DK
DKW

Hoofartikel

Kuier

Kuns & Kultuur

TV

Tuisblad » Wyn

Wynnuus

op 2.04.12Geen Kommentaar

Oespret

Die Bosman Long Lunch Fairtrade-viering, wat tydens die jaarlikse Wellington Wyn Oesfees op 17-18 Maart plaasgevind het, was ’n reusesukses met meer as 20 kelders wat deelgeneem het. Meer as 1 500 gaste het die heerlike Bolandse weer geniet tydens hul besoek aan hierdie prentjiemooi plaas in die Kaapse wynlande met sy pragtige wynkelder.

Meer as 4 500 mense het die oorvloed van die Wellington-wynroete geniet tydens die 6de Wellington Wyn Oesfees. Onvergeetlike kos, voorste wyne van 2010 se Top Terroir-wynarea en lekker lewendige musiek deur bekendes in die bedryf, soos Arno Carstens, Gerhard Steyn en Die Heuwels Fantasties, het vir ’n uitbundige atmosfeer gesorg wat oud en jonk in ’n lekker luim gelaat het.

Die feesvieringe het Vrydagaand amptelik afgeskop met die inseëning van die oes, gevolg deur ’n program propvol aksie vir die hele gesin.

Piekniek in die wingerd

Nederburg se Oespiekniek het op ’n pragtige somersmiddag afgeskop met gaste wat druiwe met die hand gepluk het en later met die voete getrap het. Die smaakreis van druif tot bottel is voortgesit met ’n mos-proe, asook oesjare uit die Nederburg-wynreeks. Met die son wat oor Paarlberg gesak het, is die piekniekmandjies uitgebring en komberse op die gras oopgegooi terwyl sterling EQ onder die halfmaan musiek gemaak het.

Spesiale FMC vir High Timber

Die onbekroonde Chenin-man, Ken Forrester van Ken Forrester Wines, het ’n eksklusiewe FMC Moelleux 2010 vir die VK restaurant, High Timber, gemaak. Die wyn het in die voetspore van die bekende FMC gevolg toe Ken en sy sakevennoot en wynmaker, Martin Meinert, een van die vate van die FMC gebruik het om hierdie wyn te maak. Die FMC Moelleux 2010 is slegs by High Timber te proe, wat aan wynmakers Kathy en Gary Jordan van Jordan Winery behoort.

Nuwe jas

Die 312-jaar oue Vergelegen buite Somerset-Wes het die eerste fase van die nuwe wynproelokaal en bistro-styl restaurant, The Stables, voltooi. Die atmosfeer is familie-georiënteerd, gemaklik en ontspanne. Die vorige Vergelegen-restaurant word nou omskep in ’n formele eetbestemming wat ’n tuin en innoverende speelplek vir kinders gaan insluit.

Op julle merke …

Die Go Wine Explore-kaart is ’n nuwe inisiatief vir wynliefhebbers wat jou sal toelaat om ses uit 14 kelders of wynhandelaars in die wynland te besoek waar jy ’n gratis wynproe vir twee, asook ’n gratis bottel wyn ter waarde van R100 sal ontvang. Die kaart is geldig vir een jaar vanaf datum van aankope en kos R295 vir twee volwassenes. Die Go Wine Explore-kaart is te koop by die toerismekantoor in Kaapstad of  Stellenbosch of aanlyn by www.gocards.co.za.

Be Sociable, Share!