DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Kuns & Kultuur

‘n Reis na verlossing

op 19.05.11Geen Kommentaar

Die Afrikaanse rolprentbedryf  het nog selde die grootwordproses en die verlies aan onskuld so brutaal beeldskoon en aangrypend uitgebeeld soos in Paul Eilers se rolprent  Roepman, skryf  Leon van Nierop.

Die goeie nuus is dat Oliver Hermanus se Skoonheid met die ter perse gaan met groot lof na die Cannes-rolprentfees gestuur is. Dit is die eerste keer dat ’n Afrikaanse rolprent hierdie invloedryke fees haal. Paljas is wel destyds na die Oscar-komitee in Los Angeles gestuur vir oorweging, maar het ongelukkig nie die paal gehaal nie. Tsotsi is natuurlik in Engels. Maar indien daar nóg ’n Afrikaanse rolprent is wat verdien om die buiteland te verower, en wat sy buiging op internasionale rolprentfeeste moet maak, is die Paul Eilers se Roepman, gegrond op Jan van Tonder se roman. Hier loop ons saam met ’n twaalfjarige seuntjie op diep spore terug na die hart van apartheid. Hierdie paadjie word ’n ompad wat afdraai na sy verlies van onskuld. Parallel met sy storie word die verhaal ook vertel van die Afrikanervolk wat sy onskuld verloor met die moord op dr. H.F. Verwoerd. Hierdie twee verhale  vorm die ruggraat van Roepman.

Roepman se spoorweggemeenskap vorm ’n mikrokosmos van die Afrikaner se kultuur en gewoontes van die jare sestig. Simbolies (en ook ironies!) is die roepman van die titel wat moet sorg dat spoorwegwerkers nie verslaap nie. Hy kan as ’n metaforiese outsider-figuur gesien word wat ook probeer om die Afrikanervolk wakker te skud uit hul sluimerslaap waar die patriargale stelsel (soos verteenwoordig deur die volksvader dr. Verwoerd) oorheers. Die seuntjie Timus (uitstekend vertolk deur Paul Loots) is ’n waarnemer van die skokgolf wat die gemeenskap trek ná Verwoerd se begrafnis. Sy rebelse suster wil uitbreek uit haar streng ouerhuis waar sy nie eens op haar verjaardag mag dans nie. Daar is ook die jong man, gespeel deur Andrew Thompson,  wat kamtig Timus se speelmaat wil wees, maar duistere motiewe het. Tussenin is die treindrywers wat elke dag treine dryf wat eintlik nêrens heen gaan nie, amper soos die karakters in Katinka Heyns se Paljas. En daar is die moedige ma, ’n indrukwekkende vertolking deur Rika Sennett, wat immer die vrede probeer bewaar. Sy moet daagliks toesien hoe haar kinders emosioneel verniel en gekneus word. Sy kan nie wag om hierdie verstikkende atmosfeer te verlaat nie want sy self wag op verlossing, nes Katrien in Paljas, maar die treine hou nooit vir haar stil nie.

Roepman handel dus oor karakters se reis na verlossing. Tot dusver het hulle in ’n sluimerslaap verkeer deurdat hulle apartheid gelate aanvaar het, want die Eerste Minister weet mos die beste, nes pa. ’n Mens bevraagteken mos nie sy gesag of sy opdragte nie. Maar dit kos ’n byna verkragting of moord om mense wakker te skud. Paul Eilers bewys dat hy ’n doodgewone, aardse gemeenskap met deernis en piëteit kan uitbeeld sonder om vinger te wys, te preek of die karakters te verneder met neerbuigende regie. Sy aanslag is sober en gestroop van enige melodrama of foefies. Die rolprent staan des te meer uit omdat die Afrikaanse rolprent die afgelope twee jaar vertroebel is deur oulike kindertjies wat bloot daar is om te versier (Jakhalsdans). Maar selde in die Afrikaanse rolprentbedryf is die grootwordproses en die verlies aan onskuld so brutaal beeldskoon en aangrypend uitgebeeld soos hier. Net Fiela se kind en Paljas het kinders die afgelope 20 jaar met soveel respek en deernis behandel.

Roepman is ’n veelvlakkige rolprent wat nie met stereotipes werk nie. Niks is wit of swart nie – dit kyk na die grys land tussenin. Die rolprent ontgin ook die innerlike landskappe van sy karakters op ’n nugter en sober manier en beeld skokkende en gewelddadige tonele in ’n mineursleutel uit – amper soos die Europeërs en die Australiërs. Moet egter nie dink dat Roepman by die Europeërs geleen het nie. Hoegenaamd nie! Dit is ’n tipiese en trots (Suid-)Afrikaanse rolprent met sy eie styl – een wat vierkantig langs die van Katinka Heyns en Jans Rautenbach kan staan as een van die beste rolprente in die 113 jaar wat rolprente plaaslik vervaardig is.

Onlangs het die Afrikaanse rolprent ongelukkig ’n effense afplatting ondergaan. Huidige musiekprente bou voort in die tradisie van  Liefling of sit vulgariteite voort soos  Bakgat 2 en die gevaar word geskep dat ons rolprente eenselwig kan word en bloot vir loketgewin gemaak word. Gelukkig kan Roepman nie hiervan beskuldig word nie.Dit neem die Afrikaanse rolprentganger uit sy gemaksone na ’n plek waar hy destyds met  Paljas laas was. En goddank word daar nie ’n enkele liedjie gesing nie, (behalwe as kommentaar op die klankbaan), nog minder is die dialoog soetsappig of voorskrywerig. Die rolprent bekyk godsdiens ook uit ’n kritiese perspektief en vra die vraag: gebruik hierdie mense godsdiens soos dit hulle pas of glo hulle werklik aan die God van liefde en vergiffenis? Of wag hulle, soos die sondaars in Christus se tyd, op ’n verlosser?

Met Oliver Hermanus se  Skoonheid wat nou soveel naam en opgang maak, staan Roepman vierkantig langs hom as ’n Afrikaanse rolprent wat ’n ding op sy naam noem en nie skroom om skokkende of veelbesproke onderwerpe kaalkop te hanteer nie. Uiteindelik het die Afrikaanse rolprent grootgeword!

Be Sociable, Share!