DEKAT-TV 2013

DEKAT WEER OP TV
Ná ons suksesvolle televisieseisoen op kykNET wat in Januarie vanjaar ten einde geloop het, het DEKATv se splinternuwe reeks op 28 Julie weer op kykNET afgeskop!
Weer met ’n keur van kuns, skrywers, kultuurskatte, kos, wyn, erfenisbewaring, eksentrieke karakters, subkulture en Suid-Afrikaanse ikone. Kyk elke Sondagaand om 18:00.
DEKAT-TV word aangebied en vervaardig deur dieselfde span wat vir DEKAT-tydskrif se voortreflike gehalte verantwoordelik is – ’n handelsnaam wat al 27 jaar lank met uitnemendheid vereenselwig word. Elzilda Becker, uitgewer van DEKAT-tydskrif, is die uitvoerende vervaardiger en Melanie Tait, eindredakteur van DEKAT-tydskrif, die aanlynvervaardiger.
“DEKAT-TV beloof om weer treffend en oorspronklik te wees, in pas met die DEKAT-kultuur – uitsonderlike stories wat aangebied word met ’n onverwagse en vars invalshoek,” sê Becker.
Die insetsels is gegrond op artikels wat deur DEKAT se eie joernaliste nagevors en geskryf is. Die aanbieders sluit in DEKAT-joernaliste en medewerkers. “Elkeen is ’n spesialis op sy/haar gebied en beloof om met hul kundigheid en ervaring geloofwaardigheid aan elke storie te gee,” beklemtoon Becker.
“DEKAT-TV is ’n droom wat bewaarheid is vir elke DEKAT-werknemer, -adverteerder en geesdriftige en toegewyde leser. Ervaar die wêreld wat jy gedink het jy ken op ’n manier waarvan jy nooit kon droom nie – en kom skep asem elke Sondag op die vars en verrassende DEKAT-manier,” nooi Becker. Vir navrae kontak melanie@dekat.co.za










