Medical Aesthetics
Nommerpas behandeling
Het jy al ooit gewonder waarom jou vel ander resultate getoon het as dié van jou vriendinne, ten spyte van die feit dat julle vir dieselfde behandelings gegaan het en dieselfde hoeveelheid geld spandeer het? Die antwoord is eenvoudig – dit is net ’n mite dat alle veltipes dieselfde op behandelings sal reageer! Die laserbehandeling wat wonders vir jou vriendin verrig het, mag totaal oneffektief vir jou wees net omdat sy ’n ligter velskakering het.
Een van die belangrikste stappe wat dermatoloë en velsorgspesialiste moet neem voordat hulle ’n velsorgprogram vir jou kan saamstel, is om jou vel te analiseer en jou spesifieke veltipe vas te stel.
Dokters wat spesialiseer in velsorg en ander velsorgspesialiste gebruik velanalise en -klassifikasie om die gepaste behandelingsprogram vir individue saam te stel, nie net om die optimale resultate te verseker nie, maar ook om moontlike newe-effekte uit te skakel, want die interaksie tussen ons genetiese samestelling en ons spesifieke omgewing maak dat ons vel van ander s’n verskil. Deur middel van velanalise kan velsorgspesialiste die voggehalte, digtheid, tekstuur, en kleur bepaal. Hulle kan verder ook enige velprobleme soos puisies, swartkoppies, rosacea, pigmentasie, olierige vel, velsensitiwiteit, plooie, sweetgaatjies en sonbeskadiging vasstel.
’n Diagnostiese apparaat wat dikwels vir velanalise gebruik word, is die Woodslamp of Visia-velanalise-apparaat. Die diep ultravioletstrale word in ’n baie donker kamer op die vel geskyn, sodat die onderliggende dele van die vel helder verlig word. Hiermee kan die dokter droë, beskadigde vel van normale, gesonde vel onderskei. Hormonale pigmentasie kan ook geïdentifiseer en geklassifiseer word, ’n baie belangrike klassifikasie om suksesvolle behandeling te ontvang.
’n Ander metode van klassifikasie is die Fitzpatrick-klassifikasie waarmee die verskillende veltipes geëvalueer word vir toepaslike laser-behandeling en dan geklassifiseer word in tipe I, II, III, IV, V en VI. So byvoorbeeld sal die Fitzpatrick-klassifikasie vir sonsensitiewe velle gebruik word wanneer jy ’n velsorgkliniek besoek omdat jy graag jou sonbeskadiging wil behandel of verbeter. Dit sal die hoeveelheid melanien, sowel as die vel se vermoë om melanosiete te vervaardig as ’n reaksie op sonblootstelling, bepaal. Die dokter sal verder ook die effek op jou spesifieke veltipe in ag neem voordat ’n spesifieke laserbehandeling vir jou aanbeveel word. Hulle sal ook kan bepaal of jy moontlike newe-effekte ten opsigte van pigmentveranderinge sal ontwikkel. Baie lasers, veral dié wat gebruik word vir haar- en pigmentverwydering, kan ’n interaksie toon met die melanien in sekere individue se veltipes.
Die verskillende veltipes, geïdentifiseer deur die Fitzpatrick-klassifikasie, reageer verskillend op omgewingsfaktore en het dus verskillende pro-dukte, behandelings en aktiewe velsorgbestanddele nodig. Mense met veltipe I is gewoonlik bleek, met blonde of rooi hare, sproete, blou oë en geneig om erge sonskade op te doen met blootstelling aan ultravioletstrale. Hulle brand gewoonlik baie maklik, sonder om ooit regtig bruin te word. Hierdie veltipe is baie vatbaar vir voortydige veroudering en velkankers (insluitend melanoom, die dodelikste tipe velkanker) en mense met veltipe I moet dus baie versigtig wees in die son, altyd ’n room met ’n sonskerm in dra en hulle altyd teen die skadelike UV-strale beskerm. Buitensporige blootstelling aan die son kan tot ernstige skade, voortydige veroudering en velkankers, soos skubvormige selkanker (SSK), basale-selkarsinoom (BSK) en melanoom. Die beste velsorg vir veltipe I is om sonblootstelling tot ’n minimum te beperk deur gereeld produkte te gebruik wat titaniumdioksied, sinkoksied of avobensoon bevat.
Interne sonbeskerming kan verkry word deur byvoegings te drink soos Poliepodium leukotomas en Pycnogenol, wat sonbeskerming sal bied, weerstand teen sonskade sal verhoog, asook beskerming teen velkankers sal bied. In teenstelling met veltipe I, het mense met veltipe VI donker velle en is gewoonlik afstammelinge van Afrika. Chroniese sonblootstelling in hierdie veltipe lei dikwels tot oneweredige velkleur en pigmentasie. Veltipe VI reageer ook verskillend en soms baie erger op algemene velsiektes soos puisies, ekseem, velinfeksies, psoriase en skilfers, wat kan aanleiding gee tot moontlike probleme met pigmentasie, oneweredige verdonkering of verligting van die velkleur, weens die stimulasie van melanien, ’n dinamiese proses wat vinnig reageer op verskillende stimuli. Dit veroorsaak dat die vel meer reaktief is teenoor enige impak, wat dan kan lei tot donker merke, bekend as na-inflammatoriese hiperpigmentasie (NIH). NIH kan jare neem om te verdwyn, daarom is die dra van ’n daaglikse sonskerm essensieel om NIH te voorkom. Die beste velsorg vir veltipe VI is om uit die son te bly gedurende die piektye van 10:00 – 16:00 en om elke dag ’n sonskerm met SPF 15 – 30 te dra. Ondanks bleikrome en afskilfering-behandelings is die pigment in NIH baie koppig en langblywend. Nuwe pigmentasiepeptiedes en ander aktiewe bestanddele soos arbutien, kojieksuur en nikotinamied kan met veiligheid gebruik word en sal nie lei tot die sensitiwiteit wat met tradisionele bleikrome soos retinoïensuur en hidroquinien geassosieer word nie. Wanneer die pigment nie op die plaaslike depigmentasie-produkte reageer nie kan dit dalk nodig wees om vir behandelings te gaan sodat die toepaslike chemiese afskilfering en Laser Genesis-prosedure aangewend kan word met ’n verlengde pols Nd:YAG wat baie veilig is vir alle veltipes, insluitend veltipe VI.
Volgende keer wanneer jy in ’n velsorgkliniek inloop, maak seker dat jou vel deur die velsorgspesialis geanaliseer word voordat daar met enige behandelingsprogram begin word. Besoek www.skinrenewal.co.za











