur, wat die fokus versag en dit soos ’n soort lugspieëling laat lyk.
Haar werk is konsepsueel oor uitgrawing – wat versterk word deur haar metode om die gelaagde oppervlaktes te verwyder tydens die skep van die skildery. Haar beelde be-vraagteken fisieke en emosionele spasies waarin individue leef, want hierdie spasies vorm ons identiteite op ’n per-soonlike en sosio-politieke vlak.
Bronwen Vaughan Evans bly en werk in Durban.

Hierdie skildery deur Bronwen Vaughan-Evans se skilderye word geskep deur ‘n proses waarin ligter gesso op ‘n donkerder gesso gelaag word.

dylan

Wat die wêreld omvorm
– Dylan Graham

Graham maak Renaissance- en Barokgeïnspireerde skilderye in olie op hout. Hierdie eras fassineer hom, omdat lig die vertrekpunt was van hoe beelde geskep is. Ligbronne en die skadu’s wat hulle skep, transformeer alledaagse voorwerpe en tonele in dramatiese en gelaaide beelde.
“Ek probeer om kuns te maak wat nie met boodskap, narratief of konsep gelaai is nie, maar ’n blote interpretasie is van wat ek sien.”
Hoewel Graham daarna streef om die onbevooroordeelde waarneming te bevorder, vang hy juis as gevolg daarvan die dubbelsinnighede vas wat in mense en verskynsels voorkom.
So verdof hy die grense tussen lewe en dood, die mooi en die lelik, goed en sleg. Die resultaat is ’n direkte konfrontasie van die werklikheid deur die oë van die kunstenaar.

roelienIn die kollig
– Roelien Brink/William Kentridge

In 2008 het die 24-jarige kunstenaar, Roelien Brink, haar naam wettiglik na die naam van die bekende kunstenaar William Kentridge verander. Brink (nou Kentridge) ondersoek dit wat met roem en kitsroem gepaard gaan op ’n direkte en obsessiewe wyse. Sy probeer ook vasstel wat kuns is en hoe eg dit is en tot watter mate kunstenaars van mekaar leen of neem. Die werk raak ook aan kwessies rondom identiteit en geslag. Brink se selfportret is ’n uitbreiding van haar soeke en sy gebruik ’n kamera, wat ’n medium is wat dikwels met roem, die kollig en glans vereenselwig word. Brink dink dis belangrik om ’n verband tussen medium en konsep in haar werk te skep. Sy gebruik dikwels ’n foto as medium om haar werk mee weer te gee.Roelien stal by Johannesburg se kunsgalery in Joubertpark uit.

jacoOns dodelike skadu oor die natuur
– Jaco Sieberhagen

Ná formele studies in die teologie het Jaco Sieberhagen met sy ontdekkingstog in die kunste begin en met verskillende mediums geëksperimenteer totdat hy sy eerste staalbeeld met laser in 2003 gemaak het. Die skadubeelde het vir hom ’n taal en  vryheid gebring om uitdrukking te gee aan dit wat hy wil verwoord/verbeeld. Met sy werke wil hy die kyker op ’n gedagtereis na hul eie menswees laat vertrek. Die werke uit reekse soos Being, Trapped in history en sy onlangse reeks No(n) place like home spreek van hierdie ontdekkingsreis waarop hy is.
Sy voortdurende soeke na maniere om aan sy gedagtes
vorm te gee het hom gebring by die deursigtigheid van pers-pex. Die skaduwees wat deur die lasergesnyde perspexwerke gegooi word, het verdere moontlikhede van uitdrukking geskep. Sy werk in DEKAT is getiteld Exodus.
“Ons woon in ’n tyd waar die woord huis/verhuis/huisloos/huishou/huislik/huisves/ huiswaarts gelate woorde geword het, omdat soveel faktore “huis” vir mens en dier ’n vreemde plek begin maak het. Tereg kan gesê word dat die mens self verantwoordelik is vir so baie dinge wat sy “huis” vervreem het, terwyl ander se vervreemding die resultate is van kragte buite hulle beheer.
“Daar is egter sovele wie se “huis” letterlik vernietig word sonder dat ons daarvan notisie neem en verder besef dat ons eie “huis” uiteindelik daardeur geraak gaan word.
“Die heuningby is een van die onskuldiges wie se “huis” letterlik vernietig word deur bekende en onbekende faktore. Amerika het die afgelope twee winters bykans 70% van sy bye verloor. Lande so ver verwyderd soos Japan en Italië praat van tot 45% verlies die afgelope jaar aan byekorwe. So kom Suid-Afrikaanse byeboere daagliks by korwe waarin daar nie meer een by oor is nie en geen ander swerm in die “huis” wil intrek nie. Boere in die Langkloof begin al oesverliese bereken weens die drastiese afname in bygetalle. Die term “Colony collapse disorder” is geskep om na die situasie te verwys.
“Daar word gereken dat 85% van alle plante op aarde direk afhanklik is van die bestuiwingsrol wat bye speel en dat 45% van alles wat die mens eet op een of ander wyse geraak word deur die aktiwiteite van bye. Dit is daarom geen wonder nie dat Einstein reeds baie jare gelede die stelling gemaak het dat, indien bye van die aarde verdwyn, mense binne vier jaar daarna gaan verdwyn.
“Met dié werk wil ek die kyker se aandag vestig op die by se “eksodus”. Die werk word so opgestel dat jy eintlik na die bye se skaduwees kyk. As kyker beweeg jy onbewustelik voor die lig se strale in met die gevolg dat jou eie skaduwee die bye se skaduwees uitdoof. So wil ek iets weergee van die mens se dodelike skaduwee wat oor die natuur val.”

lien

Lig is haar kwas
– Lien Botha

Die bekroonde fotograaf Lien Botha se jongste uitstalling, Parrot jungle, in die Photographer’s Gallery was haar 9de solo-uitstalling en lei ’n nuwe era vir haar in. Sy werk vir die eerste keer met ’n digitale kamera en wat onmiddellik uitstaan, is dat elke foto ’n storie opsigself is en ’n narratief in geheel verteenwoordig. Vir Parrot jungle het sy 45 baie persoonlike foto’s van mense en plekke in en om die Wes-Kaap geneem. Haar intensie met hierdie reeks foto’s is om die toeskouer op reis te neem.

poorvi

Lei ons uit die duister na die ewige lig
– Poorvi Bhana

Om asato ma sadgamaya,
tamaso ma jyotirgamaya,
mrityorma amritamgamaya
om shantih shantih shantih
brihdaranyaka upanisada 1:3:27 – India

Vertaling deur Poorvi self:
Oh Almighty, Lead us from the unreal (falsity) to the real     (truth)
From darkness to light
From death to immortality
Oh Almighty, May there be Peace, Peace, Peace

“Hierdie woorde vorm deel van ’n gebed uit antieke Hin-doegeskrifte, die Upanishads. Dit probeer die proses van verheldering verduidelik waar die mens gebore word sonder ’n kennis van die Goddelike, maar dat mense soos hulle ouer word, agterkom dat daar iets meer is wat die betekenislose lewe hier op aarde beheer. Niks is meer bevredigend vir ’n mens om in sy eie siel te soek na die stilheid en rus buite die grense van jou alledaagse lot nie.
“My uitstalling van beelde wat met lig geprojekteer word in ’n pikdonker kamer, dui op die feit dat daar duisternis in elkeen van ons is, wat ons daartoe lei om die innerlike lig op te soek om die duisternis te verdryf.
“Ek poog om die gebed met my beelde toe te lig, wat in essensie beteken dat die Goddelike ons van ’n “on”bestaan na ware bestaan kan lei, van donker na lig, van dood na onsterflikheid.
“My werk word grootliks uit klei en glas geskep en ek put my inspirasie uit die natuur en gestileerde Indiese motiewe, sowel as organiese Afrika-vorms.
Ek skep werke wat mistiek van aard is, wat die uniekheid van my voorouers uitbeeld.
My doel as ’n kunstenaar is om my kulturele identiteit te bewaar en terselfdertyd ander mense se alledaagse lewens te verryk met die gehalte van die werk wat inspirerend en esteties is.”

Be Sociable, Share!

3 Kommentaar »

  • doreen de klerk gesê:

    HIerdie is meer navraag as kommentaar, maar sal wel ‘n voorstel wil maak! Ek is op soek na ‘n artikel wat julle gedoen het oor die Toskaanse boustyl in Suid-Afrika. Ek het geen idee in watter uitgawe of jaar dit gepubliseer is nie, maar onthou hierdie artikel. Vir hierdie rede wil ek die voorstel maak dat julle miskien ‘n argief opstel met goeie soekenjin op die webblad.

    EK sal dit baie waardeer as julle moontlik vir my die artikel kan e-pos, of selfs ‘n kopie van daardie uitgawe kan stuur? Ek is bereid om hom te koop as moontlik.

    Baie dankie by voorbaat

    Doreen de Klerk

  • nadine gesê:

    Baie dankie vir jou voorstel Doreen, ons is tans besig om soveel as moontlik van ons artikels te laai, sodat artikels soos die een hierbo genoem, weer besoek kan word en deur oud en nuwe lesers raak gesien kan word. Ek probeer om die artikel vir jou op te spoor en sal jou kontak sodra ons die regte een gevind het. Groete

  • Trina gesê:

    Wallace explained the importance of nature by explaining the relationship between
    the Man and Nature. Once she moved 1931 to Krakow with her
    family, she lived and worked there since her death in
    February of last year. There are many famous author books
    published on poems.

Lewer kommentaar!

Voeg jou kommentaar onder die artikel by of vanaf jou eie webtuiste. Jy kan ook op hierdie kommentaar skryf in deur RSS.

Speel mooi, hou dit skoon. Bly op die onderwerp. Geen gemorspos.

Jy kan van die volgende gebruik maak:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Hierdie is 'n Gravatar-geaktiveerde webblog. Vir jou eie internasionaal erkende avatar, registreer asseblief by Gravatar.